2 Kronieke 23

Hierdie is ‘n aangrypende, dramatiese hoofstuk! As jy al ooit gewonder het wat die term “paleisrewolusie” beteken, dan hoef jy net hierdie hoofstuk te lees. Dit is letterlik wat gebeur het…

Met die dood van koning Ahasia, vermoor sy ma – koninginmoeder Atalia – alle moontlike aanspraakmakers op die troon. Gevolglik word die magsbehepte Atalia koningin en leier van die land.

Onwetend aan haar, het ‘n prinses egter een van die kinders wat troonopvolger sou word, versteek. Hierdie prinses, Jehoseba, was getroud met die priester Jojada. Dit het vir hulle toegang gegee om die seuntjie Joas in die tempel tot op die ouderdom van 7 jaar te versteek.

Toe Joas 7 word, het Jojada ‘n rewolusie uitgevoer en Atalia onttroon. Die rede hoekom hierdie hoofstuk belangrik is, is omdat die Here belowe het dat daar altyd iemand uit die nageslag van Dawid op die troon sal wees.

Vir ‘n kort oomblik in die geskiedenis het dit gelyk asof daardie belofte nie van krag sal word nie. Maar dit was omdat niemand bewus was dat Joas nog leef nie. Die Here is egter ‘n waarmaker van sy Woord. Hy het beskik dat Joas – wat eintlik totaal passief in die hele verhaal is – die troon bestyg. Dit is in skrille kontras met Atalia wat in eie krag en geweld, probeer vasklou aan mag.

Ek leer uit hierdie verhaal dat wanneer dinge baie sleg lyk, dit steeds nie onmoontlik vir God is nie. Hy spesialiseer daarin om laagtepunte in hoogtepunte te verander.

2 Kronieke 22

Vandag se gedeelte laat mens diep nadink oor die mense wat ons toelaat om in ons lewens in te spreek. Kyk bietjie wat sê die Skrif oor die lewe van Ahasia…

“Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos die koningshuis van Agab, want na sy pa se dood was hulle sy raadgewers, en dit het sy ondergang beteken.
Dit was ook op hulle advies dat hy saam met Joram seun van koning Agab van Israel betrokke geraak het in ’n oorlog teen koning Gasael” (2 Kron 22:4-5)

Elkeen van ons het “raadgewers” in ons lewe. Besighede het ‘n “board of directors”. Hulle gee die toon aan en lewer inspraak in die lewe van die Uitvoerende hoof of die eienaar. In ons lewens is dit nie anders nie. Elkeen van ons het ‘n paar mense na wie ons luister. Hulle beïnvloed ons. Ons leen ons ore aan hulle uit, doelbewus of onbewustelik.

Die eerste vraag is dus: Wie is hierdie mense in my lewe? Een kan dalk ‘n familielid wees. ‘n Ander ‘n vriend.

As jy hulle klaar geïdentifiseer het, is die volgende vraag of hulle goeie raadgewers is. Dit kan dierbare vriende wees, maar swak raadgewers. Dit is nie noodwendig dat hulle oordeel van goeie smaak getuig nie.

‘n Kind van die Here moet baie versigtig wees wie hy/sy toelaat om in sy lewe in te spreek. Ahasia was nie daarop bedag nie, en dit het sy ondergang beteken.

2 Kronieke 21

Hierdie hoofstuk gee ‘n oorsig oor koning Joram se lewe. Die Kroniekskrywer is duidelik nie baie positief oor hierdie koning nie.

Joram se lewe lyk tipies soos iemand s’n wat baie hard probeer om die outeur van sy eie lewe te wees – en in die proses sy lewe vernietig.

Hy probeer byvoorbeeld sy koningskap versterk deur sy eie broers dood te maak. Maar dit laat die Here se woede teen hom ontvlam, en Elia die profeer stuur aan hom die boodskap dat hy nou juis sal sterf. Hy wou leef met die swaard – maar uiteindelik het die swaard (oorlog) die dood van sy vrouens en sy eie kinders veroorsaak.

Selfs die dinge wat Joram gedoen het wat dapper was, het nie so groot effek gehad soos wat mens sou verwag nie. Toe die Edomiete hom omsingel het, het hy in die aand gegaan en hulle kamp aangeval. Hoewel hy lewendig daarvan afgekom het, het die Edomiete tog onafhanklik geword (vers 10). Dit was asof die hand van die Here net nie op sy lewe gerus het nie – daar was nie guns in dit wat hy aangepak het nie, want hy het dit telkens in eie krag, vir eie selfbelang gedoen.

Hy is die patetiese prentjie van hoe desperaat iemand lyk wat probeer om ‘n “self made millionaire” te wees. Mens sien vandag nog sulke mense. Dit is mense wat vir hulleself lewe – alles wat hulle doen, doen hulle vir eie gewin – om self voordeel te trek en in die lewe opgang te maak.

Maar miskien moet mens nie te vinnig oordeel nie. Joram is maar net ‘n ekstreme prentjie van onsself. Die wortel van sy probleem, sit ook in ons lewe. Dit is net makliker om dit in iemand anders se lewe raak te sien. Laat ons dus baie attent daarop wees in ons eie lewe.

2 Kronieke 28

Die geskiedenis van Koning Agas lees soos een groot mislukking na die ander. Hy, as koning van die Suidelike ryk, was selfs meer ontrou aan die Here as die goddelose mense van die Noordryk.

Die Noordelike stamme van Israel het ten minste nog gehoor gegee aan die profeet Obed (vers 9). Maar dit lyk of Agas sy brood aan alle kante gebotter wou hê. Hy laat mens dink aan die Engelse gesegde: “The person who does not stand for something, will fall for anything”. Dit het letterlik van Agas waar geword.

Hy soek selfs hulp by die Assiriese koning – maar ook dit boemerang op hom. Die Assiriërs kom, maar nie om hom te help nie maar om hom te plunder. In Agas se pleidooi aan hulle, het hulle waarskynlik gesien hier is ‘n sagte teiken wat geplunder kan word.

Asof dit nie genoeg is nie, begin Agas toe offers bring aan die afgode van die Assiriërs. Die Bybel beskryf dit as volg:

“Toe dit so sleg met hom gaan, was hy, dié koning Agas, nog verder ontrou teenoor die Here. Hy het offerandes gebring vir die gode van Damaskus wat hom verslaan het, met die redenasie: “Die gode van Aramese konings het hulle gehelp; nou bring ek vir daardie gode offerandes dat hulle my ook kan help.”” 2 Kron 28:23

‘n Regte manteldraaier! Hy is soos ‘n kat op ‘n warm stoofplaat wat benoude spronge in alle rigtings maak. Hy spring egter in alle rigtings behalwe terug na die Here. Hy probeer so hard om sy brood aan alle kante gebotter te hou, dat dit presies die teendeel bereik. Die mense (en afgode) wat hy gehoop het bring vir hom en sy mense verlossing, maak van hulle slawe.

Dit is net so met ons. Ons mensgemaakte “messiasse”, dwing ons mettertyd onder ‘n juk van hulle eie. Daarom is Agas se lewe vir ons ‘n wekroep om ons oë slegs op die Here te hou – en standvastig daarin te bly.

Jeremia 43

In hierdie hoofstuk sien ons weereens onsself. Ons kyk nie hoogmoedig op die mense van hierdie hoofstuk neer nie, want ons weet ons almal het al hierdie fout gemaak.

Die volk het in die vorige hoofstuk vir Jeremia gevra om die Here te raadpleeg: Moet die oorblywendes in Juda agterbly en die gevaar van die koning van Babel in die oë kyk, of moet hulle na Egipte trek, en op so manier oorlog vryspring?

Jeremia het die Here geraadpleeg en na 10 dae het die Woord van die Here na hom toe gekom: Bly in Juda. Hy sal die koning van Babel goedgunstig maak jeens hulle, en Hy wat die Here is sal hulle volk herbou.

Maar die volk het reeds hulle koppe opgemaak: Hulle gaan trek! Toe Jeremia dus met ‘n boodskap na hulle toe kom wat hulle nie wil hoor nie, het hulle eenvoudig die boodskapper afgemaak. Hulle beweer dat Jeremia met Baruk saamgesweer het om so ‘n boodskap vir hulle te gee, sodat hulle weggevoer kan word.

Die les in hierdie hoofstuk is die volgende: As mens nie hou van die Here se boodskap nie, is ons geneig om dit te probeer “wegverklaar”. Ons sê dinge soos: “dit was bedoel vir ‘n ander tyd”, “dit is nie regtig wat bedoel word nie”, “my situasie is anders” of “die Here sal verstaan as ek in hierdie omstandighede dit anders doen”.

Dit is ‘n kroniese siekte van ons om die Here se Woord af te water, en ons moet konstant daarop bedag wees. ‘n Ander manier waarop ons dit doen, is om die boodskapper af te maak. As ons met iemand anders sou verskil wat die Here se wil op ‘n ander manier as ek interpreteer, dan is dit die maklikste om die verskil te verklaar deur die persoon se karakter onder verdenking te plaas. Ons verdink mekaar se motiewe en kry redes waarom ons nie mekaar ernstig hoef op te neem nie. Presies dit is wat hulle met Jeremia gemaak het.

Hulle optrede lyk nog meer belaglik as mens jou herinner aan hulle woorde in die vorige hoofstuk:

“Hulle sê toe vir Jeremia: “Die Here self sal die betroubare en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie alles doen wat die Here jou God jou opdra om vir ons te sê nie. Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur, sodat dit met ons goed sal gaan. Ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God.”” (Jer 42:5-6)

Hulle toewyding aan God en sy wil was waarlik van korte duur. Ons toewyding is waarlik van korte duur. En nogtans skryf die Here ons nie af nie – hou Hy aan om met ons ‘n pad te stap.

Johannes 10

Johannes 10 is bekend omrede dit die hoofstuk is waar Jesus na Homself as die “Goeie Herder” verwys. Maar bekendheid met hierdie gedeelte, veroorsaak dat ons maklik oor ander betekenisvolle gedeeltes lees sonder dat ons dit agterkom.

Dit tref my altyd dat Jesus in hierdie gedeelte eintlik 2 beelde gebruik. Hy sê Hy is die goeie herder, maar Hy sê ook dat Hy die ingang is:

“Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.” (Joh 10:9)

Reflekteer net vir ‘n oomblik vandag op hierdie gedagte dat Jesus ons ingang is: Enige weiding (kos) wat ons kan hoop om te kry, kan ons nét kry as ons deur Hom gaan. Hy is inderdaad die enigste weg na die waarheid en die lewe.

Jakobus 1

Vir die volgende 5 dae vertoef ons weer in die Nuwe Testament, en spandeer ons tyd in die boek Jakobus.

Een van Jakobus se mikpunte met die skryf van hierdie brief, is om gelowiges op te roep om hulle geloof te integreer met hulle alledaagse lewe. Jakobus kruis swaarde met die feit dat ons so gefragmenteerd leef, en dit vind uitdrukking in die verskeie temas wat hy in sy brief aanspreek (die beheer van ons tong, die hantering van beprowings en versoekinge, die behandeling van mense ens)

Met dit in gedagte, maak vers 22 baie sin as inleiding tot die boek:

“Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.” (Jak 1:22)

Hierdie vers word eintlik die fondament van die hele boek: Integreer Jesus se boodskap in ons alledaagse lewe.

Christenskap is baie meer as net ‘n persoonlike verhouding met God. Dit vind ook neerslag in ons publieke verhouding met ons medemense.

Hooglied 2

Ons lees vandag vir die eerste keer in die boek Hooglied. Hierdie boek het al menigte bespreking ontlok: “Waarom sou ‘n boek oor liefde (en seksuele begeerte) in die Bybel opgeneem wees?”, het baie mense al gevra.

Verskeie het al in die verlede hierdie boek vergeestelik en gesê dat dit eintlik net ‘n metafoor is vir die liefde wat tussen God en sy bruid (ons) bestaan. Mens sou seker daardie “interpretasie-sprong” op plekke kon maak, maar dit sou nie heeltemal reg laat geskied aan die oorspronklike bedoeling van die boek nie.

Dit is beter om die boek te neem vir wat dit is: ‘n Vurige gedig van begeerte en liefde. En daar is niks mee fout dat so iets in die Bybel is nie. Dit is juis gepas, want die Here het die liefde (en seks) gemaak. Ons as gelowiges sal goed doen om daaroor in verwondering te wees en dit die regmatige plek in ons huwelike te gee.

Die Here was vir my goed, en het reeds vir my my lewensmaat gegee. Ek kan dink as jy nog enkellopend is en hierdie gedeeltes lees, dat dit ‘n gemis in jou wakker maak. Gebruik dit nogtans om sommer vir hierdie faset van jou lewe te bid: Vra die Here dat Hy die regte persoon oor jou lewenspad sal stuur en jou begeerte na intimiteit op so ‘n wyse sal vervul.

Vir my persoonlik – wat op die oomblim baie dink aan my seuns se toekomstige lewensmaats – tref Hooglied 2:7

“moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.” (Hooglied 2:7)

Ek bid vandag vir hulle seksuele onskuld, en dat hulle nie op skool en later deur seksuele vergrype soos pornografie, besoedel sal word nie. Mag die Here hulle beskerm en op sy regte tyd hulle bekendstel aan hulle toekomstige lewensmaats.

1 Kronieke 29

Dit is aandoenlik om Dawid se gebed te lees. Jy hoor die warmte van sy liefde vir die Here, sy volk en ook sy seun. Op ‘n stadium bid hy juis vir sy seun Salomo en hy sê:

“Gee aan my seun Salomo dat hy met volle oorgawe u gebooie, u verordeninge, u voorskrifte sal hou, dat hy dit alles sal doen en die tempel wat ek beplan het, sal bou” (1 Kron 29:25)

Die hoofstuk vervolg en meld dan dat Salomo tot koning verkies is. Dit is egter opmerklik dat Salomo nêrens in die gedeelte ‘n aktiewe rolspeler word nie. Hy bly passief, in die sin dat daar net oor hom verhaal word en wat met hom gebeur. Nader aan die einde van die hoofstuk staan daar:

“Die Here het Salomo hoë aansien in die oë van die hele Israel laat geniet en hom ’n koninklike verhewenheid geskenk wat nie een van die Israelitiese konings voor hom gehad het nie.” (1 Kron 29:25)

Die Here het gehoor gegee aan Dawid se gebed. Natuurlik het Salomo ook ‘n aandeel in sy lewe gehad – hy het keuses gemaak. Maar die gedeelte van vandag laat dit tog blyk dat ons gebede vir ander mense, groot krag het.

Ook ek is die produk van my ouers en grootouers se gebede – én die Here se genade. Ja, ek maak my eie besluite. Maar ek sal die Here oneer aandoen as ek nie ook erken dat ander vir my gebid het, en dat Hý vir my geweldig goed was nie.

Op ‘n soortgelyke wyse kan ek ook in ander se lewens inbou deur gebed. Ek kan bid vir my kinders, vir kerkleiers, vir ons land se leiers. En vandag se gedeelte sê dat die Here ons gebede, sy genade en hulle eie selfstandigheid, op ‘n misterieuse wyse saamvoeg tot ‘n groot geheel.

Kom ons bid vir ander!

1 Kronieke 25

Ons lees in vandag se hoofstuk hoe Dawid tempelsangers aangewys het. Nadat die gedeelte uitgebrei het oor die seuns van Heman, word daar vertel hoe die indeling plaasgevind het:

“Hulle is vir diens geloot volgens die reël dat oud en jonk gelyk is, of hy nou al opgelei of leerling was.” (1 Kron 25:8)

Dit is ‘n interessante maatstaf. Veral in ag genome die feit dat dit ‘n samelewing was wat baie status aan ouderdom gekoppel het. Tog gee hulle gelyke kans aan mense wat oud en jonk was.

Ek dink ons kan baie leer by die Joodse siening van kinders. As mens byvoorbeeld hulle feeste ondersoek, dan sien jy dat kinders ‘n kritiese belangrike rol speel. Kinders was nie “verdra” nie. Die feeste is eintlik rondom hulle gebou (neem byvoorbeeld die rol van kinders tydens die rite van die paasmaaltyd).

Hier by die tempelsang, sien mens weer iets daarvan. Kinders skuif nie na die agtergrond sodat die groot mense die ding kan doen nie. Hulle is geheel en al deel van alles.

Dink ons kultuur nie dalk verkeerd oor kinders nie? Kyk ons nie dalk te veel na hulle asof hulle “onvolledige volwassenes” is nie? Ons moet altyd onthou dat kinders nie ‘n “mini-Heilige Gees” ontvang het nie. Hulle is nie minderwaardige gelowiges nie. Die Here kyk nie so na hulle nie, en ons behoort ook nie.

In net 3 jaar kan jy die volheid van God se Woord sélf ontdek!