Ps 149
Ons kry in hierdie Psalm weer met die tema van ‘n “nuwe lied” te make. Die openingsverse lui:
Sing vir die Here ‘n nuwe lied – sy lof in die byeenkoms van getroue volgelinge!
Dit is ‘n geliefde uitdrukking en kom verskeie kere in die Bybel voor – van die Psalms tot in die profetiese literatuur.
Die oproep om vir die Here ‘n “nuwe lied” te sing is natuurlik niks anders as om vars maniere te vind om vir die Here te sê dat jy vir Hom lief is nie.
Die Psalmdigter wil voorkom dat ons verval in geykte maniere en dat ‘n lewendige verhouding met die Here verstar in lewelose vormgodsdiens.
So belangrik as wat dit is dat mens in ‘n huwelik nuwe maniere vind om jou liefde aan jou lewensmaat uit te druk, so belangrik is dit om dieselfde in jou verhouding met die Here te doen.
Dit is immers ook wat Hy met ons doen…
Dit is opvallend dat wanneer die term “nuwe lied” in Openbaring gebruik word, dit juis is wanneer die Lam van God op die toneel kom.
Jesus is God se “nuwe lied” aan ons – sy vars uitdrukking van liefde aan ons.