Hooglied 5
Hooglied is bekend vir die beeldryke taal – en hoofstuk 5 is geen uitsondering nie.
In die hooostuk beskryf die meisie ‘n nagmerrie wat sy gedroom het. Sy het droom haar verliefde het in die nag na haar huis gekom, maar toe sy vir hom die deur oopmaak het hy skoonveld verdwyn. Sy het hom gaan soek, en toe het nagwagte in die stad haar gekry en aangesien vir ‘n prostituut wat op straat is.
Sy begin deur haar droom te beskryf met die woorde… “Ek was aan die slaap, maar my hart was wakker.” (Hoogl 5:2) Dit is ‘n pragtige manier om daardie toestand te beskryf wat ons almal maar al te goed ken. Jy slaap maar jou gedagtes hol rond.
Sy beskryf die oomblik toe haar verliefde verdwyn as volg: “Toe hy wegdraai, het dit geduisel in my” (Hoogl 5:6). Letterlik staan daar “my lewe het uitgegaan”. Ook daardie gevoel is so raak beskryf. Ons ken almal daardie gevoel as ‘n groot skok jou laat voel asof die lewe uit jou uit sypel.
Die droom gaan voort dat die ander meisies haar verwyt met die woorde: “Wat maak jou liefste beter as ander?” (Hoogl 5:9) Sy volg dan met ‘n rits pragtige beskrywings van haar verliefde.
Dit is pragtige beskrywings, maar mens moet eerlik wees dat sy nie regtig die meisies se vraag antwoord nie. Sy beskryf haar verliefste se pragtige voorkoms, maar jy kan nie help om te dink dat baie ander mense ook mooi voorkomste het nie.
Dit is miskien wat vir my so treffend in hierdie stuk is: Hoe subjektief liefde is. Aantreklikheid is iets wat elkeen van ons anders gaan beskryf.
Die teks los my met ‘n gevoel van waardering vir my vrou. Sy is pragtig vir my.
Maar ek wonder ook wat die teks in iemand losmaak wat nie ‘n lewensmaat het nie? Dalk ‘n verlange om iemand te hê na wie jy so kyk en wat so na jou kyk?
Die liefde is iets pragtig wat die Here geskep het. As jy ‘n lewensmaat al ontvang het, dank vanoggend die Here vir hom/haar. As jy enkellopend is, plaas ook daardie pakkie emosies in die Here se hand.