2 Kronieke 23
Vandag se hoofstuk bevat die tipe goed waarvan films gemaak word! Dit is omtrent ‘n paleisrewolusie!
Toe Ahasia sterf, neem die koninginmoeder haar kans en vermoor al die moontlike troonopvolgers. Maar ten spyte van haar goed beplande staatsgreep, kom een seuntjie van die koning lewend weg.
Die suster van Ahasia – en vrou van die priester Jojada – versteek die kind 6 jaar lank in die tempel. In die 7e jaar maak Jojada dit bekend en kry die volksleiers om hom to ondersteun as koning.
Toe Atalia dit sien, het sy geweet haar dae is getel, en sy is wreed vermoor. Dit herinner mens baie aan die woorde van Jesus…
“…almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom” (Matt 26:52)
Dit is ‘n wekroep vir elkeen van ons om nie aan ander te doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.
Die verdere interessante waarneming in die teks is hoe Jojada byna “namens” Joas besluite maak. Dit maak natuurlik heeltemal sin. Joas is nog ‘n kind. Jojada tree as sy beskermheer op.
Maar dit is opmerklik dat die voorneme om God te dien, meer die priester Jojada s’n is as die jong koning Joas s’n. Ek trek die boek van Fowler oor geestelike ontwikkeling nader, en kan nie help om te wonder of die klein Joas se geloof nog erens tussen ongedifferensieerde en geprojekteerde geloof van Jojada is nie.
Dit onderstreep maar die belang van om te belê in kinders se geestelike lewens – en ook die invloed wat mens op iemand anders se verhouding met die Here kan hê.