Psalm 145
Hierdie Psalm is wat hulle ‘n “akrostieke” Psalm noem. Dit beteken dat elke volgende strofe van die Psalm met die volgende letter van die alfabet begin.
Dit is met ander woorde nogal ‘n kunswerk in sy oorpronklike vorm. Die digter hardloop deur die alfabet en begin met elke volgende Hebreeuse letter, ‘n volgende strofe – sonder dat dit geforseerd klink!
Die sinsnede wat my vandag opval is vers 13: “U koningskap is ‘n koningskap vir alle ewighede, u heerskappy duur deur al die komende geslagte.”
In ‘n tyd wat so baie mense afvallig word en die Here los – so asof die Here “uitgedien” geraak het en niks meer het om in hierdie digitale tyd vir ons te sê nie, kom bely hierdie digter die waarheid: “Die Here is ‘n koning ook vir vandag”. En sy belydenis word natuurlik ook ‘n waarneming. Hoe meer ons dit bely, hoe meer sien ons dit raak. Ons sien toenemend raak hoe nodig ons hierdie Koning selfs in vandag se tyd het. Hierdie Koning is steeds relevant!