Johannes 15

‘n Paar jaar gelede was daar ‘n boek gepubliseer deur ‘n bekende outeur wat grootliks op hierdie Skrifgedeelte gebasseer was. Die basiese lyn van redenering was dat God ons snoei as ons nie vrug dra nie. Die boek roep jou dan op om pynlike gebeurtenisse in jou lewe te interpreteer as God se snoeiwerk, met die doel om jou te laat vrugdra.

Dit is eintlik niks nuut nie en ‘n baie algemene opvatting. Verskriklik baie gelowiges dink dit. Moslems ook. Die vraag is of dit waar is? Want dit is definitief nie wat die teks sê nie.

Jesus doen nogal moeite om in hierdie gedeelte te beklemtoon hoe Hy snoei:

  • Vers 3: “Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”
  • Vers 7: “As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur”

Die punt is gewoon ons moet uiters versigtig wees om mense se pyn en hartseer goedsmoeds aan God toe te dig, so asof Hy die outeur van hulle seer is. Natuurlik kan die Here alles ten goede laat meewerk – selfs tragedies wat mense tref. Maar dit beteken nie dat Hy elke ramp in jou lewe organiseer nie.

Godsdienste regoor die wêreld glo dat wanneer iets slegs met iemand gebeur, dat God aan die praat is. Maar godsdienste regoor die wêreld interpreteer nie hulle realiteit deur die kruis van Golgota nie.

As kinders van die Nuwe Verbond glo ons dat God nou anders met ons handel. Hy tug verseker. Maar Hy tug met die woorde wat Hy tot ons spreek. Dit is immers wat Jesus hier sê.

Die manier waarop Hy Godsvrug in ons voortbring, is deur die Woord van God in ons te laat ontkiem. Dit plaas natuurlik ook die rol en prioriteit wat ons die Bybel in ons lewe gee, in ‘n heel nuwe lig.

Posted in 43.) Johannes | Tagged , , | Comments Off on Johannes 15

Jeremia 41

Ons sien in hierdie hoofstuk iets van die onversadigbare drang van die sonde – en hoe dit altyd sneeubal en al groter en groter word…

Ismael vermoor Gedalja. Dit is opsigself was afskuwelik, maar wat dit soveel meer gruwelik maak is dat hy Gedalja se goedgunstigheid uitbuit. Gedalja nooi Ismael om saam te eet – ‘n gebaar wat welwillendheid sou kommunikeer.

Op ‘n onbewaakte oomblik spring Ismael egter op en vermoor Gedalja. Dit lyk vir ons of dit in die geheim gebeur het want 2 dae na die tyd kon Ismael nog Gedalja se dood wegsteek vir die mense.

Toe van Gedalja se soldate na die stad terugkeer, het Ismael egter geweet hy sou dit nie vir veel langer kon wegsteek nie. Hy gaan toe die soldate tegemoet onder die voorwendsel dat hy saam met hulle wil deelneem aan hulle godsdienstige rite (hulle baarde was geskeer en lywe was gekerf, en hy het huilend hulle tegemoet gegaan).

Doodluiters volg hulle hom tot in die stad, waar hy hulle in ‘n lokval doodmaak – 70 soldate in totaal.

Maar nou weet die stad se mense wat aangaan. Om al die ooggetuies uit die weg te ruim, moet Ismael nou almal wegvoer.

Dit is asof die regverdiging van die eerste misdryf, die pad plavei vir die tweede en die vir die derde. Dit is asof daar geen keer aan hom is nie.

Dit is ‘n wekroep vir ons om nooit die krag van sonde se sneeubaleffek te onderskat nie. Sonde wek in ons ‘n onversadigbare drang na meer en na nog, en naderhand ontsien ons niks en niemand nie.

Posted in 24.) Jeremia | Tagged | Comments Off on Jeremia 41

Jeremia 40

Hierdie is ‘n moeilike een. Gedalja word deur die Babiloniese koning as ‘n goewerneur aangestel om die mense wat nie weggevoer is nie, te regeer.

Een van die soldate wat nie in die geveg gedood is nie, Joganan, keer ook terug na die verwoeste stad en waarsku vir Gedalja. Hy het gehoor dat Ismael (‘n lid van die koningsfamilie), daarop uit is om Gedalja te kom vermoor. Joganan is so seker van hierdie feit, dat hy selfs in ‘n privaatgesprek met Gedalja aanbied om Ismael in die geheim te gaan doodmaak.

En dan die moeilike deel…Gedalja wil nie vir Joganan glo nie. Hy kies om die beste van Ismael te glo. Dit is vir my ‘n moeilike gedeelte om te interpreteer omdat Gedalja se gedrag eintlik so prysenswaardig is. Hy weier om iets slegs van sy volksgenoot te glo. Die tragiek is egter dat hierdie prysenswaardige gedrag uiteindelik tot sy dood in die volgende hoofstuk lei.

Mens sou dus kon sê dat die les wat ons hieruit leer, is om altyd na goeie raadgewers te luister. Mens moet nie te vinnig wees om mense wat aan jou lojaal is, se opinies en indrukke in die wind te slaan nie.

As Gedalja na Joganan geluister het, sou hy baie kon doen om die oorblywende deel van die volk op te hef. Dit sou dalk nie nodig wees om Joganan se plan te volg – naamlik om Ismael in die geheim te vermoor nie – maar hy sou goed doen om ten minste na die waarskuwing te luister.

Posted in 24.) Jeremia | Tagged | Comments Off on Jeremia 40

Titus 1

Vanoggend kom ek nie verder as die aanhef van hierdie pastorale brief nie. Dit stuit my in my spore…

“Paulus, ‘n dienskneg van God en •apostel van Jesus •Christus, ter bevordering van die geloof van die uitverkorenes van God, en hulle kennis van die waarheid, wat ooreenstem met godvresendheid”

Let op die 3 verskillende fasette: Bevordering van geloof en die kennis van waarheid wat uitloop op godvresendheid.

As mens mooi nadink oor hoe ‘n volwasse gelowige sou lyk, sou hierdie 3 fasette teenwoordig wees. Dit sal iemand wees met ‘n sterk geloof. Dit sal iemand wees wie se geloof verryk is met kennis. Let wel: Hierdie 2 is nie dieselfde ding nie. Jy kry mense wat baie kennis het, maar nie geloof nie. En laastens help dit nie as jou geloof en jou kennis nie in praktyk uitspoel in ‘n godvresende lewe nie. Tog is ‘n godvresende lewe sonder geloof of kennis, ook nie genoeg nie.

Mens soek al 3 hierdie fasette in ons lewe: Geloof, kennis en godvresendheid.

Posted in 56.) Titus | Tagged , | Comments Off on Titus 1

Jakobus 3

As ons Jakobus se gedagtestroom volg, sien ons dat hy eers pleit vir ‘n geloof wat tot dade oorgaan (hoofstuk 1), dan brei hy uit oor hoe dit sal lyk as mens die dade integreer met alledaagse lewe (hoofstuk 2). In hoostuk 3 is Jakobus besig om ‘n ander faset van ons menswees met ons geloofslewe te integreer, en dit is ons tong.

Jakobus 3:9-11 Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie?

Sy pleidooi dat ons tong ‘n varswater fontein sal wees wat konstante varswater lewer, sonder om ook brakwater te laat uitborrel, spreek my baie aan.

Die maklikste fout wat ons natuurlik kan maak, is om die simptoom aan te spreek. Ons probeer harder om nie lelik te praat nie.

Maar as die fontein brak is, gaan die water ook brak wees. Ons het nodig om die plek waar die fontein in ons binneste ontspring, gesond te hou.

Ons fokus moet nie op ons tong wees nie, maar op Jesus.

Posted in 59.) Jakobus | Tagged , | Comments Off on Jakobus 3

Jakobus 2

Die tweede hoofstuk van Jakobus gee vir ons ‘n fassinerende kykie na hoe oordeel werk.

Jakobus sê dat indien ons 2 mense verskillend behandel, is ons besig om onbewustelik in te speel op vooroordele. Vooroordeel is net so skadelik as oordeel opsigself, wat dit takseer iemand op die uiterlike sonder dat jy die persoon se hart ken.

Jakobus sê dat sulke optrede sonde is, en ironies genoeg net so skadelik is as “groot” sondes wat vir ons almal sigbaar is. As jy immers net 1 van God se Wette breek, dan het jy God se Wet gebreek.

Jakobus nooi ons uit om met sagter oë na mense te kyk. Wanneer ons met harde oë vol oordeel na mense kyk, is die oordeel oor ons ook sonder ontferming. Maar as ons dit kan regkry om met sagter oë vol ontferming na mense te kyk, kan ons verwag dat God ook met ontferming oor ons sal oordeel. Nou gee ons uiting aan die wet van vryheid.

Teen hierdie lig is dit nogal besonders om vers 1 oor ons lippe te neem en dit te prewel…

Jakobus 2:1 “My broers, julle geloof in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie.”

Posted in 59.) Jakobus | Tagged , , | Comments Off on Jakobus 2

Jakobus 1

Hier is soveel jewele in die eerste hoofstuk van Jakobus. As ek net een moet uitlig, dan sal dit seker vers 9 wees.

Jakobus 1:9 “Laat die broer wat gering is, hom op sy hoë aansien beroem, en die ryke in sy geringheid, want soos ‘n veldblom sal hy vergaan”

Wat my hier tref is die gedagte daar 2 identiteitsverklarings oor ons bestaan, wat gelyktydig waar is maar oënskynlik teenstrydig met mekaar is.

Aan die een kant is ek en jy kind van die Allerhoogste. Hoe bevoorreg is ons nie om direkte toegang tot die troonkamer van die SkepperGod te hê, en dat Hy luister die oomblik wat ons praat nie? Die gedagte laat mens nogal waardevol voel, want ons is inderdaad waardevol vir God.

Aan die ander kant is ek en jy ook niks en onbenullig voor hierdie selfde Heilige God. Ons is so ontsettend klein voor sy Majesteit, dat ons eintlik weglaatbaar is. Die blote feit dat Hy ons in die lewe geroep het en lewendig hou, is alles loutere genade.

Nou moet ons soos goeie dokters onderskei watter een van hierdie waarhede as medisyne nodig is vir ons siel, hier en nou.

Aan die hand van Jakobus 1 sou ons aanvoer dat indien jy minderwaardig en onseker van jouself voel, dan is dit nodig om jou aansien as “kind van God” vir jouself toe te eien.

Indien jy tans in ‘n grootheidswaan leef of geneig is om hoogmoedig neer te kyk op ander rondom jou, dan is dit nodig om ons eie onbenulligheid voor God opnuut te besef.

Posted in 59.) Jakobus | Tagged | Comments Off on Jakobus 1

Psalm 140

Die Psalm sal sterk met baie van ons resoneer, want die vyand wat in hierdie Psalm beskryf word hoef nie noodwendig lewensbedreigend te wees nie. Dit lyk eerder asof die vyand iemand is wat negatiewe gerugte oor die digter versprei het, omrede daar ‘n groot klem op die “tong” van die vyand is.

Miskien is die uitstaande kenmerk van hierdie Psalm, die feit is dat dit aan aktiewe inisiatief van die digter ontbreek. Ons lees nêrens dat die digter ‘n voorneme uitspreek om byvoorbeeld iets aktief aan die saak te doen nie.

Die rede hiervoor is waarskynlik omdat die digter God as aktiewe rolspeler beskou. Die feit dat daar inisiatief by die mens ontbreek, is geensins passiwiteit nie maar eerder die manier waarop die digter aktief sy geloof uitleef teenoor die aktiewe HEER.

Psalm 140:13-14 “Ek weet: Die Here behartig die regsaak van magteloses, die reg van behoeftiges. 14 Waarlik, regverdiges sal u Naam prys; opregtes sal in u teenwoordigheid woon.”

Posted in 19.) Psalms | Tagged , | Comments Off on Psalm 140

Jeremia 34

Hier speel ‘n interessante stukkie ironie in Jeremia 34 uit. Die hoofstuk begin deur te sê dat Jeremia die boodskap aan Koning Sedekia oordra dat Jerusalem ingeval sal word – na sy dood.

Vanaf vers 8 word die agtergrond gegee waarteen die verrigtinge afspeel: Die volk het ingestem om vir die eerste keer in jare, hulle mede Joodse volksgenote wat as slawe gewerk het kwyt te skeld en vry te laat.

Ongelukkig het die volk baie gou van gedagte verander. Toe hulle agterkom hoe swaar die werk is wat hulle nou self moes verrig, het hulle hul besluit omgekeer en hulle volksgenote weer onder ‘n slawejuk ingedwing.

Die profetiese woord van die Here kom dan by monde van Jeremia. Die Here sê Hy gaan die volk “vrylaat” omdat hulle van hulle volksgenote “slawe” maak. Die “vrylaat” is natuurlik “oorgee” in die hande van die vyand.

Daar is ‘n pragtige omgekeerde waarheid wat in die teks geïmpliseer word: As hulle “vrygelaat” word omdat hulle van hulle volksgenote “slawe” maak – dan impliseer dit dat toe hulle besluit het om hulle volksgenote “vry te laat”, hulle “slawe/diensknegte” van die Here was.

Die gedagte herinner sterk aan wat Martin Luther gesê het: “‘n Mens is altyd ‘n slaaf. Jy is of God se slaaf of sonde s’n”.

Met die ommekeer laat die Here die volk kwansuis “vry” – maar daardie “vrylating” is in die hande van ‘n baie wrede vyand, by wie hulle slawe gaan wees.

Die teks impliseer dus dat wanneer ons God se beskerming wil geniet, ons onsself aan sy wil moet onderwerp. Ons kan nie ons eie “baas” wil wees maar tog ook nog aanspraak maak op die beskerming en voorsiening van die Here nie.

Ek sien in my geestesoog hoe God se wil met ‘n sambreel uitgebeeld word. As ons teen die reën beskut wil wees, moet ons onder die sambreel bly. As ons onder die sambreel uitbeweeg (onsself nie aan God se wil hou nie), moet ons nie verbaas wees as ons natreën nie.

Posted in 24.) Jeremia | Tagged , | Comments Off on Jeremia 34

Deuteronomium 35

Deuteronomium 35 beskryf Moses se dood. Vers 10 lui:

Daar het nie weer ‘n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken.

Wat Moses met ander woorde van ander leiers onderskei het, was sy verhouding met die Here. Ons sou kon sê dit was eerstehands. Dit was eg.

Dit is so belangrik om te onthou dat wanneer ons sê ons “God dien”, ons nie daarmee bedoel dat ons ‘n stel reëls onderhou, of ‘n dogma onderskryf of aan ‘n soort klub behoort nie.

Allereers beteken dit om God te dien, dan ons Hom persoonlik ken.

My hart dors na hierdie. Ek wil God beter ken. Ek begeer ‘n gebedslewe waar ek nie met myself praat nie, maar waarlik met God. As hy my in die proses wil gebruik, of wonders deur my wil doen, is Hy welkom. Maar dit is ‘n bysaak. Die hoofsaak is om intimiteit met Hom te beleef.

Posted in 5.) Deuteronomium | Tagged | Comments Off on Deuteronomium 35