Levitikus

Gebruik die volgende informasie om die boek Levitikus beter te verstaan…

1.) WATTER SOORT GENRE IS DIE BOEK?

1.1) WAAR KOM DIE NAAM VANDAAN EN WAT BETEKEN DIT?

  • Onder die Jode staan Levitikus eintlik as Wajjiqrā (en “Hy het geroep”) bekend. Dit is na aanleiding van die eerste woorde waarmee die Hebreeuse teks begin.
  • Toe die Ou Testament later in Grieks oorvertaal is, het die Septuagint die Hebreeuse titel van die boek laat vaar en dit getitel Leuïtikón.
  • Hierdie titel is karakteriserend van aard. Direk vertaal sou dit beteken: “Aangaande die Leviete”. Die boek handel eintlik meer oor die priesters as oor die leviete – die priesters word immers 730 geadresseer en die leviete 290 keer.
  • Soos ons egter in Maleagie 2:6-7 sien, het “Levi” en “priester” op ‘n stadium sinoniem geword.
  • Die titel probeer dus aandui dat die boek instruksies bevat vir die “Levitiese priesters”.
  • Later het die Latynse vertaling van die Bybel, die Vulgaat, hierdie naam oorgeneem as “Liber Leviticus” – waarvan ons woord “Levitikus” van afgelei is.

1.2) HOE PAS DIE BOEK IN DIE GROTER PRENTJIE IN?

  • Levitikus maak deel uit van die Ou Testament. Die Joodse Bybel was die TANAKH genoem. Dit was ‘n akroniem wat gevokaliseer is.
  • In die Tanakh is Levitikus deel van die Torah – of beter bekend as die Pentateug (eerste 5 boeke van die Bybel).
  • Hierdie derde boek van die Bybel is op ‘n besonderse manier aan die voorafgaande en opvolgende boeke verbind.
  • Nadat die boek Eksodus byvoorbeeld breedvoerig voorskrifte vir die bou van die tabernakel gee (Eks 25-40), sluit die boek met ‘n reuse antiklimaks af: Moses kon nie die tabernakel ingaan nie (Eka 40:35)
  • Die boek Levitikus se eerste vers sluit by Eksodus se laaste vers aan, deur te sê dat dat die Here vanuit die tent na Moses geroep het – impliserend dat Moses buite staan.
  • Die eerste vers van die boek Numeri lui egter dat die Here met Moses gepraat het “in” die tent – dit wil sê dat die voorskrifte wat die boek Levitikus gegee het vir hoe om God te nader, geslaag het.
  • Ons sou kon sê dat die boek Eksodus, sonder Levitikus, onvolledig is – en die boek Levitikus vir die boek Eksodus veronderstel.

1.3) HOE WORD DIE BOEK GEKLASSIFISEER?

  • Levitikus is ‘n regsdokument.
  • Behalwe vir 2 narratiewe – die dood van Nadab & Abihu (8-10) en die straf vir die Godslasteraar (24:10-14) – is die hele boek wette en voorskrifte.
  • Ons vind al 3 soorte Ou Testamentiese wette in Levitikus: seremoniële wette, morele wette en siviele wette.

1.4) HOE BEÏNVLOED DIE GENRE ONS INTERPRETASIE?

  • Moet nie dink dat omdat die boek Levitikus ‘n regsdokument is, dat dit “vervelig” is nie.
  • As die boek gefynkam word, kom mens gou agter dat die boek nie geskryf is in tipiese droeë litigasietaal nie.
  • Daar is 3 kenmerkendhede…
    • AFWESIGHEID VAN IMPERATIEWE
      • Direkte bevele in die boek is skaars en die negatiewe bevelsvorm is ook nie algemeen nie.
      • As mens ‘n taalanalise van Ou Testamentiese boeke maak, dan het ander boeke 3 tot 4 keer meer imperatiewe in die teks (per 10 000 woorde) as wat Levitikus het. Psalms het selfs 10 keer meer voorbeelde waar die bevelsvorm gebruik word.
      • 56 Keer word daar gesê dat die Here vir Moses “gesê” het. Dit dra by tot die warmte van die boek.
    • NIE “BEPERKENDE KODE” NIE
      • Wanneer wette of reëls neergelê word, kry mens ‘n soort voorskrif wat ‘n “beperkende-kode” genoem word. Dit is soos wanneer ‘n kind se Ma sê: “Eet jou kos” – die kind vra “hoekom?” – en die Ma antwoord “want ek het gesê eet jou kos”.
      • ‘n “Beperkende-kode” het geen plek vir verduideliking of vir die regverdiging van die wet nie. Dit trek as’t ware rang en gee gewoon die bepaling deur.
      • Dit is opvallend dat dit nie die styl van Levitikus is nie. Op verskeie plekke verduidelik die boek die intensie van die wet, aan die hand van die Here se heiligheid of die barmhartigheid wat die Here aan die volk bewys het (19:2; 34; 11:45).
      • Die ondertoon van die teks is dus nie “Jy sal nie steel nie”, maar eerder “Jy sal natuurlik nie wil steel nie”.
    • ANALOGIESE DENKE
      • Mens kry 2 soorte denkpatrone: Die een is “rasioneel-instrumenteel” en die ander is “analogies”. Analogiese denke werk op die basis van assosiasie van idees: Die ervaring in een sfeer van die lewe, word ‘n patroon vir die verstaan van ‘n ervaring in ‘n ander sfeer van die lewe. Dit is ‘n veel minder logiese denkproses, en eerder ‘n relasionele een. Dit maak stellings nie op grond van empiriese bewyse nie, maar sosiale ervaring.
      • Levitikus werk met ‘n analogiese denkproses. Die daaglikse offers word ‘n mikrokosmos in wie se lig ander groter prentjies – soos God se verhouding met die skepping – verstaan word.
      • Wanneer die wette van Levitikus gelees word, moet daar nie gesoek word vir rasionele verduidelikings nie, maar vir die groter relasionele-analogie daaragter.

Selfs die verstaan van wat heilig, rein en onrein is, word analogies of relasioneel uitgedruk:


2.) WIE IS DIE OUTEUR?

2.1) Wat is die biografiese inligting waaroor ons beskik?

  • Tradisioneel word daar geglo dat Moses “die Wet” ook bekend as die “Pentateug” (eerste 5 boeke van die Bybel) geskryf het.

2.2) Wat is die outeursvraagstuk?

  • Op verskeie plekke in die eerste 5 boeke van die Bybel is daar opmerkings in die teks wat vir ons aandui dat dit nie Moses kon wees wat daardie spesifieke opmerking gemaak het nie. Dit is opmerkings wat slegs gemaak kon word deur mense wat later as Moses geleef het. Dit wil dus voorkom asof daar meer as een hand aan die Pentateug geskryf het. Die vraag is hoeveel hande en wanneer?

2.3) Wat is die maksimale benadering mbt outeurskap?

  • ‘n Maksimale benadering sal voorhou dat Moses – en Moses alleen – die outeur van die eerste 5 boeke van die Bybel is.
  • Gedeeltes wat daarop dui dat dit na sy dood geskryf is, sal “wegverklaar” word deur te sê dat omdat God hom geïnspireer het, het hy geprofeteer wat sou kom.

2.4) Waarom verwerp sommige die maksimale benadering?

  • Die aard en verskeidenheid van die merkers in die teks wat te kenne gee dat ‘n ander hand as die van Moses aan die skryf is, is te divers om dit net goedskiks af te maak as besondere openbaring wat Moses ontvang het.
  • Voorbeelde van sulke gedeeltes is as volg:
    • Num 12:3 “Moses was ’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde.” (Moses sou baie onwaarskynlik so iets van homself geskryf het!)
    • Gen 36:31 “Daar het al konings oor Edom geregeer nog voor daar konings oor Israel geregeer het. Hier volg hulle name.” (Om hierdie sin te kan skryf, impliseer dat die outeur moes geweet het wanneer Israel die eerste koning gekry het – en dit was baie lank na Moses!)
    • Eks 12:41 “Na vier honderd en dertig jaar, presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek.” (Nog ‘n sin met ‘n ooglopende merker wat wys dat ‘n redakteur die teks na Moses beet gehad het)

2.5) Wat is die minimale benadering mbt outeurskap?

  • Dit wil voorkom of Levitikus uit 2 duidelik identifiseerbare gedeeltes bestaan: Die Priesterlike bron (1-16) en die Heiligheidskode (17-26).
  • Volgens die JEDP-teorie is “P” – oftewel iemand met ‘n besonderse belangstelling in die priesterlike en kultiese voorskrifte – verantwoordelik vir groot gedeeltes in Levitikus (tipies hoofstuk 1-16).
  • Die “P”- of “Priesterlike” bron word gedateer rondom die ballingskapstydperk (550vc) tot selfs na-ballingskapstydperk (450vC).
  • Hiervolgens het die “P-bron” ten doel gehad om mense in Juda (wat nou ‘n Persiese provinsie was) met ‘n ywer vir die nuwe tempel te inspireer, om sodoende die samelewing in ‘n Teokrasie te organiseer.
  • Die “H-bron” oftewel die Heiligheidskode (hoofstukke 17-26) verskil van die P-bron in styl (meer preke) en inhoud (groter klem op heiligheid).
  • Die Heiligheidskode word as ‘n aparte entiteit beskou wat later in die Priesterlike bron ingewerk is.
  • Kenmerke van H is as volg:
    • ‘n Beginmerker (17:1-2) en eindmerker (26:46) en algehele klem op heiligheid (heiligheid kom ook in “P” voor, maar word meer benadruk in “H”.
    • H bevat uitdrukkings wat P nie het nie.
    • H is bekend daarvoor vir meer eienaardige wette en voorskrifte as P.
    • Die inhoud is ook meer alledaags as byvoorbeeld P se hoofstuk 11-16.
    • Maak ook – soos Deuteronomium – meer gebruik van toesprake as van wette.
  • Die minimale benadering hou voor dat die Heiligheidskode selfs nog later dateer as die P-bron.

2.6) Waarom verwerp sommige die minimale benadering?

  • Verskeie geleerdes wys ons daarop dat die aard van die wette, asook die taal wat gebruik word om dit te beskryf, ‘n periode uit die laat bronstydperk in ‘n wilderniskonteks veronderstel. Daar is nie sprake van gevestigde nedersettings nie, maar eerder voorskrifte wat op nomadiese mense van toepassing is.
  • Die tweede feit wat ‘n laat datering van Levitikus mee moet rekening hou, is die probleem dat verskeie ander Ou Testamentiese boeke uit Levitikus aanhaal of daarvan kennis dra (soos bv Lev 10:10 in Eseg 22:26; Lev 18:5 in Eseg 20:11; Amos 4:5 verwys na die vrywillige offers van Lev7:16-18) Duidelik was die boek teen 755vC bekend.

2.7) Wat sou ‘n gebalanseerde benadering mbt outeurskap wees?

  • Die taal en konteks van die wette, veronderstel ‘n baie vroeë leefstyl van mense in ‘n kamp.
  • Die verdere 56 kere wat die boek melding daarvan maak dat die Here met Moses gepraat het, maak dit nie onmoontlik dat Moses wel groot gedeeltes van die oorspronklike boek neergepen het nie.
  • Dit is egter ewe ooglopend dat die boek kentekens dra van ‘n lang ontstaansgeskiedenis.
  • Blokke in die boek is deur redakteurs gerangskik om ‘n literêre kunswerk struktureel te vorm.
  • Moontlik is nuwe wette met die verloop van tyd ook bygevoeg soos wat nuwe scenarios na vore getree het en die konteks voortdurend verander het.
  • Daar moet onthou word dat daar geen bewyse vir ‘n P-bron of ‘n H-bron is nie. Die JEDP-teorie bly net wat dit is, naamlik ‘n teorie. (Lees meer oor “WAT IS DIE JEDP-TEORIE?” deur hier te klik).
  • Waarskynlik was die P-bron en H-bron nooit aparte entiteite nie, maar eerder “perspektiewe”. Hiervolgens het die boek deur verskeie fases van redaksionele versorging gegaan, en elke redakteur het sy eie unieke belangstelling/perspektief gelos wat vandag nog in die teks te bespeur is. Dit doen egter geensins afbreuk aan die geïnspireerdheid van die teks nie.

3.) WAT IS DIE DATERING VAN DIE BOEK?

3.1) Hoe pas die boek in die tydlyn van die geskiedenis in?

  • Die vraag hoe die boek in die tydlyn van die geskiedenis pas loop ten nouste saam met die vraag wie die outeur was.
  • Vanuit die gegewens wat by Punt 2 behandel is, kan ons die boek in die tydlyn as volg plot:
  • Die boek sou op die vroegste totstand kon kom na die uittog uit Egipte. Volgens die minimale benadering het dele van die boek eers in die ballingskap en selfs na-ballingskap totstand gekom.
  • Daar is 2 moontlike daterings vir die uittog:
    • Die ouers datering is ongeveer 1450vC
    • Die jonger maar meer waarskynlike datering is ongeveer 1250vC
  • Hoewel ek nie self oortuig is van die minimale benadering se standpunt dat dele van die Pentateug eers na die ballingskap totstand gekom het nie, het ek wel groot begrip vir waarom daar gesê word dat dit ‘n lang ontstaansgeskiedenis het en dat die moontlikheid groot is dat ‘n P-redakteur en ‘n H-redakteur bestaande bronne gefinaliseer het. Daardie afrondingsproses kon goedskiks nog laat aangegaan het.

4.1) VIR WIE IS DIE BOEK PRIMÊR GESKRYF?