54.) 1 Timoteus

1 Timoteus 3

Dit is belangrik om te sien dat hoofstuk 3 aansluit by wat in die vorige hoofstuk gesê is. As mens die groter prentjie in gedagte hou (kyk weer na die struktuur van 1 Timoteus by die Bybelboeke), dan sien mens dat Paulus besig is om vanaf 2:1-3:15 instruksies vir Efese te gee oor spesifieke probleme wat daar voorgekom het.

3:1-5 DIE IDEALE SOORT LEIERSKAP

  • 2:1-7 Het gehandel oor die inklusiewe aard van die evangelie en die uniekheid van God – in skrille kontras met die dwaalleraars wat God alledaags wou afmaak maar verlossing beperk het tot ‘n uitgesoekte paar “verligte” mense.
  • 2:8-15 Het gehandel oor ‘n regstelling wat Paulus wou maak mbt ontwrigtende leierskap.

In die volgende verse gaan hy dan voort om die ideale soort leierskap te beskryf. Vanaf 3:1-15 beskryf hy die soort leier by wie daar nie ‘n diskrepansie tussen uiterlike vertoon en innerlike opregtheid is nie.

3:1-7 DIE VEREISTE VIR OUDERLINGE

Die oorwegende gedagte wat Paulus met hierdie rits vereistes wil tuisbring, is dat ‘n “opsiener”/ouderling iemand moet wees wie se oggend- en aandpraatjies ooreenstem. Twee keer herhaal Paulus die belangrikheid dat die persoon se eie huishouding in orde is (4 & 5). Dit is dus belangrik dat die persoon nie iemand is wat ewe vroom na buite leef, maar by die huis is hy iemand anders nie.

Daarteenoor is dit ewe opmerklik dat dit glad nie onbelangrik is hoe die persoon deur die publiek beleef word nie. Die klem op ‘n goeie reputasie herinner sterk aan Spreuke wat sê dat ‘n goeie naam meer werd is as goud (Spr 22:1) Ons vind dus ook in inhoud dat die pastorale briewe aan die wysheidsliteratuur herinner.

3:8-15 DIE VEREISTE VIR DIAKENS

In die opsomming oor diakens, kom ons vir die tweede keer in die brief die gevaar van dronkenskap teë, en die derde keer die belang van ‘n skoon gewete. Ook hier word die belang om hulle eie gesin te kan bestuur, benadruk

PLIGTESTAAT VS GEDRAGSKODE

Dit is opmerklik dat die beskrywing van die ideale soort leiers, nie vir ons vertel wat hulle moet dóén nie – of selfs hóé hulle dit moet doen nie. Dit handel slegs oor watter soort mense hulle moet wéés.

Ons sou kon sê dat dit die verskil is tussen pligtestaat en ‘n gedragskode. Paulus stel nie daarin belang dat die regte dinge deur die verkeerde persone gedoen word nie. Dit is vir hom baie meer belangrik dat dit die regte soort mense is wat aan boord is – mense van deurleefde karakter.

AANSIEN VAN LEIERSKAP

Mens kry nogal die indruk dat die gemeente van Efese ‘n toeloop van mense gehad het wat leiers wou word. Twee keer word daar verwys na die feit dat leierskap ‘n verdienstelike saak in die oë van mense is (3:1 en 3:13).

Dit verskil natuurlik heelwat van vandag se tyd. Mens kry amper die idee dat in vandag se tyd skram mense weg van leierskap in die Kerk, terwyl in Timoteus se tyd hulle eintlik met die probleem gesit het dat te veel mense posisies van aansien wou beklee. Daarom vind Paulus dit nodig om leierskap te suiwer, regstellings te maak en die standaard te verhoog. Dit beteken natuurlik nie dat hierdie gedeeltes vir ons onbelangrik word nie. Dit beklemtoon eerder vir ons dat net omdat ons dalk in vandag se tyd desperaat vir dienswerkers is, ons nie enige gewillige persoon tot leier mag kies nie. Die standaard van deurleefde karaktervolle leierskap mag nie verlaag word nie.

MOET KERKLIKE LEIERS PERFEK WEES?

Ons almal ken natuurlik kerklike leiers wie se kinders nie die Here dien nie. Beteken dit dat omdat iemand se kind afvallig geword het, daardie persoon noodwendig as leier gediskwalifiseer word?

Nee, glad nie! Die andersheid van die nuwe verbond lê dan juis daarin dat ons nie aanspreeklik gehou word vir ander se sondige keuses nie – elkeen van ons neem verantwoordelikheid vir ons eie lewe.

Paulus se klem daarop dat kerklike leiers dus hulle huishoudings moet kan bestuur, is bloot ‘n oproep dat kerklike leiers mense moet wees wat dieselfde mens is by die huis as in die publieke oog. Hy is egter nie besig om te sê dat hulle perfek moet wees of dat hulle namens hul kinders moet besluit dat die Here gedien sal word nie.

Dit is baie pynlik vir toegewyde kerklike leiers as hulle kinders besluit om nie die Here te dien nie. Ons moet empatie teenoor sulke leiers kan toon dat ons begrip het vir hulle seer – en dat ons hulle steeds ag as leiers na wie ons kan opkyk.

3:15 DIE ROL VAN DIE KERK IN DIE WÊRELD

Paulus gebruik in die bestek van 2 sinne, 3 aangrypende beelde om die Kerk te beskryf. Hy sê: “dit is die kerk van die lewende God,* ‘n pilaar en ‘n fondament van die waarheid.” (1 Tim 3:15)

In die wispelturige wêreld waar alles aan die verander is, is die Kerk ‘n “fondament” en “pilaar” van die waarheid. Beide hierdie beelde beklemtoon standvastigheid.

Die mooi is dat ons nou 3 keer van huishoudings gelees het (1 Tim 3:4, 5 en 12), en hier lees ons dat ook die Kerk ‘n “huishouding” is (vers 15). Daardeur beklemtoon Paulus dat elke gelowige ‘n huisgenoot is – ‘n rol in hierdie huishouding het om te vervul.

Mens kan lank oor die implikasie van hierdie ekklesiologiese uitspraak nadink.

3:16 LOFROEP

Dit is die tweede van drie lofroepe in 1 Timoteus. Hierdie is ‘n baie besonderse lofroep want dit is in alle waarskynlik ‘n baie ou geloofsbelydenis of dalk ‘n frase uit ‘n lied wat gesing was.

In ses ritmiese reëls word daar verklaar:

  • Die Preëksistente God, het as mens na die wêreld gekom (sien ook Johannes 1:14).
  • Sy bekendstelling as Seun van God is deur die Heilige Gees as waarheid bevestig
  • Selfs die engele deel in sy heerlikheidsopenbaring
  • Die evangelieboodskap is aan die heidennasies verkondig
  • Wêreldwyd is daar mense wat in Hom glo
  • Hy is weer in heerlikheid opgeneem om sy plek aan die regterhand van die Vader in te neem.

Vroeë belydenisse of liedere soos hierdie is uit ‘n historiese oogpunt uiters kosbaar. Dikwels is daar sceptici wat wil aanvoer dat die eerste Christene nie regtig gedink het dat Jesus God is nie. Credo’s soos hierdie wys egter vir ons dat Christene van die vroegste tye geglo het dat Jesus inderdaad God is.

KERKLIKE TERME EN HIERARGIE

  • In hoofstuk 3 kry ons te make met spesifieke terme wat kerklike organisasie aandui. Soos ons in die oriëntasie gesien het, is die aanwesigheid van kerklike terme vir sommige ‘n aanduiding dat dit nie Paulus kan wees wat die brief geskryf het nie, omdat dit te komplekse organisasie was, en eerder kenmerkend sou wees van ‘n latere tyd.
  • Dit is egter belangrik om raak te sien dat hoewel daar 3 verskillende terme gebruik word, daar geensins sprake is van hierargie nie. Daarom is daar nie sprake van komplekse organisasie nie, bloot roltoekennings.
  • Die 3 terme wat gebruik word is
  • “episkopus” wat vertaal word met “opsiener” of “ouderling” (3:1)
  • “diakonos” wat vertaal word met “diaken” (3:12)
  • “presbuteros” wat vertaal word met “ouderling” (4:17) en ook met “ouer vroue” (5:2)

VROULIKE LEIERSKAP

  • Wat interessant is om raak te sien, is dat die maatreëls vir diakens (3:8-15) onnatuurlik onderbreek word deur ‘n aanmaning dat ook vroue van goeie karakter moet wees (3:11)
  • Anders gestel, die aanmaning dat vroue van ‘n goeie karakter moet wees (3:11) word omarm deur maatreëls vir diakens (3:8-10 & 12-15)
  • Die mees logiese verduideliking is dat ons nie hier met ‘n onderbreking te make het nie, maar dat die aanmaning dat vrouens van goeie karakter moet wees, deel is van die maatreëls vir diakens.
  • Dit kan verwys na die vrouens van diakens, maar dit kan ook verwys na diakonesse.
  • Die rol van diakonesse is definitief wat geïmpliseer word in latere gedeeltes van die brief, soos 5:9.
  • Wat net so interessant is, is dat wat as kerklike term beskou word, naamlik “presbuteros” (ouderling), word in 5:2 vertaal met “ouer vroue”
  • Dit is dus vir ons ooglopend dat daar definitief vrouens in leierskap was in die Efese gemeente, en dat Paulus nie teen alle vroulike leierskap is nie.
  • Sy streng woorde was gemik op vroulike leiers wat hulle posisie misbruik het

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: