Verhouding met God

now browsing by tag

 
 

Job 42

Ons het uiteindelik by die laaste hoofstuk van die boek Job gearriveer, en soos in enige goeie boek is die laaste hoofstuk die klimaks of hoogtepunt.

Ek sal graag 3 dingetjies wil uitlig in hierdie hoofstuk…

EERSTENS: Job 42:7 Nadat die Here hierdie woorde vir Job gesê het, het die Here vir Elifas uit Teman gesê: “My toorn het ontbrand teen jou en jou twee vriende; want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie.

As mens gaan naspeur wat Elifas alles vir Job gesê het, dan is dit die tipiese dinge wat mense vandag nog sê wanneer hulle met lyding te make kry: Elifas het Job se trauma aan God se duistere weë toegeskryf.

Die punt van die boek is dat God ‘n probleem het met hierdie tipe goedkoop antwoorde van ons – tot so ‘n mate dat die vroom Elifas aan die einde van die boek die een is wat skuldig staan voor God. Kom ons hou dus op om lyding toe te dig aan God.

TWEEDENS: Job 42:10 Die Here het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het. Die Here het alles wat Job besit het, vermeerder – dubbeld soveel.

Die laaste hoofstuk ontknoop die spanning wanneer Job as’t ware ontbloot word as “onskuldig”. Sy lyding was toe nooit as gevolg van onbelyde sonde nie. Maar tog verander Job se lot dadelik nie.

Job se lot verander eers nadat hy vir sy vriende – Elifas’hulle – gebid het. Dit is asof hierdie laaste gebaar van Job die finale bewys van Job se onberispelike karakter is. Hy bid om vergifnis vir sy vriende wat hom te na gekom het.

Job wys karakter deur hierdie gebaar – en ons sal dieselfde karakter openbaar indien ons kan intree vir ander wat ons te na gekom het. Dit is immers Jesus se gesindheid aan die kruis.

DERDENS: Job 42: 5 Op hoorsê het ek van U verneem, maar nou het my oog U gesien.

Hierdie is vir my ‘n sleutel van die boek. Job – en so baie van ons vandag – staan in verhouding met God op grond van tradisie en nie op grond van eerstehandse ervarings nie.

Ons sal goed doen as ons ons kinders so gou as moontlik blootstel aan eerstehandse ervarings met die Here.

Deuteronomium 35

Deuteronomium 35 beskryf Moses se dood. Vers 10 lui:

Daar het nie weer ‘n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken.

Wat Moses met ander woorde van ander leiers onderskei het, was sy verhouding met die Here. Ons sou kon sê dit was eerstehands. Dit was eg.

Dit is so belangrik om te onthou dat wanneer ons sê ons “God dien”, ons nie daarmee bedoel dat ons ‘n stel reëls onderhou, of ‘n dogma onderskryf of aan ‘n soort klub behoort nie.

Allereers beteken dit om God te dien, dan ons Hom persoonlik ken.

My hart dors na hierdie. Ek wil God beter ken. Ek begeer ‘n gebedslewe waar ek nie met myself praat nie, maar waarlik met God. As hy my in die proses wil gebruik, of wonders deur my wil doen, is Hy welkom. Maar dit is ‘n bysaak. Die hoofsaak is om intimiteit met Hom te beleef.