Liefde

now browsing by tag

 
 

1 Timoteus 1

Klik HIER vir die agtergrond oor 1 & 2 Timoteus.

Klik HIER om jou nuwe leesrooster af te laai.

1:1-2 AANHEF

Mens vluglees mos gewoonlik iets soos ‘n aanhef, maar hier wemel dit omtrent van interessanthede:

  • Die volgorde “Christus Jesus” is in die pastorale briewe meer algemeen as “Jesus Christus”. In Paulus se ander briewe kom die verskynsel ewe veel voor.
  • Die benaming “God ons verlosser” kom ook in hierdie briewe meer voor as elders in die Nuwe Testament.
  • Die frase “my kind” is ook nogal kenmerkend aan die pastorale briewe. Omkring dit gerus elke keer as jy dit lees. Daardie pa-kind styl herinner baie aan die boek Spreuke as Wysheidsliteratuur, en verklap dalk baie juis ook baie van die doel van hierdie genre
  • Let op die gebruik van die frase “die geloof”. Dit is ook kenmerkend van die pastorale briewe. In Paulus se ander briewe was hy meer geneig om na geloof te verwys sonder ‘n lidwoord. Wanneer die lidwoord “die” saam met die woord “geloof” in die pastorale briewe geplaas word, dui dit op die inhoud van wat geglo word – korrekte lering/dogma. Wanneer slegs die woord “geloof” gebruik word, dui dit op ‘n persoonlike vertroue in en verhouding met Jesus.

1:3-7 DIE PROBLEEM IN EFESE

  • Die gedeelte begin deur Timoteus te herinner aan die mandaat wat hy ontvang het (vers 3).
  • Dan gaan Paulus voort om vir ons ‘n redelike goeie idee te gee wat die kruks van die dwaalleer is: ‘n klomp gestryery oor geslagsregisters, Joodse mites en tradisies. Die eindresultaat is in elk geval bakleiery.
  • In vers 5 stel Paulus die vrug van die suiwer evangelie lynreg teenoor die dwaalleer. Hy sê dat die evangelie se eindresultaat “liefde” is, en nie gevegte nie (1:5). Hy noem dan dat die liefde uit ‘n drievoudige voedingsbron vloei: “’n rein hart”, “’n skoon gewete” en “’n ongeveinsde geloof”.
  • Let wel dat die lidwoord “die” nie by hierdie geloof geplaas word nie. Dit verwys dus na ‘n persoonlike verhouding met Jesus.

Daar is soveel pitkos in vers 5 alleen, dat ons tog ‘n bietjie by dit kan stilstaan. Kom ons dink bietjie na oor die implikasie van dit wat gesê word:

  • ‘n Ongeveinsde geloof: Paulus sê dat jou persoonlike geloof/verhouding met Jesus, die beginpunt van ‘n nuwe lewe is. Die geloof moet egter van eg wees en nie skeinheilig wees nie.
  • ‘n rein hart: Die gee aanleiding daartoe dat jou hart – die sentrum van jou lewe en bron van al jou denke, doen en late – van sonde gereinig word.
  • ‘n Skoon gewete: Gevolglik word jou gewete gesensitiseer om tussen goed en kwaad te kan onderskei.
  • Liefde: Dit is die uiteindelike gevolg – die ammoniaktoets om te sien of ons onself besighou met die regte goed.

In vers 7 maak ons vir die eerste keer kennis met een van die belangrike temas in die boek, naamlik gemeentelike leierskap. Ons sien die dwaalleraars het dit geniet om in die kollig te staan, maar hulle woorde was sonder inhoud.

1:8-11 DIE BEDOELING VAN DIE WET

  • In eg-Pauliniese styl distansieër Paulus homself van wettisisme sonder om die wet af te skryf.
  • Die wet is goed – op voorwaarde dat dit gebruik word vir die doel waarvoor dit gegee is.
  • Die eerste ding om raak te sien, is dat die wet nie bedoel is vir die regverdiges nie, maar vir mense wat nie eerbied het vir wat heilig en gewyd is nie.
  • Binne Paulus se teologie, moet ons nie “regverdiges” verstaan as mense wat “self-regverdig” is nie, maar mense wat deur en in Jesus, “geregverdig” is.
  • In sy opnoem van ‘n opsomming van sondes, volg Paulus die volgorde van die tien gebooie – waarskynlik om juis daardeur te kenne te gee dat hy agting vir die wet het.
  • Sien ook Gal 3:19-26 vir die doel van die Wet.

In vers 11 gebruik Paulus die eerste mediese verwysing, naamlik “gesonde leer”. Dit is waarskynlik kwetsend bedoel na die Sinici-dwaalgroep wat geglo het hulle is die “geneeshere” van die wêreld.

1:12-16 REDDING UIT GENADE

  • Dit is op sy beste mos maar ‘n verskriklike moeilike en ongemaklike situasie as die term “dwaalleer” begin rondgegooi word.
  • Dit is so gou soos nou wat een groep die ander “verketter” en “demoniseer” en hulleself regverdig en op morele hoë grond plaas.
  • So ‘n “holier-than-thou”-houding laat nogal ‘n frank smaak in elkeen van ons se mond.
  • Dit is miskien juis hoekom Paulus se aantuiging van “dwaalleer”, so opmerklik vir ons is. Mens kry nie een keer die indruk dat Paulus eintlik te kenne wil gee dat hy “so goed” of soveel beter is as die ander nie.
  • Die uitstaande kenmerk van Paulus se manier van doen, is dat hy roem hoe sleg hy was en dat hy steeds gered is.
  • Hy noem homself immers die grootste sondaar van almal (1:16)

1:15 ‘n BETROUBARE WOORD

  • Ons kom nou by een van die kenmerkende frases van die pastorale briewe, naamlik “hierdie is ‘n betroubare woord.
  • Dit is die eerste van vyf voorbeelde in die pastorale briewe.
  • Die interessantheid is dat beide die sin wat op die frase volg, sowel as die sin wat dit voorafgaan, geïnterpreteer kan word as ‘n betroubare woord:

“Ons Here se genade oor my was oorvloedig, en daarmee saam ook nog die geloof en liefde wat daar in Christus Jesus is. Dié uitspraak is betroubaar, en werd om ten volle aanvaar te word, dat Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos, van wie ek die heel grootste is.”