Psalms
Gebruik die volgende informasie om die Psalmbundel beter te verstaan…
1.) LITERATUUR
1.1) WAAR KOM DIE NAAM VAN DIE BOEK VANDAAN?
Die naam het sy bestaan aan die Hebreeuse woord “mizmôr” te danke. Die woord beteken “melodie” – maar interessant genoeg is die enigste plek in die Bybel waar jy die woord vind, in die titels van die Psalms.
1.2) HOE PAS DIE BOEK IN DIE GROTER PRENTJIE VAN DIE BYBEL?
Die Psalms is deel van die Joodse Tanakh – oftewel ons Ou Testament. Die Jode het dit beskou as deel van die Ketuvim (die Geskrifte)

2.) HOE LYK DIE STRUKTUUR VAN DIE BOEK?
Met ‘n eerste oogopslag mag dit dalk vir jou lyk asof mens met 150 losstaande gedigte te make het wanneer jy die Psalms deurlees, maar gou kom mens agter dat die bundel ‘n beoogde struktuur het:

Hier is so paar dinge wat jy in die struktuur moet raaksien:
- Die 150 Psalms is in 5 boeke opgedeel.
- Ons weet die bedoeling is dat dit 5 boeke is, omdat elke boek met dieselfde soort “slotdoksologie” of lofuiting eindig.
- Waarskynlik het die “5 boeke” ten doel gehad om die “5 boeke van Moses” (oftewel die Pentateug) in die Psalms te versinnebeeld.
- Wat meer is, is dat die laaste 5 Psalms ook almal lofliedere is – so asof die struktuur van die boek probeer sê dat mens wel begin om die Here te doen omdat dit die regte ding is om te doen (Ps 1), maar op die ou einde dien mens die Here omdat dit vreugde bring.
- Die verhouding klaagliedere teenoor lofliedere wat verspreid oor die 150 Psalms lê, onderstreep hierdie struktuur. Die konsentrasie van die klaagliedere vind ons aan die begin en middel van die boek, terwyl die konsentrasie van die lofliedere die swaarste aan die einde van die boek weeg.
- Tussendeur die 150 Psalms vind ons – op baie strategiese plekke – die Messiaanse Psalms geplaas.
- In elkeen van die 5 boeke, is daar kleiner versamelings, bundels of eenhede van Psalms wat saam hoort – soos byvoorbeeld die Dawidsbundel, die Asafpsalms, die Pelgrimsliedere ens
- Een van die opmerklike verskynsels, is ‘n bundel wat oor boek 2 en 3 strek, genaamd die “Elohistiese bundel”. Dit is omdat die verbondsnaam van “Yahweh” (Here) in hierdie bundel oorwegend verruil word vir die woord “Elohim” (God).
- ‘n Tipiese voorbeeld hiervan sien ons as ons Ps 14 en Ps 53 met mekaar vergelyk. Dit is in wese dieselfde Psalms, behalwe vir die gekose naam vir God.
Ps 14
Vir die koorleier. Van Dawid.
Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is ’n gruwel vir die Here.
Daar is nie een wat goed doen nie. 2Van die hemel af kyk die Here die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra.
4Julle almal wat onreg pleeg, wat my volk opeet asof julle brood eet en wat weier om die Here te dien – weet julle dan nie 5dat daar iets vreesliks met julle gaan gebeur nie?
Ps 53
Vir die koorleier: met fluitspel. ’n Gedig van Dawid.
2Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is ’n gruwel vir God.
Daar is nie een wat goed doen nie. 3Van die hemel af kyk God die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra.
5Julle wat onreg pleeg, wat my volk opeet asof julle brood eet, en wat weier om God te dien – weet julle dan nie 6dat daar iets vreesliks met julle gaan gebeur, so vreeslik soos nooit tevore nie?

3.) OUTEURSKAP
3.1) WAT IS DIE BIOGRAFIES INLIGTING WAAROOR ONS BESKIK?
Die naam “Dawid” word aan 73 Psalms toegedig – hoewel sommige mense van mening is dat hy 75 geskryf het. Volgens die Joodse tradisie is Dawid verantwoordelik vir 88 van die Psalms, Moses vir Psalm 90-100, Jeremia vir Psalm 137, Haggai vir Ps 146 en Sagaria vir Ps 147.
Ander outeurs wat geïmpliseer word is Etan, Heman en Salomo.
Die ware outeurskap agter die Psalms is egter baie moeilik bepaalbaar. (Sien punt 3.1)
3.2) HOE HET DIE PSALMBOEK TOTSTAND GEKOM?
Hoewel die 150 psalms meesterlik gerangskik is, is dit nie hoe die bundel van die begin af gelyk het nie. Die Psalmbundel het sy bestaan waarskynlik te danke aan die feit dat verskeie losstaande gedigte waarin dieselfde tema voorkom, aanvanklik aan mekaar geheg is sodat dit later ‘n eenheid begin vorm het.

As voorbeeld kan Ps 50 en 51 genoem word, wat beide oor diere-offers handel. Beide Ps 34 en 35 maak byvoorbeeld melding van Engele. Die woord “duif” kom in beide Ps 55 en 56 voor. Ps 3, 4 en 5 word weer saam gegroepeer omdat dit more- en aandliedere is. Op ‘n soortgelyke wyse hoort Ps 20 en 21 bymekaar omdat die een ‘n gebed vóór ‘n stryd is en die ander ‘n gebed vir na afloop van die veldslag.
Waarskynlik was baie van die gedigte ook eers vir lank net mondelings van geslag tot geslag oorgedra. Eers op ‘n latere stadium het versamelaars die gedigte neergepen en saamgebundel. Aanvanklik was meeste van die gedigte ook anoniem. Eers later is dit van opskrifte voorsien. Psalms met dieselfde opskrifte het mettertyd ‘n eie versameling of bundel begin vorm – soos die Psalms van die Koragiete (42-49).
3.3) WATTER FUNKSIE VERRIG DIE OPSKRIFTE?
Die opskrifte by die Psalms het nie ‘n enkelvoudige doel nie, en daar moet eerder van Psalm tot Psalm bepaal word wat die doel van die opskrif is. Gewoonlik dui ‘n opskrif op een van vyf moontlikhede:
3.1) OUTEURSKAP
Soms het die opskrifte ten doel gehad om outeurskap te kenne te gee. Maar ons weet vandag dat nie elke Psalm waaraan ‘n spesifieke naam gekoppel word, deur daardie persoon geskryf is nie. Nie elke Psalm waaraan die naam “Dawid” byvoorbeeld gekoppel word, is deur hom geskryf nie. Neem Psalm 24 as voorbeeld…
24 ’n Psalm van Dawid.
Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here, 2want Hy het die fondamente daarvan in die see gelê en dit stewig gevestig in die waters. 3Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? 4Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.
Psalm 24 bevat terme – soos “heiligdom” – wat tot die tydperk van die tempel hoort. Die tempel was nog nie in Dawid se tyd gebou nie. Dit is eers later tydens Salomo se koningskap gebou.
Dit is dus moontlik dat Dawid glad nie Psalm 24 geskryf het nie – of dit is moontlik dat hy oorspronklike gedeeltes geskryf het en dat latere redakteurs sekere frases bygevoeg of terme verander het. Dit doen egter geensins afbreek aan die feit dat die gedigte steeds deur God geïnspireer is nie – dit is uiteindelik deur God se toedoen dat dit vandag lyk soos wat dit lyk.
Pseudografiese psalms (psalms wat iemand anders onder ‘n bekende se naam geskryf het) is waarskynlik vinniger in die geloofsgemeenskap opgeneem en gebruik. Dit is moontlik een beweegrede vir die verskynsel.
Vir ons moderne mense bly dit ‘n vreemde gebruik wat ons laat frons. Dit voel byna soos bedrog.
In die antieke tyd was dit egter ‘n algemene gebruik om geskrifte aan iemand belangrik toe te dig. Die doel was nie noodwendig altyd om alleenlik die indruk van outeurskap te skep nie. Dit kon ook gewees het om vereenselwiging met die belangrike figuur uit te druk, of dat die dokument in lyn met is met die belangrike figuur se styl en gees en as’t ware in die “Dawid-tradisie” staan.
Die punt is wel dat ons nie goedskiks outeurskap kan aanvaar net omdat ‘n sekere naam in die opskrif van die Psalm verskyn nie.
Met dit gesê moet daar eweneens gewaak word om nie te vinnig outeurskap van belangrike antieke figure van die tafel af te vee nie. Ons moet die belangrikheid van die mondelinge tradisie nie onderskat nie. Dit was ‘n ernstige saak om die oorleweringe van voorgeslagte te bewaar. En toe hierdie tipe oorleweringe eers neergeskryf is, was die geskrifte van onskatbare waarde. Ons kan dus verwag dat daar moeite gedoen sou word om die werke van Dawid te versamel en te bewaar sodat dit vir die nageslag behoue kon bly (Sien bv 2 Kron 29:30).
3.2) AANDUI VAN ‘N VERSAMELING
Soms word daar tempelgildes in die opskrifte vermeld. Sommige opskrifte lui byvoorbeeld: “’n Psalm van Asaf” of “’n Psalm van Korag”. In sulke gevalle dui die opskrif glad nie op outeurskap nie, maar op ‘n versameling van die liedere wat die Asafiete en Koragiete gesing het.
Die Asafgroep was ‘n gerespekteerde groep tempelsangers wat saam met Serubbabel uit ballingskap teruggekeer het en toe as tempelkoor opgetree het (2 Kron 35:15; Esra 2:41). Hulle was die nageslag van Asaf, wat ‘n sanger in die tempel van Dawid was (1 Kron 16:4-7; 25:1-2). Volgens die boek Nehemia (7:44 en ook 11:17, 22) het 148 nakomelinge van Asaf uit die ballingskap teruggekeer. Hulle het dit as hulle taak beskou om vroeë kultiese liedere te versamel en in gebruik te hou.
Die Koragiete was ‘n familie van tempeldeurwagters wat gedurende die vierde eeu voor Christus hulleself as tempelsangers gevestig het (1 Kron 15:19; 2 Kron 20:19). ‘n Kenmerk van die Koragiete se koorbundel, is dat hulle Jerusalem besing as die “woonplek van God”. Hulle het maw die sirkel van die tempel wyer begin trek sodat dit die hele stad ingesluit het.
3.3) OMSTANDIGHEDE VAN ONTSTAAN
Heelwat opskrifte poog om die agtergrond waarteen die psalm gelees moet word, te skets. Dit verduidelik met ander woorde die omstandighede waarin die psalm ontstaan het.
Veertien psalms het opskrifte wat die konteks met die lewe van Dawid verbind. Dit wissel van om weg te vlug vir Absalom (Ps 3) tot owerspel met Batseba (Ps 51).
3.4) AANTEKENINGE VIR DIE UITVOER
Verskeie opskrifte bevat aantekeninge vir hoe om die psalm uit te voer. Neem byvoorbeeld psalm 6:1 “Vir die koorleier: met snarespel; met basstem” (Sien ook Ps 4, 5, 8 en 9 se opskrifte).
Dit is gepas dat ons ook hier na die woord “sela” verwys. Hoewel dit nie in die opskrif van ‘n psalm voorkom nie, kom dit 71 keer in die liggaam van 39 psalms voor! Ongelukkig is die presiese betekenis van die woord aan ons onbekend.
Die vermoede is dat dit ‘n aanduiding was van ‘n liturgiese handeling wat op daardie tydstip van die lied gevolg het. Waarskynlik was dit iets soos ‘n stilte, ‘n neerknieling of dalk ‘n pouse in die lied waartydens daar met musiekbegeleiding ‘n refrein gespeel is.
Daar is wel ander voorbeelde waar opskrifte van Psalms ‘n liturgiese aanduiding gee. Die woord “Halleluja” (Loof die Here!) vind ons as opskrif by verskeie psalms (105; 106; 111; 112; 113; 146; 149; 150). Dit sou tipies die gemeente se kultiese respons wees op die woorde van die priester, wat as liturgiese voorganger optree.
3.5) DIE DOEL VAN DIE GEDIG
Verskeie opskrifte gee iets te kenne van die aanvanklike doel van die gedig. So is Ps 30 gebruik vir die inwyding van die tempel. Ps 92 was ‘n lied wat spesifiek op die Sabbat gesing is. Ps 100 was vir by die gebruik van die dankoffer en Ps 38 en 70 by die gedenkoffer.
3.6) DIE GENRE VAN DIE GEDIG
Interessant genoeg vind ons 7 Hebreeuse woorde wat telkens in die opskrifte van die Psalms opduik, wat moontlik iets van die gedig se genre te kenne probeer gee. Dit lyk vir ons of ‘n mizmōr (oa Ps 84 & 85) en ‘n šîr (oa Ps 83 & 88) ‘n gesing was as ‘n gewone lied – terwyl ‘n tehillâ as ‘n loflied aangebied is (oa Ps 33, 34, 145). Daarteenoor was ‘n tepillâ (oa Ps 86 & 90) ‘n gebed. Vier ander terme, naamlik ‘n miktam (oa Ps 16; 56; 57), ‘n maśkîl (oa Ps 78 & 89) en ‘n šiggayôn (oa Ps 7) se betekenisse is ongelukkig aan ons onbekend.
4.) DATERING
Die groeiproses van die Psalmbundel – vanaf die eerste keer wat ‘n gedig neergeskryf is tot waar dit as een van 150 Psalms gerangskik is – het letterlik oor honderde jare geskied.
Dit help as ons vir die doel van hierdie oefening tussen die datering van die skryf-fase en die datering van die finaliseringsfase onderskei.
4.1) WAT IS DIE DATERING VAN DIE SKRYFFASE?
Van die Psalms dateer duidelik uit ‘n era voor die ballingskap. Die inhoud van sommige Psalms veronderstel byvoorbeeld die bestaan van ‘n koning (soos bv Ps 2; 20; 21) wat ‘n datum tussen 1000vC en 597vC impliseer.
Ander Psalms dateer waarskynlik uit die tydperk wat die volk fisies in ballingskap gesit het. Neem byvoorbeeld Ps 60 wat moontlik na die verowering van Juda in 587 v.C gedig is. Soortgelyk is Ps 74 waarskynlik gedig na aanleiding van die verwoesting van die tempel.

Dan is daar weer Psalms wat uit ‘n na-ballingskapstydperk dateer. Só verwys Ps 126 byvoorbeeld na die verlossing uit ballingskap (538-458vC). Ps 137 verwys ook terug na die pynlike tyd van ballingskap.
Nie elkeen van die psalms bevat implisiete getuienis in die teks, wat ons help om die psalm te dateer nie. Maar ons besit genoeg psalms om te kan sê dat die meerderheid tussen 1000 en 450vC geskryf is.
4.2) WAT IS DIE DATERING VAN DIE FINALISERINGSFASE?
Die volgende vraag is wanneer is daar begin om hierdie psalms te versamel, te bundel en uiteindelik in sy huidige vorm te rangskik? Ons het 2 merkers wat ons met hierdie vraag help: Bybelse gegewens en buite-Bybelse gegewens.
4.2.1) MERKERS IN DIE BYBEL WAT HELP MET DATERING
Die boek Kronieke help ons met die datering van die Psalms in díe sin dat dit ons vertel van ‘n opdrag wat Hiskia gegee het: “30Hy en die amptenare het toe die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf. Die Leviete het die lofliedere vol vreugde gesing en op hulle knieë geval en vooroor gebuig.” (2 Kron 29:30)
Dit wil lyk asof die Dawidsbundel asook die koorbundel van die Asafiete dus teen die tyd van Hiskia bestaan het – of dat Hiskia ten minste probeer het om die losstaande liedere te bundel. Dit sê vir ons dat hierdie groepe Psalms alreeds tussen 721-693vC geformaliseer was.
Eweneens help die Kronis se gekiedskrywing ons met die datering van die Koragiete se koorbundel. In Kronieke word die Koragiete soms as deurwagters by die tempel beskryf (1 Kron 9:19; Esr 2:41; Neh 7:45) en soms as tempelsangers (2 Kron 20:19). Ten tye van die Kronistiese geskiedskrywing (400vc) heers daar dus nog onsekerheid hoe om die Koragiete te beskryf. Soms is hulle deurwagters en ander kere is hulle tempelsangers. In die Psalms sien ons egter het daardie identiteit van die Koragiete gegroei tot ‘n verskansde groep tempelsangers. Hierdie groei in status het dus geformaliseer in ‘n tydperk nadat die Kronistiese geskiedskrywing afgesluit het. Die Kronis het sy geskiedenis teen 400vC klaar geskryf. Dit beteken die Psalms se Koragbundels tussen moes 400 en 350vC saamgestel geword het.
4.2.2) BUITE-BYBELSE MERKERS WAT HELP MET DATERING
Daar is verskeie “terloopse opmerkings” oor die Psalms in buite-Bybelse bronne, wat ons ook help met die datering van die finaliseringsfase. So kry ons byvoorbeeld ‘n opmerking in 2 Makkabeërs 2:13 ‘n opmerking dat Nehemia (445-433vC) ‘n biblioteek begin het waarin hy “die werke van Dawid” versamel het.
Verder besit ons ‘n opmerking uit die apokriewe boek “die Wysheid van Jesus Sirag” wat vir ons ook lig kan werp. In die proloog van die boek vermeld Jesus, die kleinseun van Sirag, dat sy oupa bekend was met die driedelige Ou Testamentiese kanon, naamlik die Wet, die Profete en die Geskrifte. Die seun meld verder dat hy 38ste jaar van Euergetes (132vC) na Egipte gekom het. Hieruit kan ons aflei dat sy oupa sy werk minstens 60 jaar vroeër geskryf het – ongeveer 190vC. Dit gee vir ons ‘n besliste “minimum datum”. Ons sou dus kon sê dat die Psalmbundel op die heel laatste teen 200vC afgerond en gefinaliseer was – maar waarskynlik heelwat vroeër.