1 Timoteus 2
Vandag se hoofstuk bestaan uit veral 2 gedeeltes…
(2:1-7) REDDING IS VIR ALMAL
- Dit val mens dadelik op dat Paulus inklusiwiteit beklemtoon: Voorbidding is vir almal (2:1), verlossing is vir almal bedoel (2:4), Jesus se losprys was vir almal bedoel (2:5)
- Die inklusiewe aard van die evangelie word gekontrasteer met die eksklusiewe aard van God: Daar is net een God, een middelaar (2:5)
- Dit staan natuurlik in skrille kontras met die boodskap van die Gnostiese dwaalleraars, naamlik dat net ‘n uitgesoekte paar mense “verlig” genoeg is om verlossing te ontvang – en dat ‘n stukkie “Godheid” in almal van ons is. Die evangelie staan lynreg teenoor hierdie dwaling.
- Paulus se gebruik van die woord “waarheid” (1:4 en vers 7) is daarom ook nie verniet nie. Dit sluit aan by die aanspraak van die Gnostiek dat hulle “waarheid” beet het.
- Dit is ook verder betekenisvol dat Paulus die gemeente aanmoedig om vir mense in gesagsposisies te bid, want dit spreek van in voeling wees met sy konteks. Die dwaalleraars daarteenoor het wêreldontvlugting gepropageer.
- Die frase ‘n “rustige en stil lewe” is ook van belang. Soos in die inleiding genoem was dit van kardinale belang dat daar niks in die samelewing gebeur wat die sosiale orde vertroebel nie. Die regering van die tyd het nie veel nodig gehad om die Christene te blameer vir alles wat fout gaan nie, en dan breek daar weer vervolging uit.
(2:8-15) REGSTELLING VAN ONTWRIGTENDE LEIERSKAP
- Vers 7 is ‘n interessante brug tussen die 2 gedeeltes. Aan die een kant benadruk Paulus die woord “waarheid” wat aansluiting vind by die taal van die dwaalleraars teenoor wie hy homself in die vorige gedeelte gestel het. Tog val die klem in vers 7 op hom as leier, en dit lui die nuwe perikoop in waar Paulus die ontwrigtende leierskap in die gemeente wil aanspreek.
- Soos in die voorafgaande gedeelte is Paulus weereens besig om meesterlik te kontrasteer: Hierdie keer tussen die uiterlike en die innerlike.
- Vers 8: Mans word aangemoedig om te bid – met die uiterlike kenmerk van hande omhoog (‘n tipiese gebedspostuur van die tyd). Maar dit help nie innerlike heiligheid ontbreek of die gebed gaan gepaard met woede en rusie met ander nie.
- Eweneens help dit nie dat vrouens hulself uiterlik tooi met juwele, vlegsels en duur klere. Hulle moet eerder innerlik getooi wees met goeie werke.
KONTEKSTUELE VERSTAAN
- Duidelik is Paulus besig om ‘n spesifieke probleem in die Efese gemeente aan te spreek.
- Ons weet reeds dat daar baie twisgesprekke was (1:4) – vandaar die vermaning dat die mans nie moet bid terwyl hulle in rusie met ander is nie (2:8).
- Nou moet ons konsekwent werk en raaksien dat ook die vermaning dat vroue nie leiding in eredienste mag neem nie, gemeente-spesifiek verstaan moet word en nie as ‘n universele, altydgeldende reël wat Paulus neerlê nie.
PAULUS EN VROULIKE LEIERSKAP
- Eerstens moet ons sê ons weet vir ‘n feit dat Paulus nie teen vroulike leierskap gekant was nie.
- In sy briewe verwys hy na etlike vroue – met groot lof – op die naam (Rom 16; Fil 4; 2 Tim 1; Filemon)
- Ons sien verder dat hy kennis dra van die feit dat vrouens op alle vlakke van diens vir die evangelie ingespan word (Rom 16:1-3; Fil 4:3; 1Tim 5:9-10,16)
- Ons sien ook dat Paulus swaar gesteun het op vrouens wat belangrike leiersfigure in die vroeë Kerk was (Hand 16:14,40)
- Verder beklemtoon Paulus in sy briewe dat mans en vrouens in Christus gelyk is (Gal 3:28)
- Wanneer Paulus dus in 1 Timoteus 2 so sterk standpunt inneem teen vroulike leierskap, dan is die logies dat dat dit nie ‘n universele altydgeldende reël wat hy neerlê nie.
- Hy tref ‘n maatreël spesifiek met betrekking tot die gemeente in Efese…
DIE PROBLEEM IN EFESE
- Paulus se maatreëls wat hy vir vroulike leierskap in Efese neerlê, moet verstaan word teen die agtergrond van 3 probleme wat almal saam die perfekte storm in Efese teweeggebring het.
- Die drievoudige probleem was: (1) Die sosiale stand van vroue, (2) die onbestendige regering en (3) die aard van die dwaalleer.
- 1) Die sosiale stand van vroue
- Vrouens het nie ‘n prominente sosiale stand geniet nie.
- Hulle het nie oor die algemeen in die openbaar verskyn nie, en moes tuis bly en het bykans geen formele onderrig ontvang het nie. Huwelike is dikwels vooraf gereël en vrouens se belangrikste taak was moederskap.
- Vroue is nie in eie reg as die gelyke van die man erken nie, en was onder die gesag van ‘n man.
- 2) Die onbestendige regering
- Keiser Nero het ten tye van hierdie brief, enige rede gesoek om Christene te vervolg en dood te maak.
- Daarom rig Paulus ‘n pleidooi vir gebed vir die regering en dat Christene ‘n “rustige en stil lewe” lei.
- Die alternatief is immers dat vervolging uitbreek.
- 3) Die aard van die dwaalleer
- Nou ontstaan daar ‘n probleem in die gemeente in Efese:
- As ons die situasie uit die beskikbare gegewens probeer rekonstrueer, dan wil dit vir ons lyk asof die lering van die dwaalleraars by veral ‘n paar prominente vroue in die gemeente opgang gemaak het (Sien bv 2 Tim 3:6-7). Hierdie vroue het dit geniet om uitspattig aan te trek (1 Tim 2:9-10) en om dan mense by die samekomste van die gemeente toe te spreek sodat almal se oë op hulle gerig was. Die valshede wat hulle kwytgeraak het wanneer hulle die mense toespreek, het soos gif deur die gemeente versprei (2 Tim 2:16). Daarom vind Paulus dit nie net nodig om op 2 verskillende plekke teen “praatsiek” vrouens te waarsku nie (1 Tim 3:11; 5:13) maar ook om hierdie vrouens te belet om in die erediens mense lering te gee (1 Tim 2:11-12).
- Paulus wil nie hê dat die inwoners van Efese die indruk kry dat Christene die sosiale orde wil omvergooi of versteur nie.
- Dit kan aanleiding gee tot onmiddelike vervolging.
- Christene moet rekenskap hou met die samelewing se persepsies.
- Bogenoemde, tesame met die feit dat die dwaalleer juis ‘n voet in die deur by die vroue in die gemeente gevind het, noop Paulus om te eis dat vrouens hulle in Efese in die eredienste stil moet gedra (1 Tim 2:12)
VERKONDIG PAULUS VERLOSSING DEUR MOEDERSKAP?
1 Tim 2:15 “Maar sy sal verlos word te midde van kindergeboorte, mits hulled volhou om gelowig, liefdevol, heilig en ingetoë te leef.”
- 1 Tim 2:15 mag nie geïsoleerd van 2:13-14 gelees word nie. Dit sluit ten nouste aan by die analogie wat Paulus tussen Eva en die vrouens van Efese trek.
- In 1 Tim 2:13-14 sê Paulus dat die vrouens van Efese verlei is deur leuens, net soos wat Eva destyds verlei was.
- Maar dan brei hy daardie beeld in vers 15 uit deur ook dadelik hoop te gee: Eva mag miskien mislei geword het, maar Eva het ook verlossing ontvang omdat sy aan die Messias geboorte gegee het.
- Eva word hier dus die “argetipe” van alle vrouens.
- Paulus is as’t ware besig om die vrouens van Efese hier op te hef en moed in te praat: Ons weet vir ‘n feit dat die Gnostiese dwaalleer, huwelike geminag het en wêreldontvlugting gepropageer het. As hulle huwelike geminag het, het hulle waarskynlik ook op moederskap neergekyk. Die arme vrouens van Efese word dus deur die Gnostiek wysgemaak dat tradisionele rolverwagtings omgekantel moet word.
- Paulus sê egter dat daar geen rede is om op moederskap neer te kyk nie. “Eva” het immers verlossing bewerk deurdat sy uiteindelik aan die Messias geboorte geskenk het.
- Die vrouens van vandag is ‘n voortsetting van Eva en hoef ook nie te voel iemand kyk neer op haar omdat sy kies om ‘n ma te wees nie.
- Op ‘n meestelike manier verhoed Paulus dat dit lyk asof hy “verlossing deur werke” – of liewer “verlossing deur moederskap” verkondig, want hoewel 2:15a sê dat vrouens die voortsetting van Eva is, stipuleer vers 15b die voorwaarde vir verlossing, naamlik dat elke individuele vrou sal volhard in geloof, liefde en heilige lewenswandel