Galasiërs 2
Wat ‘n uiters kragtige hoofstuk is Galasiërs 2 darem! Kom ons kyk daarna…
2:1-10 Paulus word deur die ander apostels erken
- Obnthou, in die vorige hoofstuk het Paulus vertel dat die boodskap wat hy verkondig, vry van menslike invloed was. Dit is presies wat Jesus aan hom geopenbaar het.
- Hier vervolg hy nou deur te vertel dat hy baie jare later eers kontak met die ander apostels gehad het, en dat hulle sy boodskap toe goedgekeur het.
- Dit het so gebeur dat Titus – wat ‘n Griek is en dus onbesnyd is – saam met Paulus en Barnabas gereis het.
- Toe hulle in Jerusalem kom was daar gelowiges van Joodse agtergrond wat gevoel het dat Titus besny moes word. Paulus het egter geweier – en Jakobus, Petrus en Johannes het toe vir Paulus gelyk gegee.
- Daardeur het hulle sy boodskap goedgekeur
- Interessant is dat Paulus hier na 3 name verwys wat tesame sy boodskap goedgekeur het: Petrus, Johannes en Jakobus. Dit is opvallend dat dit nie net Petrus was leiding geneem het nie. Daar het ‘n gedeelde leierskap in die vroee Kerk gegeld.
2:11-14 In Antiogië wys Paulus vir Petrus tereg
- Ongelukkig was die vrede van korte duur, want kort daarna het Petrus ‘n lelike oordeelsfout begaan.
- Jode was gewoond daaraan om hulleself af te sonder van ander wanneer hulle eet. Petrus het nog die een oomblik in Antiogië saam met Paulus en ander nie-Jode geëet. Toe daar egter ‘n klompie vooraanstaande gelowiges van Joodse afkoms by hulle arriveer, het Petrus skielik hom eenkant begin hou van die gelowiges van heidense afkoms.
- Paulus het vir Petrus skerp hieroor aangespreek. Dit wat Paulus aan Petrus sê, bevat die hart van die evangelie: Ons word nie vrygespreek deur die nakoming van enige wet nie, maar deur ons geloof in Jesus en deur Jesus se getrouheid aan die wet
2:15-21 ‘n Mens word vrygespreek deur te glo
- Gal 2:16 is een van die voorbeelde in die Nuwe Testament waar die Griekse frase “die geloof in Jesus” ook vertaal kan word met “die getrouheid van Jesus”.
- Effektiewelik kom die teks dus neer op: “Op grond van ons geloof in Jesus en Jesus se getrouheid aan die wet, word ons vrygespreek.
- Vandaar die gedagte dat Jesus nou in my leef. Hy leef met ‘n getrouheid en ‘n oorgawe aan God se wil, wat meer is as wat ek ooit sou kon doen.