Joppe

Informasie oor Joppe/Jaffa…


Tel-Aviv

Israel is ‘n smal langwerpige land, en Tel Aviv is omtrent in die middel van Israel aan die Weste kant. Dit is een van die oudste hawestede in die mens se geskiedenis! Die see wat ons daar sien is die Mediterreense see.

Die naam Tel Aviv het ‘n interessante herkoms. ‘n “Tel” is ‘n argeologiese term wat dui op ‘n mensgemaakte berg. In die antieke tyd wanneer een beskawing deur ‘n ander oorgeneem is, is die stad deur die oorlog verwoes en platgeslaan en dan is daar dikwels bo op dieselfde plek nuut begin bou (vanweë die nabyheid van waterpunte). Soos wat een beskawing op die ander een bou, begin die topografie van die gebied letterlik te verander. Eers ontstaan daar ‘n bult, later ‘n heuwel en selfs later ‘n berg (Jerusalem is ‘n goeie voorbeeld hiervan).

Die Egiptenare het al 3000vC by wat vandag Tel Aviv is (asook Haifa en Asdod – Israel se ander hawestede), voet aan wal gesit. Sedertdien is die gebied van Tel Aviv nog altyd bewoon deur verskillende beskawings. Vandaar die naam “Tel”

Die tweede deel van die naam is “Aviv”, en dit is die Hebreeus vir “lente”. Soos wat daar nuwe bloeisels in die lente blom, so het hierdie ou antieke stad ook nuwe lewe. Vandag is dit ‘n moderne vooruitstrewende stad.

Die naam Tel Aviv kombineer dus die oue met die nuwe. Maar dit is meer as net woordspel. Dit dien ook as herinnering vir die Jode vir hulle tyd in ballingskap. Ons lees in Esegiël 3:15 dat daar ‘n stad in Babilonië was met dieselfde naam waar ballinge gebly het. Vir sendingwetenskaplikes is Eseg 3:15 ‘n belangrike vers. Dit noem dat Esegiël vir 7 dae lank (‘n simboliese getal) net tussen die ballinge in “Tel Abib” gebly het sonder om te praat. Hy het hulle net dopgehou. Sendingwetenskaplikes sê ons kan by Esegiël leer om eers gemeenskappe deeglik te leer ken voor ons vir hulle begin preek.


Joppe / Jaffa

Een van die voorstede van Israel se stad Tel Aviv, is Jaffa. Jaffa is dieselfde plek wat in die antieke tyd as Joppe bekendgestaan het. Ons lees dikwels in die Bybel van Joppe, omdat dit so belangrike hawestad was. Kyk byvoorbeeld wat lees ons in 2 Kron 2:15 oor die bou van die tempel…

15As u nou vir ons die koring, gars, olie en wyn stuur soos u onderneem het, 16sal ons al die hout wat u nodig het, in die Libanon kap en dit in vlotte met die see langs vir u na Joppe toe bring. U kan dit dan na Jerusalem toe laat vervoer.”

2 Kron 2:15

Salomo het met ander woorde duur Sederbome deur hierdie hawestad ingevoer om die tempel te kan bou. Na afloop van die Babiloniese ballingskap het die mense teruggekeer na die beloofde land en gepoog om die tempel weer te herbou. Esra 3:7 verhaal hoe hulle weer seders hier laat invoer het…

7Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring”

Esra 3:7

Maar die bekendste Ou Testamentiese verhaal wat deels in Joppe afgespeel het, is díe van Jona. Ons lees in Jona 1:1-3

“Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” 3Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ’n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe”

Jona 1:1-3

Ons weet dus nie vanwaar Jona oorspronklik was nie, maar ons weet hy het Joppe toe gegaan om te vlug. En as mens die kaart bestudeer sien mens die ironie. Hy word na Nineve gestuur wat in die Ooste lê (vandag in Irak). Maar hy vlug na Tarsis wat in die Weste lê – presies in die teenoorgestelde rigting. Dit is ‘n baie grafiese uitbeelding hoe ongehoorsaamheid teenoor die Here lyk!