Habakuk

Gebruik die volgende inligting om jouself in die boek te oriënteer:


1.) LITERATUUR

1.1) HOE WORD HIERDIE BOEK GEKLASSIFISEER?

Die boek Habakuk word as ‘n profetiese boek geklassifiseer omdat dit die boek se makro genre is. Daar is egter ‘n wye verskeidenheid van mikro-genres ook in die boek te vinde: Daar is byvoorbeeld klaagliedere (1:2–3; 12– 13), asook ‘n loflied (3:18–19). In die beskrywing van die lewenskwaliteite van die twee hoofgroepe in die wêreld (die wat reg doen en die wat nie, 2:4–19) toon die profeet sy vertroudheid met die wysheidsliteratuur. Daar is verder meer ook visioene en gebede.

1.2) HOE PAS DIE BOEK IN DIE GROTER PRENTJIE VAN DIE BYBEL?

Die boek Habakuk vind sy plek in die Ou Testament – oftewel in die Hebreeuse Bybel genaamd die Tanakh. In die Tanakh vorm dit deel van die groep geskrifte wat bekendstaan as die Nevi’im oftewel die profeteboeke.

Van die groep profete, is Habakuk eerstens ‘n latere profeet wat ook as ‘n Skrifprofeet bekendstaan omdat sy profesieë geboekstaaf is. Hy is ‘n voor-ballingskapsprofeet omdat sy bediening reeds voor die Babiloniese ballingskap afgespeel het. Hy staan as ‘n kleinprofeet bekend omrede die hele boek slegs 3 hoofstukke lank is.


2.) OUTEURSKAP

2.1) WAT IS DIE BIOGRAFIESE INLIGTING WAAROOR ONS BESKIK?

  • Al wat ons van hierdie profeet weet, is dit wat in die kort boek van 54 verse van hom gesê word. Persoonlike inligting soos die naam van sy vader en waar hy sy profetiese roeping uitgeoefen het, word nie gegee nie.
  • Al wat van hom gesê word is dat hy ’n profeet was (1:1; 3:1). Dit is die eerste keer in die Ou Testament dat ’n profeet op so ’n wyse in ’n boekopskrif bekend gestel word.
  • Die manier waarop die woord “profeet” in die opskrif gebruik word, dui op ‘n betiteling. Dit wil geleerdes laat dink dat Habakuk ‘n formele profeet was wat aan die tempelkultus verbind was. Die rede vir hierdie afleiding is omdat ander naballingskapse profete soos Haggai en Sagaria, waarvan ons weet dat hulle ook op ’n besondere wyse aan die tempeldiens verbind was, in hulle boekopskrifte (Hg 1:1; Sg 1:1) op dieselfde wyse beskryf word.

2.2) WAT BETEKEN DIE OUTEUR SE NAAM?

  • Daar is onsekerheid oor wat die naam “Habakuk” beteken.
  • Die een moontlikheid is dat die naam ‘n Assiriese oorsprong het – en dit sou sin maak omdat die profeet ten tye van Assiriese heerskappy geleef het. Indien dit ‘n Assiriese naam is, verwys dit na ’n tipe tuingewas. Plant- en boomname is nie vreemd in Bybelse persoonsname nie (Tamar: “palm”; Ela: “terpentynboom”; Eskol: “druiwetros”).
  • Ander geleerdes meen die naam “Habakuk” hou met ‘n Hebreeuse woord verband wat “omhels” of “vaskleef” beteken. Indien dit die geval sou wees, sou die naam groot ooreenkomste toon met die teologie van die boek, naamlik dat die profeet aan God “vaskleef” ten spyte van vrae oor lyding waarop daar geen antwoord is nie.

2.3) WAT IS DIE MAKSIMALE BENADERING MBT OUTEURSKAP?

  • Die maksimale benadering sou wees dat die boek in geheel tussen 609-598vC deur die profeet self totstand gekom het.

2.4) WAAROM VERWERP SOMMIGE DIE MAKSIMALE BENADERING?

  • Daar is ‘n redakteurshand in die boek sigbaar – soos dat die 2 dele van die boek van opskrifte voorsien is (1:1 & 3:1).
  • Daar is aanduidings van latere kultiese omvorming van die boek Habakuk – af te lei uit die musikale notisies in verse 3:3, 9, 13.
  • Verder bevat die kommentaar op Habakuk wat in die Qumrangrotte gevind is, nie ‘n derde hoofstuk nie. Dit skep die vermoede dat hoofstuk 3 eers later tot die boek bygevoeg is.

2.5) WAT IS DIE MINIMALE BENADERING MBT OUTEURSKAP?

  • Sommige geleerdes meen die kern van die boek is 1:2-2:5 en dit dateer voor die ballingskap.
  • Gedurende die ballingskap word die ellende-uitroepe teen die Galdeërs (2:620) bygevoeg.
  • Uiteindelik word hoofstuk 3 na die ballingskap bygevoeg.
  • Daar is egter aansienlike verskille onder geleerdes presies watter dele tot die oorspronklike kern behoort.

2.6) WAAROM VERWERP SOMMIGE DIE MINIMALE BENADERING?

  • As Habakuk deel was van die tempelkultus – soos wat die betiteling van “profeet” in die opskrif te kenne wil gee – dan sou dit nie vreemd wees om musikale notering in hoofstuk 3 tee te kom nie. Dit hoef met ander woorde nie te dui op ‘n veel latere toevoeging nie.
  • Hoewel hoofstuk 3 nie in die Qumrangeskrifte se kommentaar op Habakuk verskyn nie, beteken dit nie dat hoofstuk 3 daarom nog nie bestaan het nie en dat dit eers later totstand gekom het nie. Dit sou ‘n argument vanuit stilswye wees.
  • Hoofstuk 3 vorm so ‘n pragtige eenheid met die res van die boek – en inderdaad nie net ‘n integrale deel van die boek nie, maar inderwaarheid die hoogtepunt van die boek – dat dit moeilik is om Die boek Habakukuk daarsonder te visualiseer.

2.7) WAT IS ‘N GEBALANSEERDE BENADERING MBT OUTEURSKAP?

  • Sommige dele van die boek mag dalk deur ‘n redakteur afgerond gewees het (soos die opskrifte en dalk die musieknotering). Die boek word egter steeds as ‘n eenheid gelees omdat die boek as geheel en in sy finale vorm as geïnspireerd beskou word.

3.) DATERING

3.1) WANNEER HET DIE INHOUD VAN DIE BOEK AFGESPEEL?

  • In die geval van Habakuk is dit moeilik om ’n definitiewe datum van sy optrede aan te gee. Teenoor ander profete, word hier geen koning genoem tydens wie se regering hy opgetree het nie.
  • Tog is daar 2 “merkers” in die teks wat ons kan help:
  • DIE “GALDEЁRS
    • Die enigste historiese aanduiding is die verwysing na die “Galdeërs” in 1:6. 
    • Die Galdeërs het op die toneel van die Ou Nabye Ooste verskyn toe Nabopolassar, in 626–605 vC in opstand teen Assirië gekom het.
    • Die Galdeërs was ook later verantwoordelik vir die eerste besetting van Jerusalem in 597vC en tien jaar later vir die finale val van die stad in 587vC. 
    •  Van geeneen van hierdie gebeurtenisse meld Habakuk iets in sy boek nie. Daaruit kan mens aflei dat Habakuk vóór die val van Jerusalem moes opgetree het
    • lewers tussen die eerste intrede van die Galdeërs in die wêreldgeskiedenis aan die einde van die sewende eeu vC en die tyd voor die eerste beleëring van Jerusalem in 597 vC moet dus vir die profetiese werksaamheid van Habakuk gesoek word.
  • DIE “SLEGTE MENSE”
    • ‘n Belangrike aspek wat die datering van die boek kan help, is die identifisering van die “slegte mense” (1:4, 13; 2:4; 3:13-14)
    • Die religieuse en morele wantoestande wat in 1:2–4 beskryf word, blyk die beste in te pas by die begin jare van die regering van Jojakim van Juda (ongeveer 609–598 vC)
    • Hy was ’n baie ongewilde koning en het hom skuldig gemaak aan die ergste gruweldade (Jer 22:13–19). Hy was bekend vir sy tirannieke regering waartydens hy swaar finansiële laste op sy ondergeskiktes gelê het (2 Kon 23:35). Mense wat gekla het oor die aktiwiteite van die koning, sy ministers en priesters, is vervolg en doodgemaak (2 Kon 24:4; Jer 26:11)
  • SLOTSOM:
    • Hoewel die historiese inligting wat in die boek gegee word tot die absolute minimum beperk is, lyk dit tog of die verskillende beskrywings verband hou met die volgende geskiedkundige gebeurtenisse:
    • 1:2–4: Die klag oor die onreg in Juda (608–605 vC)
    • 1:6–8: Die verskyning van die Galdeërs (605–604 vC)
    • 1:9–11, 14–17: Die eerste veldtogte deur die Galdeërs (604–600 vC)
    • 3:16: Verdere bende-aanvalle deur die Galdeërs (599–598 vC)
    • lewers tussen die jare 608 en 598 vC kan dus met die meeste waarskynlikheid na die profetiese optrede van Habakuk gesoek word

3.2) WAT IS DIE BENADERDE DATUM VAN TOTSTANDKOMING?

Hoewel die inhoud van die boek tussen 608-598 afgespeel het, is dit wel moontlik dat die boek in sy huidige vorm kort daarna in die ballingskap gefinaliseer is. Die boek moes waarskynlik as ‘n troosboodskap dien vir die ballinge.

3.3) HOE PAS DIE BOEK IN DIE TYDLYN VAN DIE GESKIEDENIS IN?


Om die tydlyn van die geskiedenis te verstaan, kan dit help om te begin by die skeuring van die ryk in die Noordryk en die Suidryk.

Die wêreldmoondheid Assirië het op die toneel gekom. Assirië het in 722vC die Noordryk (Samaria) ingeval en weggevoer. Hoewel die Assiriërs ook teen die Suidryk opgetrek het, het die Here ‘n grootskaalse wonderwerk onder koning Hiskia gedoen, en die Assiriërs het die aftog geblaas. Die Suidryk het voortgeleef.

In 625vC versamel ‘n groep beswaarde stamme rondom die leier Nabopolasser, en hy kom in opstand teen die Assiriërs. Die Galdeërs – of die Neo-Babiloniërs – as volk kom so totstand. Rondom 609 en 608vC kom Assirië tot ‘n val en bestyg Nabopolasser se seun, Nebukadneser, die troon in Babilonië. Die Babiloniërs voer die Suidryk in 597vC weg en vernietig die stad finaal in 586vC.

Intussen kom daar ‘n nuwe sterk volk op die toneel, die Mediërs. Die Mediërs word deur die Perse in 550vC verslaan, en hulle verslaan die Babiloniërs in 539vC.

As mens kyk na die verspreiding van profete en konings, dan sien ons dat Miga se boodskap aanleiding gegee het dat die hervormings onder koning Josia plaasvind. Josia is egter vroeg dood in oorlog voordat hy die hervormings kon deurvoer, en hy is opgevolg deur koning Jojakin wat ‘n slegte koning in elke opsig was vir Juda. Habakuk het opgetree tydens koning Jojakin se bewind.


4.) GEADRESSEERDES

4.1) WIE IS DIE BEOOGDE GEHOOR?

  • Ten tye wat Habakuk die profesieë gelewer het, was die gehoor die inwoners van die Suidryk, Juda.
  • Dit was mense wat onder koning Jojakin blootgestel was aan onreg, vergryping, korrupsie en geweld. Jojakin se koningskap het veel te wense oorgelaat.
  • Dit was egter nie net die nasionale toestand wat hulle weerloos gelaat het nie. Op internasionale gebied was die “Galdeërs” of “Neo-Babiloniërs” aan die opkom. Die Assiriërs was wreed – maar die Babiloniërs het die Assiriërs se wreedhede getroef. Die volk het geweet dat daar groot bedreiging is in die feit dat die Babiloniërs al sterker en sterker word en een na die ander stad inpalm.
  • Die Babiloniërs was die eerste volk wat die “verskroeide aarde” strategie geïmplimenteer het. Dit moet teen hierdie agtergrond wees wat die bekende vertrouenslied van Hab 3:17-18 verstaan word: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder”. Die profeet beskryf die “verskroeide aarde” wat op die volk wag.
  • Die sekondêre groep geadresseerdes is die mense wat die boek in sy finale vorm vir die eerste keer gehoor het. Dit was die Jode wat in Babiloniese ballingskap gesit het.

4.2) HOE SOU HULLE OP DIE BOEK REAGEER?

  • Die aanvanklike reaksie van die volk moes “skok” gewees het. Dit kon nie lekker gewees het om te hoor dat die Here koning Jojakin se koningskap gaan straf deur die Galdeërs nie. Dit sou immers baie ontbering vir hulle ook inhou.
  • Die struktuur van die boek hou egter baie troos in. Die feit dat die profeet nie net namens God met die mense praat nie, maar allereers dat hy namens die mense met God praat, kommunikeer aan ons dat God toeganklik is. Die feit dat God ook die profeet antwoord – en selfs die versekering gee dat ook die Babiloniërs gestraf gaan word, kommunikeer aan die volk dat die Here hulle pleidooi hoor en ernstig neem.
  • Toe die ballinge met die afgeronde boek in sy huidige vorm mee te make kry, het dit ongetwyfeld hulle getroos. Dit het hulle gehelp prosesseer om te weet dat die rede waarom hulle in ballingskap is, is omdat God aan die werk is – dit is nie verniet nie. Verder troos die “Ellende-uitsprake” jeens die Babiloniërs ook, want dit gee te kenne dat die ballingskap op God se tyd sal eindig. Om te lees hoe Habakuk (Hab 3:17-19) sy vertroue teenoor die Here uitspreek selfs ten spyte van die verskroeide aarde, moes die volk geïnspireer het om ook in hulle ontbering van ballingskap aan die Here vas te kleef.

5.) WAT IS DIE AGTERGROND VAN DIE BOEK?

5.1) WAT IS DIE GEO-POLITIESE KONTEKS?

  • Die Assiriese wêreldryk wat so ’n lang tyd die ryk Juda bedreig het, het aan die einde van die sewende eeu vC ten gronde gegaan. Vanaf die regeringstyd van Assurbanipal (669–627 vC) het Assirië algaande sy politieke houvas op die volke van die Ou Nabye Ooste begin verloor en het die proses van magsverbrokkeling sneller toegeneem. 
  • Hierdie omstandighede op die internasionale toneel het vir koning Josia van Juda (639–609 vC) die geleentheid gegee om sy kultiese hervormings deur te voer (2 Kon 22–23; 2 Kron 34–35). 
  • Oor wat in hierdie laaste jare van Juda gebeur het, gee die Bybel alleen ’n oorsigtelike beeld in onder andere Jeremia en 2 Konings 22– 25. Gelukkig beskik ons vandag ook oor die buite-Bybelse “Kronieke van die Babiloniese konings” (626 vC en later) wat op kleitablette geskryf is en wat ’n meer uitvoerige beskrywing gee van die historiese situasie van die tyd.
  • Uit die Babiloniese Kronieke kan afgelei word dat die Assiriese Ryk weens uitgebreide verpligtinge aan die einde van die sewende eeu vC nie meer die mas kon opkom nie en besig was om te verbrokkel. Van die volke in die gebied, waaronder die Babiloniërs (ook bekend as die Galdeërs), het die geleentheid aangegryp om die Assiriese juk af te werp. Die Galdeërs (in Grieks bekend as “Galdaioi”—vandaar die naam Galdeërs) was ’n Oos-Aramese stam wat van Kaldu in Suid-Babilonie gekom het. Nadat hulle tydelik die heerskappy in Babilonie uitgeoefen het, stig hulle onder Nabopolassar (625–605 vC) die Neo-Babiloniese Ryk wat ook later bekend gestaan het as die ryk van die Galdeërs.
  • Nabopolassar word opgevolg deur sy seun, Nebukadnesar II (605–562 vC), wat die ryk voer tot die kruin van sy mag en wat ook later verantwoordelik is vir die finale val van Jerusalem in 587 vC. Van hierdie belangrike koning word ons baie in die Bybel vertel (veral in Jeremia en Daniël), maar van daardie belangrike begin jare van sy koningskap gee die Bybel ons geen volledige beeld nie. In die opsig is inligting wat vervat is in die Babiloniese Kronieke van groot historiese waarde. Daarin word vertel hoe die Galdeërs na herhaalde oorloë met die Assiriërs uiteindelik daarin geslaag het om hulle vryheid te verkry. In bondgenootskap met die Skitiërs, ’n wilde volk wat geleef het in die deel wat vandag Suid-Rusland is, en die Meders verower hulle in 614 vC Assur, die hoofstad van die Assiriërs, in 612 vC Nineve en in 610 vC Haran. Die volgende strategiese landsdeel was Siro-Palestina, maar om dit te beset moes hulle eers afreken met die Egiptenaars wat ook ’n oog op die wêrelddeel gehad het.
  • Wanneer farao Neko in 609 vC na die Eufraat opruk om die Assiriërs, wat deur die opkomende Babiloniërs en hulle bondgenote bedreig word, te hulp te snel, probeer koning Josia om hom by Megiddo voor te keer, maar hy misluk in sy sending en word self gedood (2 Kon 23:29–30). Blykbaar was Josia van gedagte dat as hy die Egiptenaars in hulle opmars kon verhinder, hy daarmee minstens verseker het dat sy volk die vryheid wat hulle die laaste jare onder die Assiriërs geniet het, kon voortsit. Hierdie verwikkeling het egter beteken dat die Egiptenaars weer heerskappy oor Palestina gekry het (609 vC en later), hoewel net vir enkele jare. Hulle onttroon Joahas, seun van Josia, nadat hy net drie maande op die troon was en vervang hom met sy pro-Egiptiese broer, Eljakim, wie se naam hulle verander tot Jojakim (2 Kon 23:31–34; 2 Kron 36:3–4). Hy regeer van 609 tot 598 vC.
  • Maar nog steeds was die stryd oor die alleenheerskappy in Siro-Palestina nie uitgewoed nie en in 605 vC raak die Egiptenaars weer slaags met die Galdeërs by Karkemis, hierdie keer onder leiding van die bekwame kroonprins, Nebukadnesar. Hy dien hulle ’n gevoelige slag toe (2 Kon 24:7). Hierna was die pad oop na Siro-Palestina, waar hy dan ook later sy heerskappy deeglik gevestig het (2 Kon 24:1; Jr 25:1–14; 36:29). In die Babiloniese Kronieke word gemeld dat hy van sy eerste tot sy elfde jaar met gereelde tussenposes veldtogte na Siro-Palestina onderneem het, en dat baie van die plaaslike heersers aan hom skatpligtig geword het. Juda, onder Jojakim, moes hulle ook ongeveer in die tyd (605–604 vC) aan die Galdeërs onderwerp het. Die geweldige indruk wat die aanstormende leërs op die mense van Palestina gemaak het, word in 1:7–11 verwoord.
  • Weer trek die Galdeërs in 601–600 vC teen die Egiptenaars op. Oor die uitslag van die ontmoeting word as volg in die Babiloniese Kronieke berig: “Hulle het mekaar in ’n hewige veldslag ontmoet en verliese toegedien.” Na hierdie noodlottige gebeurtenis was Nebukadnesar genoodsaak om hom ’n geruime tyd terug te trek na Babel om eers weer sy troepe te herorganiseer en die verliese te verwerk. Dis heel waarskynlik in die tyd dat Jojakim in Juda die kans aangegryp het om te rebelleer. Die Bybel vertel vir ons (2 Kon 24:1) dat hierdie opstand plaasgevind het drie jaar nadat Jojakim aan Nebukadnesar onderhorig geword het—dus ongeveer in 601 vC. Die Galdeërs het egter nie heeltemal gaan lê nie, maar in die tyd wat gevolg het (ongeveer 599–598 vC) het hulle hulle mag in die Judese gebied gehandhaaf met bende-aanvalle wat met ondersteuning van die Arameërs, Moabiete en Ammoniete (2 Kon 24:2) uitgevoer is. Die beskrywing van vyandelike aanvalle in 3:16 het heel moontlik betrekking op hierdie gebeurtenis. Habakuk het die eerste aanval op Jerusalem in 597 vC nie meer beleef nie en mens kan aanvaar dat hy in die tyd nie meer gelewe het nie

5.2) WIE IS DIE OPPONENTE?

  • Vir die onmiddelike is die opponent teen wie Habakuk in reaksie is, sy eie koning. Koning Jojakin was sleg in elke opsig.
  • Op die horison dreig die volgende opponent naamlik die wrede Galdeërs.

6.) HOE LYK DIE STRUKTUUR VAN DIE BOEK?

6.1) UIT WATTER DELE BESTAAN DIE BOEK?

  • Die boek val duidelik uiteen in twee dele (hoofstukke 1–2 en hoofstuk 3) wat elk sy eie opskrif dra (1:1; 3:1). 
  • Die eerste paar verse is Habakuk besig om ’n klag teen die Here te lê omdat hy net oral rondom hom in Juda net onreg en geweld sien (1:1-4).
  • Daarop volg die verrassende antwoord van die Here dat Hy die Galdeërs (1:6) gaan stuur om sy volk te straf (1:5–11)
  • In die daaropvolgende klag protesteer die profeet teen die werkswyse van die Here. Nog meer mense gaan seerkry as die Galdeërs tot die geveg gaan toetree. Die Here is tog te rein om toe te kyk en die Galdeërs nie vir hulle wreedhede te straf nie (1:12-17)
  • In 2:1–20 kom dan die finale antwoord van die Here. In die vyf “ellende” uitsprake (2:6–19) waarin die oordeel oor die goddelose finaal aangekondig word, gee die Here te kenne dat Hy ook die Galdeërs uiteindelik sal straf. 
  • In hoofstuk 3 word ’n magtige teofanie beskryf (3:3–15). 
  • Daarna word die boek afgesluit met die reaksie van die profeet (3:17–19).

6.2) WAT KOMMUNIKEER DIE STRUKTUUR?

  • Eerstens is dit opvallend dat die profeet allereers optree namens die volk: Hy kla by God namens die volk.
  • Die dialogiese styl van die profetiese boek gee te kenne dat God toeganklik is en in gesprek met die mens treë.
  • Die mens/profeet hou egter nie van die antwoord wat God gee nie, naamlik dat Hy die onreg sien en dat Hy die Galdeërs gaan gebruik om die Judese koning te straf nie.
  • Deur die ellende-uitsprake gee God egter vir die volk die versekering dat hoewel Hy die Galdeërs gaan gebruik, gaan Hy uiteindelik ook die Galdeërs tot ‘n val laat kom. God gee hierdeur te kenne dat Hy aan die volk se klag gehoor gee.

6.3) WAT IS IN DIE TEKS UNIEK?

  • Opmerklik is die aksent wat in die boek gelê word op die “sien” in plaas van die “hoor” van die Goddelike handelinge. Dit kan ook nie anders nie want meer as die helfte van die boek (2:2–20; 3:3–15) bestaan uit gesigte of visioene wat die profeet gehad het. Van hierdie “sien” -ervaring word mens deeglik bewus as gekyk word na die woordstatistiek. Woorde wat te make het met “sien” kom in die oorspronklike Hebreeus nie minder as veertien maal voor nie. Vir Habakuk is God nie net die Een wat sy handelinge laat hoor nie, maar dit ook vir sy profeet laat sin.
  • ’n Ander interessante gegewe in die boek is die beskrywing van die verskillende maniere waarop mense, die elemente en dinge reageer op die gebeure: die profeet “roep om hulp” (1:2); die nasies “sing” spotliedjies (2:6); die kuppe in die mure “skree dit uit”(2:11) en die balke “skreeu saam” (2:11). In hoofstuk 3 word gesê dat die aarde “skud”, die berge “verkrummel” en “inmekaar val” (v 6), die diep water “dreun” (v 10) en die son en maan “staan stil” (v 11). Alles kom in beweging en reageer op God se magsdemonstrasie. Net in die tempel verstom alles—want: die Here is in sy heilige tempel, “wees stil” voor Hom almal op aarde (2:20)
  • In hoofstuk 3 word Yahwe as Krygsman geskets wat besig is om die stryd te voer (3:8-12). Vandaar dat sommige geleerdes sal sê die eerste hoofstuk handel oor Juda se geweld, die tweede hoofstuk oor die Galdeërs se geweld en die derde oor die geweld wat God sy teenstanders sal aandoen.

7.) WAT WIL DIE BOEK BEREIK?

7.1) WAT IS DIE TEMAS WAT AANGETREF WORD?

  • Die hooftema wat regdeur die boek aan die orde kom, handel oor die hele probleem van lyding van diegene wat reg doen in ’n wêreld waar onreg in nasionale (1:2–4) sowel as internasionale sin (1:13; 3:14) hoogty vier. Op hierdie kardinale vraag ontvang die profeet dan ook geen helder en duidelike antwoord nie (2:1–3), alleen maar die perspektief dat God op sy “bepaalde tyd” (2:3) die onreg sal besweer (2:5–19). Tot op die dag van die intrede van dit wat God beloof het (2:4), betaam ’n houding van gespanne afwagting (2:3; 3:16) en geloofsvertroue. Ook al sou toestande nog vererger, dan nog kan sy jubel in die Here nie geblus word nie (3:18). 
  • Dat die boek so min historiese inligting gee, maak dat bogenoemde boodskap universeel verstaan behoort te word.
  • Die Hebreërskrywer (10:37–39) was so aangegryp deur hierdie onstuitbare houding van geloofsvertroue ten spyte van omstandighede, dat hy dit aanbeveel het by sy hoorders wat ook in die “eindtye” geleef het (na Christus se eerste koms) en net so “geduldig moes wag” op God se “bepaalde tyd” (Christus se tweede koms) om in vervulling te gaan.

7.2) WAT IS DIE DOEL WAT DIE BOEK WIL BEREIK?

  • God openbaar Hom in die boek Habakuk as die Almagtige wat die wêreldgeskiedenis bepaal en stuur en die Een deur wie se genade volkere en nasies opkom (1:6) en weer in vergetelheid raak (3:14). Hy laat Hom ken as die Here wat op sy volk se hulpgeroep ag gee (2:2–3), en aan hulle sy Woord en sekere beloftes gee (2:4ev) waaraan hulle deur lyding en onsekerheid kan vashou. Hy maak Homself bekend as die Heerser van die kosmos, die Heer oor die magte van die hemel en op aarde, voor wie niks en niemand kan standhou as Hy in heerlikheid verskyn nie (3:3–15). In die God kan sy volk hulle verbly (3:18–19)

8.) HOE LYK BUITE-BYBELSE GETUIENIS?

8.1) IS DAAR VERBANDHOUDENDE ARGEOLOGIESE VONDSE?

  • Die Hebreeuse teks is nie in ’n ongeskonde toestand oorgelewer nie. Veral in die baie sentrale 2:4 en veral in hoofstuk 3 is daar onsekere lesings. Die Habakuk-kommentaar wat in 1947 by die Dooie See ontdek is, is in geval van hoofstuk 1–2 van groot waarde, nie net om te help met die plekke waar die lesing problematies is nie, maar ook om te ontdek hoe merkwaardig getrou die Hebreeuse teks deur die eeue heen oorgelewer is.