5.) Deuteronomium

Deuteronomium 31

Daar is 2 dinge wat my tref as ek hierdie gedeelte lees…

“Wanneer Ek vir Israel gebring het in die land wat Ek aan sy voorvaders met ’n eed beloof het, die land wat oorloop van melk en heuning, sal Israel genoeg eet en lekker lewe en dan sal hy ander gode aanhang en hulle dien. Hulle sal My minag en my verbond verbreek. Wanneer baie plae en rampe hom dan tref, sal hierdie lied teen hom getuig, want dit sal nie deur sy nageslag vergeet word nie. Ek weet wat daar vandag in Israel se hart omgaan, hier net voordat Ek hom inbring in die land waaroor Ek ’n eed afgelê het.”” Deut 31:20-22

In die eerste plek is dit vir my opvallend dat die Here geweet het dat die volk ontrou sou word sodra hulle die beloofde land sou ingaan – en tog help Hy hulle steeds. Hy wys ‘n goeie leier vir hulle aan en staan hulle by.

Dit moes sy hart gebreek het om te weet dat hulle Hom sou vergeet sodra dit met hulle begin goed gaan. En nogtans gaan Hy voort om hulle te help…

Is dit nie ‘n wonderlike voorbeeld van die vryheid wat God vir die mens gee nie? Hy beheer nie ons besluite en aksies om Hom te pas nie. Al ken Hy die toekoms, meng Hy nie in met ons selfstandigheid nie.

Wat ‘n wonderlike voorreg is dit darem om só ‘n God wat soveel respek vir sy skepping toon, te dien!

Die tweede wat my opval is die gevaar van voorspoed. In ons dag en tyd is ons dikwels bekommerd oor lyding. “Gaan swaarkry nie dalk veroorsaak dat mense in God begin twyfel nie?”, wonder ons.

Dit gebeur natuurlik! Maar moenie dink dat voorspoed die antwoord vir ‘n stewige geloof is nie. Dit hou sy eie gevaar in. Hier – soos elders ook in die Skrif – skuif God se volk Hom op die agterste sitplek toe dit begin goed gaan.

Wat is die kans dat my gemak, gerief en luukshede struikelblokke in my proses om God te volg, word?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *