Matteus
Gebruik die volgende informasie om die boek beter te verstaan:
1.) LITERATUURSOORT
1.1) Hoe pas die boek in die groter prentjie van die Bybel in?
- Daar is 5 bundels verteltekste in die Nuwe Testament: Matteus, Markus, Lukas, Johannes en Handelinge. Hierdie 5 bundels verteltekste se makro-genre word “Kerugmatiese geskiedvertellinge” genoem.
- Dit wil sê dit is vertellinge met ‘n “verkondigende opset”, vanuit ‘n historiese basis.
- Vier van die “Kerugmatiese geskiedvertellinge” word “evangelies” genoem (Matteus, Markus, Lukas en Johannes)
- Die eerste 3 van daardie evangelies maak deel uit van wat die “Sinoptiese evangelies” genoem word.
- Die term “sinoptiese evangelies” dateer uit 1776 toe die Bybelwetenskaplike, JJ Griesbach, die teks van hierdie 3 evangelies in parallelle kolomme gedruk het om dit “saam te sien” (Grieks “sinopsis) en ‘n vergelykende bestudering te doen.

1.2) As watter genre word die boek geklassifiseer?
- Soos reeds gesien, is die evangelies nie suiwer geskiedenisdokumente nie. Tog is dit ook nie a-histories nie. Dit is verteltekste met ‘n historiese basis.
- Daar is eintlik geen ander boek of bundel in die Bybel waarmee dit vergelyk kan word nie. Dit is uniek en enig in sy soort – en is dalk juis die rede waarom dit soveel misverstaan word!
- Die enigste ander geskrifte wat kenmerkende ooreenkomste met die evangelies toon is buite Bybelse geskrifte. Die meeste geleerdes vandag is dit eens dat die skrywers van die evangelies swaar beïnvloed is deur die genre van Grieks-Romeinse geskiedskrywing.
- Die evangelies toon talle ooreenkomste met hierdie genre – soos die selektiewe aanbieding van iemand se treffendste optredes en uitsprake en ook die opvallende gebrek aan belangstelling in die figuur se persoonlike ontwikkeling. Hierdie soort geskrifte het ook dikwels ‘n sterk moreel-etiese ondertoon.
- Daarom word die evangelies in die genre van Grieks-Romeinse biografieë en memoirliteratuur geklassifiseer.
1.3) Hoe beïnvloed die genre van hierdie boek ons lees daarvan?
- Grieks-Romeinse biografieë bied geskiedenis in verhaalvorm aan. Die geskiedenis neem egter ‘n totaal ander vorm aan as waaraan ons Westerlinge van die een en twintigste eeu gewoond is.
- Ons verwag dat geskiedenis chronologies aangebied moet word.
- Maar dit is byvoorbeeld nie vreemd in hierdie genre, om historiese gebeure eerder tematies aan te bied nie.
- Dit verduidelik waarom daar ook verskille tussen die sinoptiese evangelies mag wees – omdat elke evangelie sy eie struktuur met eie temas volg.
1.4) Met watter ander Bybelboek hou hierdie boek verband?
- Eerstens, natuurlik die ander Sinoptiese Evangelies wat dieselfde kenmerke van Grieks-Romeinse biografieë vertoon.
- Tweedens, die Pentateug en veral Eksodus wat die verhale van Moses bevat. Die boek Matteus is struktureel opgebou om die Pentateug uit te beeld, en bevat talle temas wat sterk herinner aan die leier Moses wat sy volk uit slawerny bevry en aan hulle ‘n nuwe wet gee.
- Derdens, die Ou Testament in geheel. Omdat Matteus moeite doen om Jesus nie net as voortsetting van die Ou Testament uit te beeld nie maar as die vervulling daarvan, haal Matteus wyd uiteenlopende Ou Testamentiese gedeeltes aan.
2.) OUTEURSKAP
2.1) Wat is die biografiese inligting waaroor ons beskik?
- Die skrywer was beslis ‘n Joodse Christen – iemand wat baie goed bekend was met die Ou Testament en wat baie moeite doen om Jesus as vervulling van die Ou Testament aan die Jode bekend te stel.
- Die boek Matteus word tradisioneel toegeskryf aan die Apostel Matteus – hoewel sy naam nêrens op die oorspronklike dokument voorkom nie.
- Matteus was ‘n tollenaar in Kapernaum.
- Uit ’n vergelyking van Matteus 9:9 met Markus 2:14 en Lukas 5:27 sien ons dat “Levi” en “Matteus” dieselfde persoon is.
- Die naam “Levi” beteken “Geskenk van God”.
- Beide boeke Matteus en Lukas vermeld dat Matteus alles gelos het om Jesus te volg, en ‘n partytjie gehou het om vir sy vriende en familie geleentheid te gee om Jesus persoonlik te ontmoet.
- Hoewel Matteus lid van die 12 was, was hy nooit baie prominent nie en dikwels eerder in die agtergrond.
2.2) Wat is die maksimale benadering mbt outeurskap?
- Die maksimale benadering skryf die evangelie aan die apostel Matteus toe.
2.3) Waarom verwerp sommige die maksimale benadering?
- Die teks ontbreek inherente getuienis.
- Nêrens meld die teks dat dit deur die apostel Matteus geskryf is nie.
- Slegs die opskrif van die dokument meld outeurskap.
- Die opskrif “Van Matteus” is egter eers tussen 125nC en 140nC aangebring.
2.4) Wat is die minimale benadering mbt outeurskap?
- Die minimale benadering sal wees dat ‘n naamlose outeur, tussen 125nC en 140nC, die dokument skryf.
- Die persoon bring die opskrif “Van Matteus” aan, om die indruk van outentikiteit aan die dokument te gee om sodoende te verseker dat dit in die geloofsgemeenskap aanvaar sal word as gesaghebbend.
2.5) Waarom verwerp sommige die minimale benadering?
- ‘n Baie vroeë tradisie uit die vroeë Kerk doen die rondte dat die apostel Matteus die evangelie geskryf het.
- Verskeie Kerkvaders maak van die tradisie melding. Dit kan waarskynlik terugherlei word na die werk van Papias as die vroegste verwysing.
- Ons besit nie meer die oorspronklike werke van Papias nie, maar Eusebius haal Papias se werk in 135nC aan (Papias se werk dateer uit 110nC)
- Papias sê: “Die eerste evangelie is deur die apostel Matteus geskryf en dit is in Aramees geskryf“
- As die evangelie reeds teen 110nC goed genoeg in die geloofsgemeenskap gevestig was om deur Papias as gesaghebbend en betroubaar geag te word – en toegeskryf te word aan die apostel – dan is die datering van 140nC veels te laat.
2.6) Wat is ‘n gebalanseerde benadering mbt outeurskap?

- Dit wil lyk of die mees waarskynlike standpunt wel is dat dit die apostel Matteus is wat die outeur was.
- Die feit dat die teks nie intern meld dat dit van die apostel Matteus afkomstig is nie, kan dalk juis tekenend wees dat dit hy is.
- Dit was die apokriewe boeke wat intern probeer melding maak het dat die outeur kwansuis ‘n apostel is, om sodoende ‘n voet in die deur van die geloofsgemeenskap te kry. Die feit dat hierdie boek dit verswyg, skep eerder die indruk dat die boek op grond van bekendheid en inherente statuur, reeds in die geloofsgemeenskap aanvaar was.
- Interessant genoeg maak Papias se stelling verskeie ander opsies ook oop.
- Hy sê “Die eerste evangelie is deur die apostel Matteus geskryf en dit is in Aramees geskryf”
- Meeste geleerdes is dit vandag eens dat die evangelie van Markus eerste geskryf was. Hoe dan gemaak met Papias se stelling dat Matteus se evangelie “eerste” geskryf was?
- Verder is die gehalte van Matteus se Grieks is ook baie goed. Tog is daar verskeie akademici wat ons deesdae daarop laat let dat daar grammatikale aanduidings is – veral in die woorde van Jesus – dat daar onderliggend ‘n Aramese tradisie ten grondslag lê.
- Die teks bevat verder ook verskeie semitiese uitdrukkings soos “koninkryk van die hemele”, “onse Vader in die hemel”, “wet en die profete”, “jota of tittel”
- Hierdie kan beteken dat die evangelie in sy huidige Griekse vorm, dalk eers in Aramees bestaan het en toe oorvertaal is (en die Aramese bron het tot niet gegaan). Of, dit kan dalk daarop dui dat die apostel Matteus verantwoordelik was vir die Q-bron (in Aramees) wat redevoeringe van Jesus bevat het (en wat ook later tot niet gegaan het).
- Die wetenskaplike B.H Streeter stel ook voor dat Q in die jare 50nC in Antiogië ontstaan het – dieselfde omgewing wat voorgestel word as die ontstaansplek van Matteus se evangelie.

3.) DATERING
3.1) Waar het die boek totstand gekom?
- Aangesien die eerste direkte aanhalings uit die boek, in die werke van Ignatius van Antiogië gevind word, is die veronderstelling dat die boek in die omgewing van Antiogië (vandag Sirië) totstand gekom het.
- Die omgewing was naby genoeg aan Palestina en die taal en gebruike van die Jode was daar goed gevestig.

3.2) Wat is die benaderde datum van totstandkoming?
- Wat die laatste datum betref:
- Ignatius van Antiogië haal direk aan uit die evangelie van Matteus teen 100nC in sy werke. Dus moet die datum van totstandkoming voor 100nC wees. Daar is wel goeie rede om te glo dat opmerkings wat Klemens van Rome (88nC) in sy werke maak, indirekte verwysings na die boek Matteus is. Dit impliseer dat die evangelie dus reeds moes bestaan rondom 88nC.
- Wat die vroegste datum betref:
- As die 4-bron hipotese aanvaar word, is die implikasie dat Matteus van Markus as bron gebruik het. Markus se ontstaanstyd is ongeveer 60nC.
- Dus sou mens 60nC as vroegste ontstaansgrens kon vasstel.
- Daar is egter verskeie getuienis wat daarop dui dat daar moontlik ‘n “oer-Matteus”- of ‘n “proto-Matteus”-bron in Aramees bestaan het. Sommige geleerdes is selfs van mening dat Markus weer op sy beurt van hierdie bron benut het in die skryf van sy evangelie.
- As ons dus sê dat 60nC die vroegste ontstaansdatum is, dan verwys dit na die evangelie in sy huidige vorm, hoewel die proto-Matteus selfs heelwat vroeër kon wees.
- Dit is dus redelik om te aanvaar dat die evangelie van Matteus (in sy huidige vorm) tussen 60nC en 90nC op die toneel gekom het.
3.3) Wat is die “historiese merkers” in die teks?
- Die teks van Matteus bevat 2 stelle historiese merkers. Maar ironies genoeg stuur die 2 stelle merkers ons in twee verskillende rigtings in, wat datering betref.
- Die gebruik van die woord “kerk”
- Matteus is die enigste Evangelie waarin die woord “kerk” gebruik word (16:18; 18:17).
- Die rede waarom hierdie woord betekenisvol is, is omdat dit moontlik op ‘n breek tussen die Jode en die Christene dui.
- Tussen 70nC en 80nC bring Jode die twaalfde gebed, die “Birkat ha-Minim” (gebed teen die ketters), aan die einde van die sinagogediens in. Dit is eintlik ‘n vloekuitspraak teen almal wat van hulle as Jode sou verskil.
- Hierdie gebed is in die sinagogediens ingebring om die aanbidders te “suiwer” en Christene van Jode te skei. Tot nou toe het Christene steeds saam met Jode in die sinagoge aanbid.
- Toe hierdie gebed ingebring is, kon Christene nie meer hulleself daarmee vereenselwig nie, en het die skeiding begin plaasvind tussen die twee groepe.
- Wanneer Matteus dus die woord “kerk” gebruik, verklap dit aan ons dat hierdie skeiding waarskynlik reeds plaasgevind het.
- Daar is aanduidings dat die Birkat ha-Minim reeds so vroeg as 70nC ingebring is, maar kom ons wees ruim en sê dit was gevestig teen 80nC.
- Dan beteken dit sou die “kerk” waarvan Matteus praat, na 80nC ter sprake wees – wat die datering van die boek tussen 80nC en 90nC plaas.
- Die afwesigheid van die tempelverwoesting
- Ons weet dat Jerusalem in 70nC vernietig is – en dat die tempel daarmee saam platgevee is. Dit was die mees verskriklike ding wat enige Jood kon beleef!
- Dit is egter opvallend dat wanneer die evangelis verhale oor die tempel vir ons neerpen, dat dit sy veronderstelling is dat die tempel steeds bestaan.
- In hierdie verband kan Jesus se woorde oor tempelbelasting genoem word (Matt 17:24-27). As die tempel reeds verwoes was ten tye van die opskrifstelling van hierdie gedeelte, sou mens aanneem dat dit in die woordkeuse van die outeur sou neerslag vind.
- Nog meer so wanneer die evangelis Jesus se profetiese woorde oor die verwoesting van die tempel verhaal (Matt 24:1-2). Daar is geen melding van die outeur se kant dat Jesus se profesie in vervulling gegaan het nie – wat die indruk skep dat die gedeelte op skrif gestel is voor die vernietiging van die tempel, dus voor 70nC
- Ons sit dus met ‘n “historiese merker” in die teks wat daarop dui dat die evangelie na 80nC totstand gekom het, en ‘n ander merker wat daarop dui dat die evangelie voor 70nC totstand gekom het.
- Hierdie uiteenlopendheid van interne historiese merkers in die teks, versterk die gedagte dat die evangelie van Matteus dalk in verskillende fases ontstaan het en dat daar dalk ‘n vroeë proto-Matteus was en dat daar later weer aan die teks gewerk en afgerond is om die evangelie in sy huidige vorm daar te stel.