1 Korintiërs 1
Die eerste hoofstuk van die eerste brief aan Korinte, bied eintlik aan ons ‘n baie goeie prentjie van hoe die res van die brief ook gaan lyk…
1:1-3 AANHEF
Paulus plaas sy naam bo-aan die brief soos die gebruik dit vereis. Dan rig hy die brief aan almal wat die naam “Christus” as Here aanroep. Die belangrikheid hiervan kan ons maklik mis. Dit is in teenstelling met die gebruik om die naam van die Romeinse keiser as “Here” aan te roep. Eintlik verklap hierdie inleiding reeds die feit dat die lesers van die brief “anders” as die wêreld behoort te wees.
Meer fassinerend nog, is die feit dat Paulus die lesers as “heiliges” aanspreek (vers 2). As jy weet watter sondes Paulus in die res van die brief moet aanspreek, dan maak dit nie sin om hulle “heilig” te noem nie.
Hulle (en ons) is egter nie heilig agv ons eie gedrag nie. Hulle is heilig omdat Christus hulle geheilig het. Hierin lê die groot sleutel van die Nuwe Testament se beskouing van heiligmaking.
Wanneer ons opgeroep word om “heilig” te leef, is dit nie omdat ons daardeur ons verlossing moet verdien nie. Dit is eerder dat ons uitleef wat reeds in ons gebeur het. Ons word nie heilig nie. Ons is heilig. Daarom behoort ons te leef wat ons is. Daar moet kongruensie wees tussen wie ons is en hoe ons leef. Dit word ‘n sentrale tema van die twee briewe.
1:10-4:21 BESKRYF PROBLEEM
In die volgende perikoop beskryf Paulus die probleem van partyskappe. Mense se lojaliteit is aan ander mense gekoppel.
Wat dan volg, is ‘n tegniek wat dwarsdeur Paulus se brief gevolg word. Nadat hy die probleem beskryf het, beskryf hy ‘n oplossing aan die hand van ‘n beginsel uit die Evangelie.
1:18-4:21 BESKRYF OPLOSSING
Paulus se oplossing vir hierdie probleem van partyskappe, is om nie deur mense opgetrek te word nie, maar eerder oor God te roem. Maak Hom die prioriteit.