Galasiërs 1
1:1-5 Opskrif & seëngroet
Die ernstige trant van die boek is dadelik aanvoelbaar. Paulus se groet is saaklik en formeel – nie warm en persoonlik soos byvoorbeeld die brief aan Filippense nie.
Ook bevat Paulus se groet besonderse beklemtoning van sy apostelskap. Dit verklap verder die aard van die polemiek in die boek.
Paulus hou seën aan die gemeente voor – maar juis nie omdat hulle dit verdien nie. Dit is loutere genade – veral teen die agtergrond van dit wat hulle nou aanvang.
Die enigste rede waarom daar genade is, is te danke aan Jesus Christus wat “Homself gegee het vir ons sondes” – ‘n duidelike merker van die gedagte dat Christus as versoenoffer of substituut “ter wille van ons” gesterf het.
1:6-10 Die uniekheid van die evangelie
Paulus val sommer dadelik met die deur in die huis. Dit pyn hom dat die gemeente so vinnig agter mense aangeloop het wat ‘n “evangelie” verkondig wat indruis teen dit wat Paulus vir hulle verkondig het.
Paulus voel so sterk oor hierdie punt, dat hy enige iemand wat ‘n ander evangelie sou verkondig – selfs al sou dit ‘n hemelse wese wees – vervloek. Om te voorkom dat niemand dink dat Paulus nou maar sommer op die ingewing van die oomblik bietjie impulsief is nie, herinner Paulus hulle aan die feit dat hy dit vantevore reeds vir hulle gesê het.
Ons sien in hierdie perikoop 2 ander interessanthede. Eerstens sien ons dat die woord “evangelie” wat bloot “goeie nuus” beteken – teen hierdie tyd as term al so gevestig geraak het, dat dit ‘n selfstandige naamwoord geword het. Teoreties kan daar nie ‘n evangelie naas die “goeie nuus oor Jesus” bestaan nie, maar in Paulus se gedagtes is dit wel moontlik dat iemand ‘n “ander evangelie” (vers 8 en 9) kan verkondig. Dit wys ons sommer op die verskynsel hoe woorde se betekenis oor tyd skuif.
Die tweede interessantheid het te make met die stories wat die opponente van Paulus oor hom versprei het. Daar is nie ‘n presiese lys wat vir ons puntsgewys uiteensit wat die opponente geglo of gesê het nie – tog kan ons met redelike groot sekerheid die dwaling en ook die skinderstories rekonstrueer.
Neem byvoorbeeld wanneer Paulus sê: “10Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie”
Hieruit kan ons aflei dat daar ‘n skinderstorie oor Paulus versprei is dat hy die guns van mense gesoek het. Gesiene dat die res van die brief oor die besnydenis handel en waarom dit nie nodig vir nie-Jode is om besny te word nie, kan afgelei word dat die opponente die storie versprei het dat Paulus die guns van die heidene probeer wen het deur te sê dat die besnydenis oorbodig is – terwyl dit eintlik wel iets is wat God verwag (aldus volgens die opponente).
Om hierdie rede kan Paulus – direk nadat hy die verkondigers van wettisisme vervloek het – vir die lesers van die brief vra of dit klink of dit sy styl is om mense maar net te probeer paai.
1:11-24 Hoe Paulus ‘n apostel geword het
In hierdie perikoop probeer Paulus aantoon dat die boodskap wat hy verkondig, nie een is wat hy by mense gehoor het nie (vers 16) maar iets is wat hy direk van God ontvang het (vers 12).
Ons moet bewus wees van die steurnis wat dit by ons veroorsaak: As ons vandag van iemand hoor wat aanspraak daarop maak dat hy nie sy preke laat filter of temper deur ander medegelowiges nie, maar dat hy regstreeks by God hoor wat om te sê, dan raak ons versigtig vir ‘n kranksinnige.
Paulus probeer egter nie sê dat hy volleerd is of dat hy nooit enige feite by ander gelowiges nagegaan het nie. Om die waarheid te sê het hy juis sy boodskap aan hulle vir goedkeuring voorgelê.
Wat Paulus wel probeer te kenne gee, is dat sy boodskap suiwer, ongeskonde en onverdund is. Dit is nie deur mense afgewater of besoedel nie. Dit is die presiese boodskap wat hy by Jesus ontvang het tydens die openbaring. En dit gee gewig aan die boodskap – maar ook aan Paulus se aanspraak op apostelskap, want ‘n apostel is iemand wat Jesus gesien het.