Titus 1
Vanoggend kom ek nie verder as die aanhef van hierdie pastorale brief nie. Dit stuit my in my spore…
“Paulus, ‘n dienskneg van God en •apostel van Jesus •Christus, ter bevordering van die geloof van die uitverkorenes van God, en hulle kennis van die waarheid, wat ooreenstem met godvresendheid”
Let op die 3 verskillende fasette: Bevordering van geloof en die kennis van waarheid wat uitloop op godvresendheid.
As mens mooi nadink oor hoe ‘n volwasse gelowige sou lyk, sou hierdie 3 fasette teenwoordig wees. Dit sal iemand wees met ‘n sterk geloof. Dit sal iemand wees wie se geloof verryk is met kennis. Let wel: Hierdie 2 is nie dieselfde ding nie. Jy kry mense wat baie kennis het, maar nie geloof nie. En laastens help dit nie as jou geloof en jou kennis nie in praktyk uitspoel in ‘n godvresende lewe nie. Tog is ‘n godvresende lewe sonder geloof of kennis, ook nie genoeg nie.
Mens soek al 3 hierdie fasette in ons lewe: Geloof, kennis en godvresendheid.