1 Timoteus 4

Vers 1 van hoofstuk 4 sluit direk aan by die voorafgaande credo.

4:1-5 Rede vir afvalligheid

  • Soos reeds gesê verwys “die geloof” (met lidwoord) in die pastorale briewe na die inhoud van wat geglo word.
  • Dit is baie duidelik wat die inhoud of die leerstellings was wat geglo is, want Paulus het dit pas in die voorafgaande credo/lied genoem
  • Mense raak afvallig hiervan omdat die bose aan die werk is, en sy instrumente is gewetenlose dwaalleraars
  • Vers 3 noem ‘n paar van die leerstellighede: ‘n verbod op huwelike, ‘n wettiese kyk na kossoorte, twisgesprekke oor mites (7)
  • Vers 4 en 5 benadruk die reuse vryheid wat ons as Christene het. Nie net glo ons dat alles wat God gemaak het goed is nie, maar ook dat alles wat ons in gebed dankbaar aanvaar, verder geheilig word.

4:6-16 Belang van toewyding

  • Ons vind in hierdie perikoop die tweede “betroubare woord”, en weereens kan die frase na die sin verwys wat daarop volg of wat dit voorafgaan.
  • “want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. 9 *Dié uitspraak is betroubaar en werd om ten volle aanvaar te word. 10 Want hiervoor werk ons hard en stry ons, omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges.”
  • Vers 6: Let daarop dat Paulus vir die derde keer die term “Christus Jesus” kies, bo “Jesus Christus”
  • Vers 7 sou mens kon noop om te vra: “Hoe oefen ek myself om godvresend te leef?” Die antwoord kom by my op dat dit herhaling verg. Ons kies nie eenmalig om Jesus te volg nie. Dit is ‘n daaglikse besluit om ons gedagtes op Hom te rig. ‘n Paar verse later gebruik Paulus die frase “leef daarin” (v15). Dit herinner sterk aan Eugene Peterson se boek oor dissipelskap: “A long obedience in the same direction”.
  • Vers 10: Let op die herhaling van die term “God as Verlosser”

4:14 Genadegawes

  • ‘n Woord of twee oor wat ons in hierdie gedeelte oor genadegawes leer:
  • Dit wil vir ons voorkom of daar ‘n baie spesiale gebeurtenis in Timoteus se lewe was waartydens hy die hande opgelê is, daar vir hom gebid is en hy ook ‘n profetiese woord ontvang het.
  • Dit is nou die tweede keer wat Paulus daarna verwys in hierdie brief (1:18; 4:14)
  • Uit Paulus se opmerkings leer ons dat mens ‘n genadegawe kan onderdruk, verwaarloos of begin gering ag (vers 14)
  • Daarteenoor kan mens ook jou toespits op jou genadegawe, daarop fokus – en deur dit te doen blaas jy die vuur van die Heilige Gees aan (15)
  • Moet egter nie die fout maak en dink omdat iets ‘n genadegawe is, dit net vanself vloei nie. Dit het vir my persoonlik al baie beteken om raak te lees dat mens oor jare “vordering” kan toon in die uitleef van jou genadegawe.
« (Previous Post)
(Next Post) »

Leave a Reply

Your email address will not be published.