43.) Johannes

Johannes 15

‘n Paar jaar gelede was daar ‘n boek gepubliseer deur ‘n bekende outeur wat grootliks op hierdie Skrifgedeelte gebasseer was. Die basiese lyn van redenering was dat God ons snoei as ons nie vrug dra nie. Die boek roep jou dan op om pynlike gebeurtenisse in jou lewe te interpreteer as God se snoeiwerk, met die doel om jou te laat vrugdra.

Dit is eintlik niks nuut nie en ‘n baie algemene opvatting. Verskriklik baie gelowiges dink dit. Moslems ook. Die vraag is of dit waar is? Want dit is definitief nie wat die teks sê nie.

Jesus doen nogal moeite om in hierdie gedeelte te beklemtoon hoe Hy snoei:

  • Vers 3: “Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”
  • Vers 7: “As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur”

Die punt is gewoon ons moet uiters versigtig wees om mense se pyn en hartseer goedsmoeds aan God toe te dig, so asof Hy die outeur van hulle seer is. Natuurlik kan die Here alles ten goede laat meewerk – selfs tragedies wat mense tref. Maar dit beteken nie dat Hy elke ramp in jou lewe organiseer nie.

Godsdienste regoor die wêreld glo dat wanneer iets slegs met iemand gebeur, dat God aan die praat is. Maar godsdienste regoor die wêreld interpreteer nie hulle realiteit deur die kruis van Golgota nie.

As kinders van die Nuwe Verbond glo ons dat God nou anders met ons handel. Hy tug verseker. Maar Hy tug met die woorde wat Hy tot ons spreek. Dit is immers wat Jesus hier sê.

Die manier waarop Hy Godsvrug in ons voortbring, is deur die Woord van God in ons te laat ontkiem. Dit plaas natuurlik ook die rol en prioriteit wat ons die Bybel in ons lewe gee, in ‘n heel nuwe lig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *