2 Kron 29
Die hoofstuk oor koning Hiskia begin deur te vertel hoe hy onmiddelik weggespring het deur hervormings aan die afgewaterde tempeldiens aan te bring.
2 Kron 29:3-5 Hy is die een wat reeds in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maandb al, die deure van die huis van die Here oopgemaak en dit herstel* het. 4 Hy het die priesters en Leviete laat ingaan en hulle byeengebring op die plein aan die oostekant. 5 Hy het vir hulle gesê: “Luister na my, Leviete! Heilig julleselfc nou, en heilig die huis van die Here, die God van julle voorouers, en verwyder die besoedeling uit die heiligdom.
Die res van die hoofstuk vertel van al die verbeteringe wat hy aangebring het. Tog is daar iets aan hierdie sin wat my pla.
Dit vertel hoe ‘n koning vir priesters moet opdrag gee om hulleself en die tempel te reinig. Moet daardie dryfkrag nie juis van die geestelike leiers se kant kom nie? Hoe is dit dat die koning hulle moet aanmaan om hulle kant te bring?
In sekere tye van die geskiedenis was dit andersom. Dink byvoorbeeld aan toe die profeet Natan vir koning Dawid gekorrigeer het. Daar is dus voorbeelde waar geestelike leiers hulle werk gedoen het en selfs teen die koning gegaan het.
Maar in hierdie geval volg die geestelike leiers die leiding van die koning. As hierdie situasie my iets leer, dan is dit hoe kragtig die invloed van goeie (en slegte) leierskap kan wees.
Ons kort mense wat die dapperheid het om hulle neus in die regte rigting te druk en te sê “volg my!”