Esra 1

Die eerste hoofstuk van Esra skop af deur te vertel van die proklamasie van Kores, wat Esra en ander in staat gestel het om terug te keer na Juda om die stad te herbou. As mens nie versigtig is nie, mis mens maklik die grootsheid van hierdie inleiding…

Die volk was mos in 586vC deur Nebukadneser van Babel verower en in ballingskap weggevoer. Hulle was 47 jaar in die vreemde, toe die Persiese koning Kores vir Babilonië oorrompel. Skaars een jaar nadat hy die koninkryk oorgeneem het, vaardig hy in 538vC ‘n edik uit dat verowerde volke na hulle lande van herkoms mag terugkeer.

Wat hierdie so besonders maak, is die feit dat die profeet Jeremia dit geprofeteer het (Jer 25:11; 29:10-14). Die eerste ding wat dus hier vir ons uitstaan is dat die Here ‘n waarmaker van sy Woord is. Hy hou sy beloftes aan sy volk. Hy hou ook sy beloftes aan ons.

Die tweede ding wat uitstaan, is dat die Here hierdie ongelowige koning gebruik om uiting aan sy wil te gee. Kores het nie hierdie toegewing gemaak omdat hy die Here wou dien nie – nie eers omdat hy die Jode simpatiek is nie. Dit was bloot ‘n diplomatieke-strategiese skuif. Die volke wat hy toelaat om terug te keer, sou meer lojaal aan hom wees in die toekoms. Terselfdertyd het hulle ‘n “buffer” tussen die vyand en sy koninkryk gevorm. Kores se motiewe was dus skeef en selfgerig.

Tog is die verstommende dat die Here selfs deur hierdie krom stok ‘n reguit hou slaan. Die Here gebruik hierdie ongelowige om ‘n uitkoms vir sy volk te bewerk. Dikwels bring die Here vandag nog uitkoms vir ons uit ‘n oord wat ons nooit verwag nie.

Hierdie is 2 belangrike geloofsoortuigings waaraan elke gelowige kan vashou in moeilike tye.

Posted in 15.) Esra | Tagged , | Comments Off on Esra 1

Nehemia 10

Na aanleiding van die gesamentlike gebed wat die volk in die vorige hoofstuk gebid het, gaan hulle dan nou voort om ook ‘n eed af te lê in hierdie hoofstuk.

Dit is ‘n plegtige eed teenoor die Here – wat verseël word en al – waarin onderneem word dat hulle die voortaan die héle Wet sal onderhou.

Dit is ‘n pragtige gebeurtenis wat die klimaks van die boek bevat – maar tog is dit ook gelyktydig die moment voor die groot val kom. Hierdie hoofstuk bevat ‘n prentjie van hoe pragtig hulle toewyding is – maar dit is gelyktydig ook swanger met die onheilspellende. Want ons weet dat ons beste voornemens en al die toewyding in die wêreld, nie genoeg is om die héle Wet van God foutloos te onderhou nie. Esra 10 bevat dan ook die uitbeelding van die onmoontlikheid.

Maar vanoggend is daar iets in die inhoud van hulle eed, wat my aandag opval. Van alles wat die volk belowe om te doen, belowe hulle onder andere om die eerstelinge van al hulle gesaaides en vrugtebome, asook die eersgeborenes van al hulle vee en kleinvee – én selfs die eerste deeg, wyn en olie na afloop van die oes, na die huis van die Here te bring.

Gewoonlik word Skrifgedeeltes soos hierdie gebruik om die meriete van dankoffer aan te toon – en die noodsaak dat ons nie vir die saak van die Here gee wat oorbly na al ons uitgawes betaal is nie, maar dat ons heel eerste vir die Here sal gee. Dit is ook reg so.

Maar ek dink ons mis baie keer iets selfs meer belangrik as dit, in gedeeltes soos hierdie. En dit is die manier waarop gedeeltes soos hierdie swanger was met ‘n Messiaanse verwagting.

Onthou, die rede waarom die eerstelinge of die eerste oes na die tempel gebring is, was nie primêr om dit aan die Here te wy nie, maar omdat dit aan die Here gewy ís.

Die héle oes het aan Hom behoort. Alles was te danke aan Hom, en alles het inderwaarheid Hom toegekom. Die eerstelinge van ‘n oes was bloot die verteenwoordiging van die héle oes. Deurdat die eerstelinge na die tempel toe geneem is, is die volk herinner aan die feit dat hulle héle bestaan eintlik aan God behoort.

Nou die interessante: Wanneer Jesus op die toneel kom, praat die Bybel van Hom as ons “Eersteling”…

Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.
ROMEINE 8:29

Jesus is ons oudste broer. Hy is die eersgeborene van ons Vader. Hy is aan ons Vader gewy – maar Hy is ook verteenwoordigend van ons. Wat waar is van Hom, is waar van ons.

As Hy gesterf het vir die sondes, dan het óns. As Hy die dood oorwin het, dan het óns. As Hy nou aan God gewy is en vir Hom leef, dan is dit ook waar van ons.

Posted in 16.) Nehemia | Tagged , | Comments Off on Nehemia 10

Nehemia 9

In hierdie hoofstuk word daar ‘n lang gebed weergegee wat die Leviete die volk in gelei het.

Daar is ‘n paar opvallendhede in die gebed. Een van die belangrikste waarnemings is dat die gebed – wat in effek die geskiedenis van die volk oorvertel – ‘n akkurate beskrywing van die gebeure is.

Die vedskillende misdrywe van die volk word nie sagter gestel as wat dit was nie. Dit word nie geregverdig of gerasionaliseer nie.

So dikwels wanneer ons vandag oor ons sonde praat, bied ons saam met ons skulderkenning ‘n verduideliking aan wat poog om ons oortreding te verskoon.

Meer nog as dit, vandag is dit hoogmode om God te blameer. Dikwels hoor ons hoe iemand God vir hulle sonde beskuldig. “U was so stil! Wat was ek veronderstel om te doen?!”

Maar Nehemia 9 se gebed ken niks hiervan nie. Die Leviete lei die volk om volkome eienaarskap te neem vir hulle benarde situasie. Op ‘n stadium lui die gebed selfs:

In alles wat oor ons gekom het, was U regverdig; U het reg gedoen, ons verkeerd.
NEHEMIA 9:33

Partykeer doen mens ‘n seerplek op, en dan is jou natuurlike instink om die wond toe te hou. Maar as jy wil hê die wond moet gesond word, dan help dit nie jy hou dit net toe nie. Mens moet dit oopmaak en ontsmet. Wie ‘n wond net toehou moet niks goeds te wagte wees nie.

Dit werk op’n soortgelyke wyse ook so met sonde. Dit is nie lekker om te weet dat ons gebroke mense is wat oortree nie. Ons natuurlike instink is om dit te ontken. Ons wil die blaam skuif. Ons wil regverdiging kry vir ons optrede. Ons wil ons oortreding onderspeel.

Maar ware genesing kom eers as ons voor God erken: Alles wat U doen is reg. Alles wat ek doen is verkeerd.

Posted in 16.) Nehemia | Tagged | Comments Off on Nehemia 9

x

Prediker 2

Posted in Uncategorized | Comments Off on x