Leesrooster

Die skakels om die leesrooster af te laai is onderaan hierdie bladsy. Verder word daar op hierdie bladsy 5 belangrike vrae geantwoord:

1.) Waarom gebruik mens ‘n leesrooster?

As mens nie pasop nie, is mens geneig om net altyd jou gunsteling gedeeltes in die Bybel te lees. Onwillekeurig gaan mens altyd terug na boeke of perikope wat vir jou mooi is of wat al vir jou in die verlede van betekenis was.

Dit beteken dat daar groot gedeeltes van die Bybel is wat nog vir jou lê en wag om ontdek te word. ‘n Leesrooster help jou dus om doelgerig, planmatig deur die héle Bybel te lees.

2.) Kan jy op enige tydstip die leesrooster begin lees?

Ja, jy kan op enige stadium by die leesrooster inval en net begin lees.

Ons leesrooster is so saamgestel dat ons die Bybel in 3 jaar deurlees. Daarna word die siklus net herhaal. Ongeag op watter stadium jy dus begin lees, 3 jaar daarna sal jy die Bybel deurgelees het!

Ook as jy agter raak is dit nie ‘n probleem nie. Wanneer jy weer wil inval om te lees, hoef jy nie te voel jy moet eers jou agterstand inhaal nie. Jy begin gewoon weer lees by die dagstukkie van die huidige dag. Jy sal weldra weer deur die siklus geneem word en die hoofstukke wat jy gemis het, inhaal.

3.) Wat maak hierdie leesrooster uniek?

Daar is baie soorte leesroosters vandag beskikbaar en elkeen is anders saamgestel. Wat kenmerkend van ons s’n is, is die volgende:

  • Die gedeelte wat jy moet lees, is elke dag kort en doenbaar.
  • Jy gaan nie net gedeeltes van boeke lees nie, maar (uiteindelik) boeke in geheel.
  • Daar word moeite gedoen om ‘n goeie ewewig te hou tussen Ou en Nuwe Testament, asook blootstelling aan al die soorte genres van die Bybel.
  • Addisioneel tot die leesrooster ontvang jy ook agtergrondskennis oor die Bybelboeke wat jy lees.
  • Verder ontvang jy elke dag ‘n refleksievraag wat jou help om oor die hoofstuk van die dag na te dink. Dit is alles GRATIS!

4.) Hoe word die leesrooster saamgestel?

Die behoefte was om ‘n leesplan te ontwikkel waar jy net een hoofstuk per dag hoef te lees.

Daar is in totaal 1189 hoofstukke in die Bybel. Die Ou Testament beslaan 929 daarvan en die Nuwe Testament 260 hoofstukke.

Dit beteken dat as ons elke dag net een hoofstuk sou lees, dit moontlik sou wees om die Bybel in 3 jaar deur te lees!

Gelukkig is nie al die hoofstukke in die Bybel ewe lank nie. Die 94 oorblywende hoofstukke sou ons maklik oor ‘n 3 jaar periode kon versprei op so ‘n manier dat mens dit nouliks agterkom as jy die dag ‘n effe langer gedeelte moet lees.

Om hierdie rede groepeer ons dus die korter hoofstukke saam met hoofstukke wat ‘n normale lengte beslaan. Sodoende lees jy jou Bybel in 3 jaar dwarsdeur!

Opsie: Opaal

Hierdie leesrooster was ons eerste leesrooster. Dit neem jou elke maand deur verskillende genres van die Bybel. Dit probeer jou in dieselfde maand blootstelling aan die Ou en Nuwe Testament gee. Verder hou jy jou ook elke maand vir paar dae met die woorde van Jesus besig.

Die voordele van hierdie leesrooster is dat dit eentonigheid voorkom. Lang boeke word opgedeel in natuurlike breke. Verder is daar ‘n goeie afwisseling tussen Ou en Nuwe Testament.

Die nadeel van hierdie leesrooster is dat mens tred verloor met die styl en temas van elke boek, omdat dit so dikwels afgewissel word met ander boeke.

As jy iemand is wat net die Bybel wil deurlees, dan is hierdie leesrooster vir jou bedoel. As jy iemand is die onderskeie Bybelboeke meer in diepte wil verstaan, dan is die Karneool opsie meer geskik vir jou.

Laai die Opaal-opsie se JAAR 1 HIER AF

Laai die Opaal-opsie se JAAR 2 HIER AF

Laai die Opaal-opsie se JAAR 3 HIER AF

Opsie: Karneool

Hierdie leesrooster is ontwikkel as opvolg op die eerste leesrooster. Dit neem jou deur boeke in hulle geheel, sodat jy beter kan tred hou met die temas en lyn van argumentering in elke boek.

Die voordele van hierdie leesrooster is dus dat jy ‘n baie beter greep op elke individuele boek kry. Die nadeel van hierdie leesrooster is dat jy soms baie lank met een boek kan besig bly. Jesaja het byvoorbeeld 66 hoofstukke. Dit beteken jy gaan langer as 2 maande daaraan lees. Jy gaan definitief na afloop van die 2 maande die boek Jesaja verstaan – maar vir sommige mense kan so ‘n benadering eentonig raak.

As jy iemand is wat die onderskeie boeke van die Bybel meer in diepte wil verstaan, dan is hierdie opsie vir jou. As jy iemand is wat vir eers net blootstelling aan die hele Bybel wil kry en dit wil deurlees sonder om belangstelling te verloor, dan is die Opaal-opsie vir jou.

Laai die Karneool-opsie se JAAR 1 HIER AF

Laai die Karneool-opsie se JAAR 2 HIER AF

Laai die Karneool-opsie se JAAR 3 HIER AF

Ons begin met hierdie leesrooster 1 Februarie 2022

5.) Watter genres is daar in die Bybel?

Daar is ongeveer 12 soorte makro-genres in die Bybel. Dit is die volgende:

  • Die Pentateug (Gen, Eks, Lev, Num, Deut)
  • Ou Testamentiese geskiedskrywing (Jos, Rig, 1 & 2 Sam, 1 & 2 Konings, 1 & 2 Kron, Esra & Neh)
  • Wysheidsliteratuur (Boeke soos Job, Psalms, Spreuke)
  • Profetiese literatuur (Die 3 groot profete nl Jesaja, Jeremia en Esegiël en die 12 kleiner profete nl Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria & Maleagi)
  • Feesbundels (Boeke soos Rut, Hooglied, Prediker, Klaagliedere en Ester)
  • Ou Testamentiese apokaliptiek (Daniël)
  • Evangelies (Matteus, Markus, Lukas en Johannes)
  • Nuwe Testamentiese geskiedskrywing (Handelinge)
  • Sendbriewe (Romeine, 1 & 2 Kor, Gal, Ef, Fil, Kol, 1 & 2 Tess, 1 & 2 Tim, Titus & Filemon)
  • Algemene briewe (Jakobus, 1 & 2 Petrus; 1, 2 & 3 Johannes; Judas)
  • ‘n Preek (Hebreërs)
  • Nuwe Testamentiese apokaliptiek (Openbaring)

Die leesrooster gee jou blootstelling aan elke soort genre.

%d bloggers like this: