Deuteronomium 31

Daar is 2 dinge wat my tref as ek hierdie gedeelte lees…

“Wanneer Ek vir Israel gebring het in die land wat Ek aan sy voorvaders met ’n eed beloof het, die land wat oorloop van melk en heuning, sal Israel genoeg eet en lekker lewe en dan sal hy ander gode aanhang en hulle dien. Hulle sal My minag en my verbond verbreek. Wanneer baie plae en rampe hom dan tref, sal hierdie lied teen hom getuig, want dit sal nie deur sy nageslag vergeet word nie. Ek weet wat daar vandag in Israel se hart omgaan, hier net voordat Ek hom inbring in die land waaroor Ek ’n eed afgelê het.”” Deut 31:20-22

In die eerste plek is dit vir my opvallend dat die Here geweet het dat die volk ontrou sou word sodra hulle die beloofde land sou ingaan – en tog help Hy hulle steeds. Hy wys ‘n goeie leier vir hulle aan en staan hulle by.

Dit moes sy hart gebreek het om te weet dat hulle Hom sou vergeet sodra dit met hulle begin goed gaan. En nogtans gaan Hy voort om hulle te help…

Is dit nie ‘n wonderlike voorbeeld van die vryheid wat God vir die mens gee nie? Hy beheer nie ons besluite en aksies om Hom te pas nie. Al ken Hy die toekoms, meng Hy nie in met ons selfstandigheid nie.

Wat ‘n wonderlike voorreg is dit darem om só ‘n God wat soveel respek vir sy skepping toon, te dien!

Die tweede wat my opval is die gevaar van voorspoed. In ons dag en tyd is ons dikwels bekommerd oor lyding. “Gaan swaarkry nie dalk veroorsaak dat mense in God begin twyfel nie?”, wonder ons.

Dit gebeur natuurlik! Maar moenie dink dat voorspoed die antwoord vir ‘n stewige geloof is nie. Dit hou sy eie gevaar in. Hier – soos elders ook in die Skrif – skuif God se volk Hom op die agterste sitplek toe dit begin goed gaan.

Wat is die kans dat my gemak, gerief en luukshede struikelblokke in my proses om God te volg, word?

Posted in 5.) Deuteronomium | Tagged , | Comments Off on Deuteronomium 31

Deuteronomium 30

Vanoggend dink ek na oor die Skrifgedeelte wat lui: “Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.” Deut 30:11-14

Die woordjie “naby” val my op. Moses het gesê God se gebod is naby aan die volk. Die geskiedenis het getoon dat dit steeds te vêr (moeilik) vir die volk was om te onderhou.

Maar Jesus het God se wil werklik naby gebring. Tot binne ons. Hy leef in ons.

En hoe waar is dit darem nie, as vers 20 lui: “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee”

‘n Lewe wat God verwerp, beleef die konsekwensies daarvan. Maar as ons Jesus toelaat om déúr ons God se wil te leef, bring dit waarlik lewe.

Posted in 5.) Deuteronomium | Tagged | Comments Off on Deuteronomium 30

Deuteronomium 16

In hoofstuk 16 word die bepalinge vir 3 feeste gegee: die Paasfees, die fees van weke en die huttefees.

Die fees van weke is die een wat my vandag baie opval. Dit het ook bekend gestaan as die Oesfees, omdat dit aan die inbring van die graanoes gekoppel was. Die ander doel van die fees was om die dag waarop die Wet in ontvangs geneem is, jaarliks te vier. Dit moes presies 7 weke na afloop van die Paasfees gevier word. Vandaar het dit dan ook begin bekendstaan as “Pinkster”, want die “penta” het na die 50 dae verwys.

In die Nuwe Testament word die Heilige Gees interessant genoeg op die vyftigste dag na die Paasfees uitgestort. ‘n Ander ooreenkoms is dat die uitstorting van die Gees, ten nouste betrekking het met die insameling van die oes.

Maar daar is ook ‘n skrille kontras tussen die pinkster van die ou testament en díe van die Nuwe Testament: In die Ou Testament het 3000 mense gesterf die dag toe hulle die Wet in ontvangs geneem het. Die dag toe die Heilige Gees egter gegee is, het 3000 mense tot bekering gekom.

Daarom kan Paulus sê dat die Wet gekom het deur die dood, maar dat die Gees lewe bring. Die nuwe bedeling is dus in elke opsig beter.

Daar is dus belangrike ooreenkomste en verskille tussen die fees van weke en die pinksterfees van die Nuwe Testament. Wat my spesifiek vandag opval, is die beweegrede waarom die fees in die Ou Testament gevier moes word.

Vers 10 sê dat jy die fees moes onderhou en ‘n vrywillige offer moes bring, tot die mate waartoe die Here jou met voorspoed geseën het. Dit is vir my interessant dat dankbaarheid die beweegrede moes wees, en dat daar nie ‘n spesifieke voorskrif aan die offer gekoppel was nie. Dit was vrywillig. Jy kon self besluit. In vandag se tyd sou ons sê jy kon jou deur die Gees laat lei. Dit is vir my so tipies en gepas van ‘n fees wat sinspeel op die bedeling van die Gees.

Maar hoe evalueer jy hoe goed die Here vir jou was? Ek meen, sodra jy aan iets dink wat Hy vir jou gedoen het, dan lei jou gedagtes na nog iets, en nog iets en nog iets. Na ‘n ruk besef jy dat alles wat jy het – jou hele bestaan – aan Hom te danke is. Hoe gee mens ‘n offer wat hieraan reg laat geskied? Al wat jy eintlik kan doen – wil doen – is om alles te gee. Jouself te gee. Oor te gee.

Posted in 5.) Deuteronomium | Tagged , | Comments Off on Deuteronomium 16

Markus 12

In hierdie hoofstuk kom een na die ander groep geestelike leiers na Jesus toe, en elkeen probeer Hom vasvra. Jesus word behoorlik gepeper met al die vrae.

Op ‘n stadium skets een van die groeperinge wat nie in die hiernamaals glo nie, ‘n bisarre scenario waar ‘n vrou 7 keer op aarde trou, en dan het die uiteindelike vraag betrekking op met wie sy dan nou eintlik in die hiernamaals getroud gaan wees.

Die vraag is aspris. Dit is bedoel om absurd te wees, want hulle wil die geloof in ‘n hiernamaals probeer belaglik maak.

Ons kry hierdie gedrag vandag nog wanneer mense met mekaar verskil. Baie gou sal jy sien dat iemand ‘n ekstreme voorbeeld noem in ‘n poging om die ander persoon se argument skade te berokken.

Maar Jesus se reaksie op hierdie voorbeeld van hulle is legendaries!

Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie? (Mark 12:24)

Ek dink baie na oor hierdie opmerking van Jesus. Ek wonder of dit nie presies is wat met vandag se Christene verkeerd is nie.

Ons sit met ‘n groep gelowiges wat “oop is vir die krag van God”. Hulle beperk nie sy vermoë nie. Hulle glo God kan enige iets doen.

Die probleem is dat hierdie oortuiging nie altyd geanker is in die sekerhede van God se Woord nie. In ‘n poging om God nie te beperk nie, word daar baie van mistiek gemaak. God kon netsowel ‘n naamlose skeppende-krag gewees het. Ons moet die onbegrensbaarheid van God bewonder – en verkieslik oor Hom bly wonder. Mag ons in hemelsnaam daarvan behoed word om ooit met te groot sekerheid te praat oor hoe God is. Ons kan Hom nooit “vasvang” nie. Of so voel hierdie groep gelowiges.

Dan is daar die ander groep gelowiges. Hulle ken die Skrif. Hulle teologie is goed en suiwer. Hulle opleiding is moeilik. God se geskrewe Woord, het vir hulle ‘n kliniese oefening geword. Daar is min ruimte vir God om te beweeg, buite die verstaansveld van die hoogere teoloog.

Dit lyk vir my Jesus wou hê dat altwee hierdie fasette in die lewe van die gelowige in ewewig moet wees. ‘n Diepe kennis van God se Woord – asook ‘n groot openheid vir ‘n beweging van Sy Gees.

Posted in 41.) Markus | Tagged | Comments Off on Markus 12

Markus 11

Ek is in ‘n Gereformeerde kerktradisie en het baie waardering vir die kerkgroepering waarin ek staan. Maar ek dink geensins dat ons die enigste groepie Christene is wat die Here reg hoor nie.

Ek het al baie by Christene uit ander kerktradisies geleer. Die manier hoe hulle oor God nadink – asook dit wat hulle in die Bybel raaklees.

Neem byvoorbeeld die Charismatici se klem wat hulle lê op die belangrikheid om geloof te spreek. Dit maak dikwels vir Gereformeerdes soos myself ongemaklik – die byna astrante houding waarmee “lewe gespreek” word.

Ons ken dit nie. Ons is meer gewoond daaraan om ‘n diepe afhanklikheid teenoor die Here uit te spreek. Ek dink dit is ook reg so – daar is immers vele Skrifgedeeltes wat ‘n nederige, eerbiedige houding aanmoedig.

Maar dit beteken nie dat my Charismatiese broers en susters verkeerd is nie. Daar is ook Skrifgedeeltes wat hulle onwrikbare vertroue uitbeeld.

Neem byvoorbeeld Markus 11:22-24

Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

Charismatici is heeltemal reg as hulle ons daarop wys hoe belangrik dit wat jy sê, in hierdie gedeelte word. Jou woorde word as’t ware die eerste plek waar jou geloof sigbaar word.

Natuurlik is daar gevaar in hierdie teologie. Die bekendste dwaling is sekerlik die “name it & claim it” beweging, wat gekenmerk word deur welvaartsteologie. Hiervolgens hoef jy net die regte woorde te spreek om ryk en gesond te word.

Bogenoemde is natuurlik vals. Dit is ‘n gevaarlike dwaling.

Maar kanselleer dit die waarheid van die teks, om te let op dit wat uit jou mond kom? Nee glad nie. Daar is inderdaad krag in ons woorde. Selfs Gereformeerdes soos ekself weet dit, want dit is hoekom ons mense aan die einde van elke erediens “seën”.

Ek word dus deur my Charismatiese broers en susters gesensitiseer vir die belangrikheid om geloof te spreek. Hierdie teks is maar een van vele wat daardie waarheid onderstreep.

Posted in 41.) Markus | Tagged | Comments Off on Markus 11

Jeremia 7

As daar al ooit ‘n Skrifgedeelte was wat die mens teen vormgodsdiens waarsku, dan is dit hierdie een…

Die Judeërs het houtgerus met hulle lewens voortgegaan. Hulle het gedink Jerusalem sal nooit kan val nie. Hoekom nie? Want God se tempel is in Jerusalem!

God se tempel het vir hulle iets soos ‘n “gelukbringer” geword. God sou tog sekerlik nie toelaat dat die stad deur vyande ingeneem word nie? Dan sou die tempel immers in die hande van goddeloses val.

Daar het dus ‘n valse gerustheid by die volk ingetree. Hulle kon leef soos hulle wil, sonder dat daar regtig die gevaar van konsekwensies is. God was immers binne hulle stadsmure ingesluit.

Maar niemand – niemand – hou God gyselaar nie. God is nie gepla met die uiterlike vertoon van godsdiens nie. Hy stel nie belang om ‘n seremoniële plek in ons lewens te beklee nie. Hy begeer om die murg in ons bene te wees, of niks anders nie.

Daarom lei Hy Jeremia om te së…

So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring.
JEREMIA 7:3‭-‬6 AFR83

Ons doen dikwels dieselfde vandag. Ons dink God is beskerming aan ons verskuldig, selfs as ons sonde doen. God moet ons seën, selfs as ons lankal nie meer sy koninkryk soek nie, maar ons eie.

Posted in 24.) Jeremia | Tagged | Comments Off on Jeremia 7

Jeremia 1

Daar is baie wat mens in Jeremia 1 opval: Die Here wat die profeet reeds voor geboorte gekies en bestem het. Die profeet se selfkritiek dat hy te jonk is. Die Here se bevestiging dat wat hom bekwaam maak, nie sy bekwaamhede is nie maar die feit dat God hom gekies het.

Wat vanoggend vir my egter baie betekenisvol is, is die gesig van die amandeltak wat die profeet sien. Amandelbome het in die lente begin bot lank voordat ander bome bot. As jy al die ander weerstoestande in aanmerking neem, sou dit vir jou lyk asof dit nog winter is. ‘n Bloeisel op ‘n amandeltak sou vir jou heeltemal verdwaal en uit plek kon lyk – asof hierdie boom homself misgis. Tog is die lente waarlik op pad.

Die Here gebruik hierdie visioen om vir Jeremia te bemoedig: Hy sal nie Jeremia daarvan beskaam laat afkom nie. Hy sal doen wat Hy onderneem het om te doen – al lyk dit vir niemand anders asof dit moontlik is nie.

Vandag nog vind ons dit moeilik om die Here op sy Woord te neem. Hy sê ons is vergewe – maar dit voel nie vir ons so nie. Hy sê Hy sal voorsien – maar dit lyk nie vir ons of daar uitkoms in sig is nie. Hy sê Hy is naby – maar dit voel of Hy ver is. Hy sê Hy sal ons beskerm – maar ons bly bang.

Geloof is om die amandeltak te glo. Geloof is om aktief te wag op die Here. Geloof is om God op sy Woord te neem en in sy beloftes te rus.

Posted in 24.) Jeremia | Tagged , | Comments Off on Jeremia 1

Esra 4

Dit is ‘n gemene ding wat in Esra 4 afspeel. Die Noordelike bure van Jerusalem, Samaria, bied hulp aan om te help herbou. Hulle voer aan dat hulle tog ook die Here dien.

Hulle dien inderdaad die Here, maar nie die Here alleen nie. Hulle gedeelde toewyding sal ‘n gevaar vir die volk inhou, en dit is juis oor ‘n gebrek aan onverdeelde trou dat die Here hulle in ballingskap laat wegvoer het.

Die volk weier daarom die hulp van die Samaritane, en toe gaan steek die Samaritane die volk toe, by die Kores. Hulle rig ‘n brief aan hom wat sê dat die volk nie van plan is om belasting te betaal sodra hulle die stad klaar herbou het nie.

Koning Kores gee opdrag dat alle bouwerk dadelik gestaak word, en hierdie opdrag voer die Samaritane smalend met groot vreugde uit. Teleurstellings, teenkanting en terugslae. Dit alles kan ons verwag gaan in hierdie lewe gebeur. Soos ons egter ook in die volgende hoofstukke sal sien, hou mens nie op vorentoe beur omdat jy druk beleef nie. Jy druk terug en hou aan met die goeie.

Posted in 15.) Esra | Tagged | Comments Off on Esra 4

Esra 3

In Esra 3 begin die klein oorblyfsel van die volk wat teruggekeer het, om die tempeldiens te hervat. Daar is hoofsaaklik 3 dinge wat vir my uitstaan:

Eerstens is dit opmerklik dat hulle die bepalings en stipuleringe van die Wet, so goed as moontlik probeer nakom met betrekking tot offers. God se Woord is hulle rigsnoer hoe om dinge te doen.

Tweedens is dit lekker om die meelewing te sien. Elkeen het ‘n verantwoordelikheid. Almal is betrokke. Hulle treë soos een man op (3:1). Dit is nie net die priesters wat die “Show run” nie.

Derdens kan mens nie help om die blydskap raak te sien nie. Dit word telkemale herhaal dat hoe bly die mense was.

Ek sit en dink wat mens uit hierdie Skrifgedeelte leer oor die “herbou van die Kerk” in hierdie COVID-19 tyd.

Die Bybel bly ons rigsnoer. Dit is nie ‘n dominee-kerk nie, maar ‘n Liggaam van Christus. Wanneer ons dien, dien ons met blydskap.

Posted in 15.) Esra | Tagged | Comments Off on Esra 3

Esra 2

Hoofstuk 2 van Esra bevat ‘n gedetailleerde lys van name en getalle van mense wat bereid was om terug te keer na Jerusalem. Voor mens jou kan keer, is jy besig om oor die lys name te vluglees – asof dit onbelangrik is.

Dit mense in die lys mag miskien onbekend wees, maar hulle was nie onbelangrik nie. Dit was die mense wat uit vrye wil gekies het om terug te keer Jerusalem toe. Onthou, baie mense het gekies om eerder te bly waar hulle is. Hulle was nou na soveel jare gevestig in die vreemde. Hulle het begin om geld te maak. Om nou weer wortels te lig en van vooraf te begin, het baie moeilik geklink. Net die reis terug na Jerusalem sou ongeveer 4 maande duur. Jy sou deur onherbergsame terrein met jou familie moes trek, verby naburige volke wat jou nie goedgesind is nie en wat jou op enige stadium sou kon aanval. Tog was die mense in hierdie lys name, bereid om te gaan. Hulle het gevoel die Here roep hulle om ‘n besondere werk te gaan doen: Bou die tempel!

In die Nuwe Testament word gelowiges boustene van die tempel van God genoem. Hulle is lewende stene (1 Pet 2:5).

Ek wonder of ons nie ook vandag geroep word om te “onttrek” uit die wêreld waar ons leef, en terug te keer na ‘n lewe waar God gedien word nie? Die lewe waaruit ons moet kies om te onttrek, is ‘n gesekulariseerde lewe. God roep gelowiges uit daardie lewe, terug na ‘n lewe waar Hy gedien word.

Gehoorsaamheid aan God is ‘n vrye keuse. Dit sal gepaardgaan met opofferings en moeilikhede. Maar die wete dat jy in God se wil is, maak dit alles die moeite werd.

Posted in 15.) Esra | Tagged | Comments Off on Esra 2