Waarom is Matteus se gebruik van die woord “ekklesia” (kerk) noemenswaardig.

Wel, die eerste rede waarom dit noemenswaardig is, is omdat dit so skaars is.

Matteus is die enigste evangelieskrywer wat die woord “ekklesia” (ἐκκλησία) oftewel “kerk” gebruik. Dit kom twee keer in sy evangelie voor:

  1. Matteus 16:18“En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk (ἐκκλησίαν) bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
  2. Matteus 18:17“As hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente (ἐκκλησία); en as hy selfs na die gemeente nie luister nie, laat hom vir jou wees soos ‘n heiden en ‘n tollenaar.”

WAT MATTEUS NIE BEDOEL NIE

Op grond van die konteks van Matteus, kan ons sê dat sy gebruik van “ekklesia” nie verwys na ‘n fisiese gebou of ‘n kerkstruktuur nie, maar na ‘n groepering van mense.

DIE GEBRUIK VAN DIE WOORD IN ANDER KONTEKSTE

  • Die term “ekklesia” was ‘n algemene Griekse woord vir ‘n vergadering van mense (soos in die Atheense demokrasie), maar in die Septuaginta (LXX) – die Griekse vertaling van die Ou Testament – word “ekklesia” as ‘n ekwivalent vir die Hebreeuse “qahal” gebruik, wat die “gemeente van Israel” beteken.
  • Wanneer Matteus dus die term “ekklesia” gebruik, sinspeel dit op die feit dat Jesus ‘n nuwe geloofsgemeenskap oprig, soortgelyk aan die “gemeente van Israel” in die Ou Testament, maar nou gefundeer op Jesus self.

WAAROM JUIS MATTEUS HIERDIE TERM GEBRUIK

Daar is ‘n paar belangrike redes waarom juis Matteus hierdie term gebruik, terwyl die ander evangelies dit nie doen nie: Die belangrikste hiervan is dat Matteus vir ‘n Joods-Christelike gehoor skryf.

  • Matteus se evangelie is duidelik gefokus op Joodse gelowiges wat Jesus as die Messias aanvaar het.
  • Dit pas by Matteus se teologiese tema dat Jesus die “nuwe Moses” is, wat ‘n nuwe volk lei, net soos Moses Israel gelei het.
  • Dit is ‘n uitbreiding van Israel se rol as God se volk, maar nou gesentreer om Jesus.

EN DIT IS HOEKOM DIT NOEMENSWAARDIG IS…

Mens hoor dikwels dat kritici die aantuiging maak dat Jesus nooit bedoel het om ‘n nuwe godsdiens van stapel te stuur nie. Die argument is bedoel om ‘n subtiele verwyt teen die Christendom te wees. Dit probeer maak asof Jesus eintlik net ‘n leier was wat ‘n morele etiek van liefde probeer benadruk het, en dat die Christendom wat (ongelukkig) vanuit sy leer en lewe ontstaan het, ‘n byproduk was wat Hy nie voorsien het of wou hê nie.

Matteus se gebruik van die woord “ekklesia” kelder egter bogenoemde argument:

  • Die feit dat Jesus sê “my kerk” in Matt 16:18, impliseer dat Hy ‘n nuwe verbondsgemeenskap skep – wat rondom Hom gesentreer word.
  • Nes Moses die slawe uit Egipte gelei het, en hulle ‘n nuwe volk geword het (Eks 3:12; 19:6), lei Jesus mense uit slawerny en vestig Hy ‘n nuwe mensdom, ‘n nuwe volk, rondom Hom.

Die “ekklesia” (kerk) is nie ‘n ongelukkige byproduk van Jesus nie. Die “ekklesia” was sy plan van die begin af.