2 Kron 30
Wat ‘n interessante hoofstuk! En hoe maklik kan hierdie hoofstuk darem nie aanleiding gee tot misverstand nie!
Ons lees in hoofstuk 30 hoe die volk voorbereidings tref om die Pasga in die tweede maand te vier, omdat daar nie genoeg priesters hulleself gereinig het om dit betyds in die eerste maand te vier nie.
Hierdie buitengewone reëling vind nie byval by die volk nie, maar ook by God.
Met ‘n eerste oogopslag lyk dit of die boodskap van die teks vir ons te kenne gee dat – indien mens nie God se voorskrifte kan hou nie, dan “doen mens maar wat jy kan”. Dit wil voorkom of 50% gehoorsaamheid beter is as 0% – en dat God tevrede is met dit.
So beskou, sou ons hierdie teks kon misbruik om te sê dat ons as mense kan – indien ons goed in God se Woord vind wat te moeilik is om te onderhou – dit verander totdat dit binne ons bereik of smaak is.
Bogenoemde sou egter ‘n groot wanvoorstelling wees van wat in hierdie teks aan die gang is.
Ons lees male sonder tal in God se woord hoe belangrik dit vir God is dat ons hom voluit dien en 100% gehoorsaam. Daar is nie ruimte vir “eie interpretasie” of “eie diskresie” nie.
Selfs die beste van motiewe, troef nie gehoorsaamheid nie. Dink maar aan die man wat wou keer dat die ark van ontmoeting nie val nie. Hy het sy hand uitgestrek om dit te vang, terwyl God bepaal het dat net die priesters dit mag raak.
Hierdie Skrifgedeelte sê nie dat ons na eie goed dunke God kan dien of aan sy bepalings kan verander totdat dit ons pas nie.
Die “vergunning” om die Pasga in die 2e maand te vier, was nie ‘n “vergunning” wat die mense vir hulleself gemaak het nie, maar ‘n vergunning wat God in sy wet ingebou het. (Num 9:10-11)
Ons moet verder onthou dat die gesindheid van die volk was nie om hier te kyk met hoe min hulle kan “wegkom” nie. Hulle wou graag die Pasga vier, maar omdat die volk dit so lanklaas gevier het was hulle nie meer gekonfyt in hoe lank dit neem om die priesters te reinig en die volk in Jerusalem byeen te bring nie.
Ons sien in hierdie teks veel eerder ‘n prentjie van God wat geduldig met sy volk handel om hulle weer op die regte pad te kry. Hy is genadig en lankmoedig. Dit is vir Hom belangrik dat die volk Hom nougeset dien – maar Hy sien ook hulle onkunde en opregtheid. Ons kan dieselfde gesindheid teenoor ons verwag.