59.) Jakobus

Jakobus 1

Hier is soveel jewele in die eerste hoofstuk van Jakobus. As ek net een moet uitlig, dan sal dit seker vers 9 wees.

Jakobus 1:9 “Laat die broer wat gering is, hom op sy hoë aansien beroem, en die ryke in sy geringheid, want soos ‘n veldblom sal hy vergaan”

Wat my hier tref is die gedagte daar 2 identiteitsverklarings oor ons bestaan, wat gelyktydig waar is maar oënskynlik teenstrydig met mekaar is.

Aan die een kant is ek en jy kind van die Allerhoogste. Hoe bevoorreg is ons nie om direkte toegang tot die troonkamer van die SkepperGod te hê, en dat Hy luister die oomblik wat ons praat nie? Die gedagte laat mens nogal waardevol voel, want ons is inderdaad waardevol vir God.

Aan die ander kant is ek en jy ook niks en onbenullig voor hierdie selfde Heilige God. Ons is so ontsettend klein voor sy Majesteit, dat ons eintlik weglaatbaar is. Die blote feit dat Hy ons in die lewe geroep het en lewendig hou, is alles loutere genade.

Nou moet ons soos goeie dokters onderskei watter een van hierdie waarhede as medisyne nodig is vir ons siel, hier en nou.

Aan die hand van Jakobus 1 sou ons aanvoer dat indien jy minderwaardig en onseker van jouself voel, dan is dit nodig om jou aansien as “kind van God” vir jouself toe te eien.

Indien jy tans in ‘n grootheidswaan leef of geneig is om hoogmoedig neer te kyk op ander rondom jou, dan is dit nodig om ons eie onbenulligheid voor God opnuut te besef.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *