1 Timoteus 6
Hoofstuk 6 is ‘n voortsetting van die “Haustafeln” of huisreëls waarmee daar in hoofstuk 5 begin is:
6:1-2a SLAWE
- Dit is opmerklik dat Paulus sosiale onrus of sosiale omverwerping teëstaan – waarskynlik oor dit weer vervolging tot gevolg kan hê.
- Hy moedig slawe aan – en baie mense in die eerste gemeentes was slawe – om respekvol teenoor hulle eienaars te bly. Indien die eienaar ‘n ongelowige is en ‘n Christen slaaf wangedra hom/haar, dan bring dit die geloof in diskrediet. Indien die eienaar ook ‘n gelowige is, dan is daar soveel meer rede om diensbaar te bly want hulle is broers van mekaar.
- Dikwels word Paulus deur vandag se lesers daarvan beskuldig dat hulle nie genoeg gedoen het om slawerny af te skaf nie. Mens moet 2 dinge in gedagte hou…eerstens die wesenlike gevaar van volskaalse vervolging wat kon uitbreek met sosiale onrus. Tweedens moet mens nie die soort slawerny wat in die tyd van die Nuwe Testament onder Romeinse oorheersing bestaan het, gelykstel met die slawerny waaraan Afrika onderwerp was nie. Dit is twee totaal verskillende goed.
6:3-10 LEIERS MET BEDEKTE MOTIEWE
- In vers 3 kry ons ‘n baie goeie idee oor die inhoud van die leer van die Vroeë Kerk: “die woorde van ons Here Jesus Christus” en “ware godvresendheid”. Dit beteken dat teen die tyd wat hierdie brief geskryf is (ongeveer 64nC), was die gemeentes bekend met die woorde van Jesus – naamlik daar was al teen daardie tyd geskrewe dokumente wat die woorde van Jesus bevat het. Waarskynlik Evangelies soos Markus – maar heel waarskynlik ook ander bronne wat intussen vergaan het, maar wat as bron gedien het vir die ander evangelies.
- Vers 4 daarteenoor wys vir ons die omvang van die valse leringe: “meningsverskille, stryery oor woorde, afguns, rusie ens ens”
- Vers 6 is ‘n pragtige aanmoediging tot vergenoegdheid. Onvergenoegdheid is die giftigste ding. Dankbaarheid daarteenoor vrolik jou hele lewe op.
6:11-14 HERHALING VAN MANDAAT
- Vers 11 bevat ‘n pragtige woordspel. Die gedagte wat oorgedra word is om te hardloop. Aan die een kant word daar weggehardloop van die slegte dinge. Aan die ander kant word daar gehardloop na “geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding en sagmoedigheid.
- Vir die derde keer in die brief herhaal Paulus sy mandaat aan Timoteus
6:15-16 LOFROEP
- Dit is asof daar ‘n opbou van intensiteit is elke lofroep. Die eerste lofroep (1:17) was een wat bloot “God” besing het. Die tweede lofroep (3:16) was pragtig trinitaries. Maar die laaste lofroep (6:15) is uit en uit Christologies. Dit besing Jesus as enigste heerser en Koning van Konings.
6:17-25 RYK MENSE
- Timoteus moet ryk mense aanmoedig om in die regte dinge ryk te wees: ryk in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam
- Dit bring vir hulle loon in die hiernamaals.
6:20-21 AFSLUITING
- Die feit dat Paulus na die dwaalleer verwys as die sogenaamde “kennis” is duidelike getuienis dat dit die voorloper van die Gnostiek was.