14.) 2 Kronieke

2 Kronieke 22

Die nalatenskap van Jehoram vervolg in hierdie hoofstuk, hierdie keer deur die lewe van sy seun Ahasia.

Ongelukkig volg Ahasia die pad van sy voorouers en doen hy nie die wil van die Here nie. En dit is juis hier waar ‘n mens ‘n tema begin raaksien.

In die vorige hoofstuk word koning Jehoram se afvalligheid aan sy vrou toegeskryf. Sy was die dogter van Agab (die Hebreeuse woord vir “dogter” kan ook met “kleindogter” of selfs “afstammeling” mee vertaal word (vers 6).

In hierdie hoofstuk volg Jehoram se seun, Ahasia, hom op. Ahasia se ondergang word ook toegeskryf aan sy Ma. Die teks lui…

“Ook hy het die paaie van die huis van Agab gevolg deur goddeloos op te tree – sy moeder was immers sy raadgewer.” 2 Kron 22:3

Die boek onderstreep met ander woorde die belangrike invloed wat hierdie vrou op die verloop van geskiedenis gehad het. En dit laat my sommer dink…

Ons hoor dikwels hoe belangrik die rol van ‘n goeie pa in die lewe van ‘n gesin is. En dit is natuurlik waar. Maar dit neem niks van die belangrikheid van ‘n goeie vrou of Ma weg nie. Duidelik het die stem van ‘n vrou net so reuse invloed op die verloop van geskiedenis.

Die belangrikheid van ‘n godvresende man in die familie – en die belangrikheid van ‘n godvresende vrou in die familie, ‘n twee gelyktydige waarhede. Die een sluit nie die ander uit nie.

My Pa het altyd vir my gesê dat my keuse van ‘n lewensmaat, die grootste keuse van my lewe gaan wees. Vandag kyk ek terug en weet ek hy was reg.

Die feit dat my vrou ‘n dissipel van Jesus is, bring soveel diepte in ons gesin. Ek sal graag daardie waarheid ook aan my seuns wil oordra.

Ek dink ook dan terug aan die rol van my Ma in my eie lewe. Haar spore en haar stem het ‘n reuse invloed op my gelos.

Ek dink dit is ‘n goeie dag om die Here te eer vir die vroulike rolmodelle in ons lewens: Dalk ‘n lewensmaat. Dalk ‘n moeder. Dalk ‘n onderwyseres, ‘n sussie, ‘n vriendin. Die Here los sy stempel op ons deur vrouens.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *