Timoteus

Hier is 10 vrae om jou deur 1 & 2 Timoteus te navigeer…

1.) WATTER SOORT GENRE IS 1 & 2 TIMOTEUS?

1.1) HOE WORD 1 & 2 TIMOTEUS GEKLASSIFISEER?

Al 13 van Paulus se sendbriewe word in 3 groepe geklassifiseer:

  • Let daarop dat hoewel 2 Timoteus vanuit die tronk geskryf word, word dit nie as ‘n gevangenisbrief geklassifiseer nie, omdat dit ten tye van ‘n latere gevangenisperiode geskryf was as die ander 4 gevangenisbriewe.
  • Die term “Pastorale briewe” is die eerste keer in 1703 gebruik en teen 1726 algemeen aanvaar.
  • Die genre “pastorale briewe” (1 & 2 Timoteus, Titus) kan van die ander briewe van Paulus onderskei word deurdat hulle nie aan ’n gemeente gerig is nie maar aan enkelinge wat medewerkers van die apostel was. Dit bevat persoonlike advies in verband met die uitoefening van hulle opdrag as herders en leraars van die gemeentes, en ook voorskrifte oor die aanstelling van ampsdraers in die gemeentes. Klem word gelê op die karakter wat die ampsdraers behoort te kenmerk. Omdat al drie pastorale briewe soveel aanwysings oor die uitvoering van die pastorale bediening bevat, het hulle die naam gekry van die “Pastorale Briewe”

1.2) WATTER ANDER BOEKE HOU MET 1 & 2 TIM VERBAND?

  • Handelinge 18:24-20:38
  • Efesiërs
  • Openb 2:1-7

1.3) HOE BEÏNVLOED DIE GENRE ONS LEES DAARVAN?

  • Gesiene die laat datering van die pastorale briewe, kan ons verwag dat daar by Paulus ‘n “rypwording” plaasgevind het. Sy teologiese gedagtes is teen hierdie tyd geslyp.
  • Mens kan verder in gedagte hou dat 2 Timoteus die laaste brief voor sy dood is. Dit dien dus amber as “doodswens” of “sterfbed-gedagtes” wat die apostel deel.

2.) WIE IS DIE OUTEUR?

2.1) WAT IS DIE BIOGRAFIESE INLIGTING WAAROOR ONS BESKIK?

  • Beide 1 en 2 Timoteus maak daarop aanspraak dat die apostel Paulus die outeur is (1 Tim 1:1 & 2 Tim 1:1)

2.2) WAT IS DIE OUTEURSVRAAGSTUK?

Daar is hoofsaaklik 5 redes waarom Paulus as outeur deur sommige geleerdes betwis word:

  1. Chronologie: Die gegewens van 1 en 2 Timoteus kan nie in die boek Handelinge ingepas word nie. Daarom word beweer dat dit versinsels van ‘n ander outeur is.
  2. Taalgebruik: Die pastorale briewe bevat unieke woordeskat en taalgebruik wat meer strook met tydgenote soos díe van Polikarpus wat heelwat later geleef het. Die outeur gebruik ook terme wat van ander Pauliniese briewe verskil. Dit is opmerklik dat die lidwoord “die” byvoorbeeld byna altyd voor die woord “geloof” geplaas word in die pastorale briewe, terwyl die ander Pauliniese briewe slegs praat van “geloof”.
  3. Hierargie: Die voorgestelde kerklike organisasie in die briewe is te kompleks vir die tyd van Paulus. Dit lyk eerder na ‘n latere ontwikkeling. Die outeur gebruik benaminge soos “episkopos” (1 Tim 3:2) (waarvan die woord “biskop” afgelei word maar hier met “ouderling” vertaal word). Die kerklike organisasie toon meer die gevoel van die Kerk teen die einde van die eerste eeu.
  4. Dwaalleer: Dit wil voorkom of die dwaalleer geïdentifiseer kan word met die Gnostiek van die tweede eeu.
  5. Styl: Die styl van debatvoering lyk anders in die pastorale briewe as in die ander Pauliniese briewe. Daar is byvoorbeeld nie lang diatribes/(denkbeeldige redenasies) met dwaalleraars nie soos wat ons in Romeine of Galasiërs vind nie. In die pastorale briewe tree die outeur glad nie met die dwaalleraars in gesprek nie.

Kritici stel dus gewoonlik die volgende opsies voor vir ‘n moontlike outeur:

  1. Dalk was die outeur een van Paulus se dissipels wat na Paulus se dood, die briewe rondom 85nC geskryf het in ‘n poging om Paulus se lering toe te pas op die veranderde omstandighede. Die outeur het dus fragmente van werklike Pauliniese sinsnedes in die briewe ingewerk (2 Tim 1:15-18; 4:6-22; Titus 3:12-14) om die briewe ‘n gevoel van egtheid te gee.
  2. ‘n Ander moontlikheid is dat die briewe totaal en al pseudografiese geskrifte was – soos wat dikwels gebeur het met bekende antieke outeurs. Briewe is byvoorbeeld op ‘n soortgelyke wyse onder Sokrates, Seneca en Plinius se name gepubliseer, terwyl die werklike outeurs dit eintlik op ‘n veel later stadium geskryf het.

Verantwoording van kritici:

  • Chronologie: Hoewel ons kennis neem dat 1 & 2 Timoteus nie in Handelinge pas nie, sien ons wel dat toe Paulus in Rome onder arres was, hy ‘n sterk verwagting gehad het om vrygelaat te word. Daar bestaan verder ‘n mondelinge tradisie dat toe Paulus uit die tronk bevry is, hy tot aan die grens van die Weste van Spanje gaan werk het, teruggereis het na die Ooste, en dat hy toe deur Nero vir ‘n tweede keer gearresteer is en toe vermoor is. Hierdie verduideliking klaar die chronologiese probleem op.
  • Taalgebruik: Ons weet dat Paulus voorheen van ‘n sekretaris gebruik gemaak het. Moontlik kon hy ook in die skryf van die pastorale briewe een gebruik het – wat die ander taalgebruik sou kon verduidelik. Selfs as hy nie van ‘n sekretaris hier gebruik gemaak het nie, moet mens onthou dat niemand se woordeskat en woordgebruik deur die bestek van sy/haar lewe staties bly nie.
  • Hierargie: Hoewel daar van kerklike organisasie in die pastorale briewe sprake is, moet dit nie verwar word met die kerklike hierargiese styl wat Ignatius van Antiochië rondom 110nc voorstel, naamlik ‘n biskop met ouderlinge en diakens wat onder hom dien nie. Ja, daar is kerklike struktuur – maar dit is te wagte teen die einde van Paulus se lewe. Die kerklike struktuur bly egter soepel en daar is geen sprake van hierargie nie – die mense dien mekaar op gelyke vlak.
  • Dwaalleer: Hoewel die Gnostiek teen die 2e eeu hoogty vier, is die eerste spore van die Gnostiek reeds 50nC sigbaar. Dit is dus steeds nie onmoontlik dat Paulus teen die voorlopers van die Gnostiek in 64nC skryf nie.
  • Styl: Ten tye van die skryf van die pastorale briewe is Paulus ook al verouderd, en dit kan verklaar waarom hy nie met dieselfde drif en veglustigheid van ‘n “jong Paulus” skryf nie. Verder sou dit sinneloos wees om Timoteus te maan om nie in strydgesprekke betrokke te raak nie, maar dan self dit te doen in sy brief.

Dit is interessant om te sien dat die eerste keer wat Paulus se outeurskap van die pastorale briewe in twyfel getrek is, deur Schleiermacher in 1807 was. Tot op daardie stadium was dit algemeen deur die Kerkvaders aanvaar.

Verdere redes waarom ander hedendaagse geleerdes wel meen dat Paulus die outeur is, is dat die onderliggende teologie tussen die onbetwiste Pauliniese briewe en die pastorale briewe ooreenstem:

  1. Die beeld van “Paulus as gevangene vir die geloof” wat so sterk teenwoordig in eg-Pauliniese briewe soos Filippus en Filemon is, is ewe merkbaar teenwoordig in die pastorale briewe (2 Tim 1:8; 2:8-13; 3:11-13)
  2. Paulus se klem op die universaliteit van die evangelie (Rom 1:5) is prominent (1 Tim 2:4-7; 3:16; 4:10; 2 Tim 4:17; Tit 2:11)
  3. Paulus se tipiese aksent van God se beloftes (Rom 3:3) is teenwoordig en (2 Tim 2:13; Tit 2:13)
  4. Paulus se verlossingsboodskap deur Jesus (Rom 3:24-25) is net so teenwoordig (1 Tim 2:5-6; 2 Tim 2:11-12)
  5. Die tipiese Pauliniese “in Christus”-frase wat deurtrek is in alle onbetwiste Pauliniese literatuur, is in die pastorale briewe teenwoordig (1 Tim 1:14; 3:13).
  6. Die uitstaande Pauliniese kenmerk naamlik regverdigmaking deur geloof en nie deur werke nie (Rom 3:28) is teenwoordig (1 Tim 1:13-16; 2 Tim 1:9-10).

Vanuit bogenoemde kan ons dus sê dat hoewel ons kennis neem van die besware teen Paulus as outeur van die pastorale briewe, maar dat die gewig van die volle skopus van die getuienis steeds oorleun in die guns van die tradisionele beskouing dat die apostel Paulus wel die outeur van 1&2 Timoteus en Titus was.


3.) WAT IS DIE DATERING VAN DIE BOEK?

3.1) HOE PAS DIE BOEK IN DIE TYDLYN VAN DIE GESKIEDENIS IN?

3.2) WAT IS DIE BENADERDE DATUM VAN TOTSTANDKOMING?

  • 1 Timoteus: ±64nC
  • 2 Timoteus: ±66-67nC
  • Dit is dus belangrik om raak te sien dat van al Paulus se briewe wat vir ons behoue gebly het, is 2 Timoteus die brief wat heel laaste – en die kortste voor sy dood – geskryf is.

4.) VIR WIE WAS DIE BOEK PRIMÊR GESKRYF?

4.1) WIE WAS DIE BEOOGDE GEHOOR?

  • Die briewe was primêr bedoel vir Timoteus wat as jong leraar die leiding in die gemeente Efese moes neem.
  • Soos met al Paulus se briewe, is dit kort daarna na alle ander gemeentes ook gesirkuleer.

Wie was Timoteus?

  • Toe Paulus tydens sy tweede sendingreis by Listra aandoen het hy Timoteus ontmoet. Timoteus was reeds ‘n gelowige (Hand 16:1-5) en het in ‘n Christelike ouerhuis grootgeword. Sy ma en Ouma was ook gelowiges. Paulus het Timoteus se potensiaal van leierskap raakgesien.
  • Daar was egter een probleem: Voor Timoteus se Ma se bekering was sy ‘n Jood. Timoteus se pa was ‘n Griek. Timoteus was dus van gemengde afkoms.
  • Paulus wou Timoteus as leier inspan, maar sy gemengde afkoms sou vir hom probleme veroorsaak by gemeentes met ‘n sterk Joodse teenwoordigheid. Daarom besny Paulus vir Timoteus (Hand 16:3) om moontlike besware van die Jode te voorkom.
  • Dit was uiteraard nie ‘n Christelike vereiste dat Timoteus besny moes word nie – maar ter wille daarvan dat die evangelie onverhinderd gepreek kon word, het Paulus en Timoteus die stap geneem. Hierdie gebaar wys vir ons hoe belangrik dit vir leiers is om die persepsies van mense te bestuur en eers die volgelinge se vertroue te wen.
  • Verder moet ons iets van Timoteus se pyn nie uit die oog verloor nie. Hy was sy lewe lank iemand wat uit die staanspoor gediskwalifiseer of geminag was, vanweë sy gemengde afkoms. Daarom vind Paulus dit ook nodig om Timoteus 2 keer in die eerste brief te herinner aan die mandaat wat hy het om leiding te neem. Timoteus moes sekerlik moedeloos gevoel het.
  • Paulus steun in sy lewe swaar op Timoteus. Hy stuur Timoteus onder andere na Tessalonika (1 Tess 3:2) en ook na Korinte om die probleme te gaan hanteer (1 Kor 4:14-17). Uiteindelik stuur hy Timoteus om leraar van die gemeente in Efese te word, en dit is in die tyd wat Timoteus in Efese was wat die briewe 1 en 2 Timoteus aan hom gerig is.

4.2) HOE SOU DIE GEHOOR OP DIE BOEK REAGEER?

  • Timoteus sou bemoedig word om te hoor dat Paulus sy steun en mandaat aan hom herhaal.
  • Timoteus sou waarskynlik ook sy toewyding verskerp en met nuwe ywer na geskikte leiers vir die gemeente soek wat oor die nodige karaktertrekke beskik.

5.) WAT IS DIE KONTEKS VAN DIE BOEK?

5.1) WAT WAS DIE SOSIO-POLITIESE AGTERGROND?

  • Timoteus was leraar in Efese. Efese was een van die 5 belangrikste stede in die Romeinse ryk. Daar was ten tye van Paulus se besoek, ongeveer ‘n 500 000 inwoners in die stad – wat beteken dat dit ‘n massiewe stad was!
  • Efese was ‘n hawestad met ‘n teater, markplein en verskeie tempels – onder andere vir die beskermgod Artemis (Diana in Latyn).
  • Paulus het Efese die eerste keer besoek tydens sy tweede sendingreis (Hand 18:19-21) en dit is ook toe dat die gemeente in Efese gestig is (ongeveer 53nC).
  • Tydens Paulus se derde sendingreis het hy byna 3 jaar daar gewerk (Hand 19-20).
  • Neem ‘n oomblik om die onderstaande kaart te bestudeer: Jy sal sien dat Listra omkring is. Dit is waar Timoteus grootgeword het. Verder sien jy dat Efese omkring is. Efese is geleë in wat vandag bekendstaan as Turkye. Sien raak dat Efese ‘n hawestad was – dit het van Efese ‘n uiters belangrike stad gemaak.
Krediet: Kaart verkry uit die Verklarende Bybel

5.2) WIE WAS DIE OPPONENTE VAN DIE TYD?

  • Daar was dwaalleraars in die gemeente aan die werk. Dit wil lyk asof hulle uit 2 oorde gekom het:
  • Groep 1: Hulle was Joodse Christene wat die onderhouding van die Wet beklemtoon (1 Tim 1:7; Tit 3:9; Tit 1:14), asook Joodse mites (Tit 1:14; 2 Tim 4:4) en stambome (1 Tim 4:3-5). Hulle leer die mense dat die opstanding reeds plaasgevind het (2 Tim 2:18). Sommige van die dwaalleraars is vrouens (1 Tim 2:9-15).
  • Groep 2: Die dwaalleraars het soos filosowe van daardie tyd (Sinici) wêreldontvlugting gepropageer. Hulle het die huwelik verbied en ook die eet van sekere kosse. Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle “meerdere” – en spesiale – “kennis” het en wou geld verdien deur hierdie “kennis” te verkoop . Waarskynlik was hierdie groep die voorlopers van die Gnostici wat in die 2e eeu hoogty sou vier.
  • Die dwaling was dus ‘n versmelting tussen die Joodse en Griekse filosofiese waardes.
  • As ons die situasie uit die beskikbare gegewens probeer rekonstrueer, dan wil dit vir ons lyk asof die lering van die dwaalleraars by veral ‘n paar prominente vroue in die gemeente opgang gemaak het (Sien bv 2 Tim 3:6-7). Hierdie vroue het dit geniet om uitspattig aan te trek (1 Tim 2:9-10) en om dan by die samekomste van die gemeente mense toe te spreek sodat almal se oë op hulle gerig was. Die valshede wat hulle kwytgeraak het wanneer hulle die mense toespreek, het soos gif deur die gemeente versprei (2 Tim 2:16). Daarom vind Paulus dit nie net nodig om op 2 verskillende plekke teen “praatsiek” vrouens te waarsku nie (1 Tim 3:11; 5:13) maar ook om hierdie vrouens te belet om in die erediens mense lering te gee (1 Tim 2:11-12).

5.3) HOE LYK DIE MAATSKAPLIKE TOESTANDE?

  • Die Christene in Efese was ‘n minderheidsgroep sonder ‘n gevestigde sosiale posisie. Die owerheid was verdraagsaam teenoor hulle, op voorwaarde dat hulle nie die sosiale orde versteur nie. Ongelukkig was Christene juis gereeld beskuldig dat hulle dit doen (Hand 19:21-40)
  • Teen hierdie agtergrond moet die versugting om ‘n “rustig en stil” lewe te lei (1 Tim 2:2), verstaan word.
  • Dit is waarskynlik die verdere rede waarom Paulus nie vrouens nie wil toelaat om lering in die eredienste te gee nie.
  • Onthou, vroue in Efese en die destydse antieke wêreld het nie algemeen in die openbaar verskyn nie. Hulle moes tuis bly en het bykans geen formele onderrig ontvang nie. Huwelike is dikwels vooraf gereël en vrouens se belangrikste taak was moederskap.
  • Vroue is nie in eie reg as die gelyke van die man erken nie, en was onder die gesag van ‘n man.
  • Paulus wil nie hê dat die inwoners van Efese die indruk kry dat Christene die sosiale orde wil omvergooi of versteur nie.
  • Christene moet rekenskap hou met die samelewing se persepsies.
  • Vandaar sy pleidooi vir gebed sodat hulle ‘n “rustige en stil lewe” kan lei, want die alternatief hierop is dat vervolging uitbreek.
  • Paulus se verbod op vrouens in leiersposisies in hierdie brief moet nie verstaan word as ‘n trans-kulturele, universele reël wat hy maak nie maar eerder ‘n maatreël wat hy spesifiek vir die gemeente in Efese neerlê – veral omdat die dwaalleer onder uitspattige vrouens verder versprei.

6.) WIE IS DIE BELANGRIKSTE FIGURE?

6.1) WIE IS DIE HOOFKARAKTERS?

  • Timoteus: Die geadresseerde
  • Dwaalleraars: Die opponente
  • Ouma Lois en Ma Eunice (2 Tim 1:5): Die persone wat Timoteus geestelik gevorm het
  • Jannes en Jambres (2 Tim 3:8): Volgens die Joodse tradisie was hulle die towenaars van die Farao wat die wonders van Moses nagedoen het. Volgens die tradisie het hulle ‘n skeinbekering ondergaan en saam met Moses uit Egipte getrek. Met die wetgewing op Sinai het hulle het in opstand gekom en die volk verlei om die goue kalf te maak. Let wel: hierdie staan nie in die Bybel nie – dit is ‘n Joodse tradisie. Dit is veelseggend omdat ons gesien het dat die dwaalleraars in Efese verknog was aan Joodse mites en tradisie (Tit 1:14; 2 Tim 4:4). Paulus gebruik hier ‘n Joodse tradisie om hulle as’t ware in hulle eie spel te klop.
  • Aleksander die kopersmid (2 Tim 4:14): Waarskynlik iemand wat gehelp het om Paulus gearresteer te kry.
  • Demas (2 Tim 4:9): ‘n Medegelowige wat afvallig geword het
  • Lukas en Markus (2 Tim 4:11): Markus het Paulus op sy eerste sendingreis gefaal. Intussen het Markus baie gegroei en hy is ook verantwoordelik om die Evangelie van Markus op skrif te stel.
  • Priscilla en Akwilla (2 Tim 4:19): ‘n Egpaar wat saam met Paulus tentmakers van beroep was, wat Paulus baie gehelp het om die evangelie te versprei. Let op die feit dat Paulus die vrou se naam eerste noem. In ‘n brief waar dit vir sommige lyk asof Paulus teen enige soort vroulike leierskap is, is dit betekenisvol om te sien hoeveel waardering hy vir hierdie medewerkers het.

6.2) WATTER PLEKNAME KOM TER SPRAKE?

  • Efese (1 Tim 1:3; 2 Tim 1:18; 2 Tim 4:12
  • “Antiogië, Ikonium en Listra” (2 Tim 3:11)

7.) HOE LYK DIE STRUKTUUR VAN DIE BOEK?

7.1) HOE LYK DIE OPBOU VAN DIE BOEK?

KLIK HIER OM DIE STRUKTUUR VAN 1 TIMOTEUS AF TE LAAI

KLIK HIER OM DIE STRUKTUUR VAN 2 TIMOTEUS AF TE LAAI

7.2) WAT KOMMUNIKEER DIE STRUKTUUR?

  • Dit is opvallend om te sien dat Paulus aan die begin en die einde van 1 Timoteus die mandaat van Timoteus herhaal. Waarskynlik sukkel Timoteus met mense wat op hom neerkyk omdat hy van gemengde afkoms is, en dalk begin hy in homself te twyfel.
  • 1 Timoteus bestaan uit 3 dele, en dit is verder opvallend dat elkeen van die dele sy eie lofroep het.
  • Laastens is dit betekenisvol om te sien dat elke deel in 1 Timoteus oor gemeente-spesifieke sake handel. Dit beteken dus dat mens Paulus se vermaning teen vroulike leierskap nie trans-kultureel moet verstaan nie, maar gemeente-spesifiek.

7.3) WATTER UNIEKE TAALGEBRUIK IS IN DIE TEKS?

  • “Hierdie is ‘n betroubare woord” (1 Tim 1:15; 3:1; 4:9; 2 Tim 2:11; Tit 3:8). Hierdie uitdrukking kom 5 maal in die pastorale briewe voor en nêrens anders nie. Dit herinner sterk aan soortgelyke uitdrukkings van Jesus, soos “Dit verseker Ek julle…”. Wat interessant is van hierdie uitdrukking, is dat mens nooit heeltemal seker is of Paulus se “betroubare woord” na die volgende sin of die voorafgaande sin verwys nie, want telkens word hierdie uitdrukkings omarm deur ‘n “betroubare woord” wat net so op sigwaarde ook sou kon staan.
  • Let baie fyn op die gebruik van die woord “geloof”. Wanneer die lidwoord “die” saam met die woord “geloof” geplaas word, dui dit op die inhoud van wat geglo word – korrekte lering/dogma. Wanneer slegs die woord “geloof” gebruik word, dui dit op ‘n persoonlike vertroue in en verhouding met Jesus.
  • Die pa-seun styl (2 Tim 1:2; 2:1) herinner baie aan die boek Spreuke as Wysheidsliteratuur
  • Die volgorde “Christus Jesus” is in hierdie briewe meer algemeen as “Jesus Christus”. In Paulus se ander briewe kom die verskynsel ewe veel voor.
  • Die benaming “God ons verlosser” kom in hierdie briewe meer voor as elders in die Nuwe Testament.
  • Paulus gebruik mediese uitdrukkings uniek aan die pastorale briewe: “Gesonde leer” (1 Tim 1:10-11; 2 Tim 4:3; Tit 1:9); “gesonde woorde” (1 Tim 6:3; 2 Tim 1:13; Tit 2:8); “Gesonde geloof” (Tit 1:13; 2:2). Daarteenoor word dwalleraars beskryf as “besoedel” (Tit 1:15); “sieklik” (1 Tim 6:4); “verstandelik verward” (1 Tim 6:5; 2 Tim 3:8) en hulle woorde is “kanker” (2 Tim 2:17). Hierdie woordgebruik is eie aan die filosofiese groep “Sinici”. Hulle het geglo dat hulle die enigste dokters vir ‘n “siek wêreld” is. Hulle was oa bekend daarvoor dat hulle gesê het die mens met niks in die wêreld in kom en dit met niks verlaat nie. Later gebruik Paulus self hierdie uitspraak (1 Tim 6:7). Paulus gebruik dus die Sinici se eie taalgebruik om hulle lering in die gemeente te weerlê.
  • ‘n Baie interessante genre te vinde in sekere Nuwe Testamentiese briewe is die “Haustafeln”. Dit is ‘n stel “huisreëls” wat gedrag tussen familielede gereguleer het. In die Romeinse regswese het die huisreëls wat onder families geheers het (en afdwingbaar was deur die Vader) as “patria protestas” bekendgestaan. Christengemeenskappe het hulle eie “hausetafeln” gehad, en in die briewe aan Timoteus sien ons goeie voorbeelde hiervan. Sien 1 Tim 2:1; 8-14; 3:1-13; 5:1-6:5
  • 2 Tim het die gevoel van ‘n testament met laaste doodswense
  • 2 Tim het veral ‘n gejaagde en gedronge styl. Hy wil met min woorde in ‘n kort tyd soveel as moontlik sê. Daarom maak hy baie van beelde gebruik: “vuur” (1:6); “soldaat” (2:3-4); “atleet” (2:5); “boer” (2:6); “arbeider” (2:15); “kanker” (2:17); “fondament” (2:19); “huis” (2:20); “vangstrik” (2:26); “skip” (4:6); “wedloop” (4:7); “prysuitdeling” (4:7); “leeu in arena” (4:7)

8.) WAT WIL DIE BOEK BEREIK?

8.1) WAT IS DIE TEMAS WAT AANGETREF WORD?

  • Die belang om die evangelie suiwer te hou
  • Die belang van ‘n goeie karakter in leierskap
  • Getroue roepingsvervulling
  • Skoon gewete

8.2) WAT IS DIE DOEL WAT DIE BOEK WIL BEREIK?

  • Eerstens wil Paulus vir Timoteus aanmoedig om getrou aan sy roeping te bly.
  • Die doel van die briewe was om instruksies te gee hoe die huisgesin van God moes leef, in ‘n tyd toe dit blyk dat die onmiddelike terugkeer van Jesus nie gaan plaasvind nie.

9.) HOE LYK BUITE-BYBELSE GETUIENIS?

9.1) IS DAAR ARGEOLOGIESE VONDSTE WAT LIG WERP?

  • Die “kroon” (vertaal met “prys” in Afrikaanse 1983 vertaling) wat ons in 2 Tim 2:5 vind het betrekking. Jy kry 2 soorte krone – ‘n “stephanos” en ‘n “diadema”
  • ‘n “Stephanos” was ‘n oorwinnaarskroon en ‘n “diadema” was ‘n heerserskroon.
  • Die woord “Diadema” kom slegs 3 keer in die Nuwe Testament voor – al 3 keer in die boek Openbaring, waar die “diadema” vir Jesus gereserveer word (Openb 19:12).
  • Die res van die Nuwe Testament gebruik die woord “stephanos”. Die lourierkranse wat in gebruik was, was of as prys vir wenners van wedlope gegee of dit was aan gaste by bankette gegee.
  • Wanneer Paulus die term gebruik het hy waarskynlik altwee gebruike in gedagte gehad.
  • Timoteus sou ook baie bekend gewees het met die gebruik, aangesien Efese lief was om spele te hou.
  • In die stad Olympia is die name van wenners van wedlope op die basis van pilaargange gevind, wat aandui dat die name van mense wat oorwinnaarskrone ontvang, ook vir ewig word.
Krediet: 1000 Bible images uit Logos Bybelsagteware

9.2) WAT SÊ DIE VROEË KERK OF REFORMASIELEIERS?

  • By die vroegste kerkvaders vind ons nie direkte aanhalings uit 1 & 2 Timoteus nie, maar wel sinspelinge wat daarop dui dat hierdie briewe bekend was. Veral by Klemens van Rome (ongeveer 96 n.C.) kom soveel ooreenkomste in woordkeuse voor dat daaruit afgelei kan word dat hy die briewe geken en as gesaghebbend aanvaar het. Ietwat later, by Polikarpus van Smirna (sterfjaar 155) kom ’n aantal aanhalings uit hierdie briewe voor, en by ander vaders, bv. Justinus die Martelaar, Theofilus, Irenaeus, kom verwysings voor waaruit blyk dat hulle die briewe geken en aanvaar het. Teen die jaar 200 is die getuienis van die vaders eenstemmig dat 1 en 2 Tim. en Titus deel is van die kanon en geskryf is deur Paulus.

10) WAAROM IS HIERDIE BOEK RELEVANT?

  • Ons leer uit 1 & 2 Timoteus hoe belangrik dit is om die evangelie suiwer te hou.
  • Ons sien by ‘n ouer – en wyser – Paulus, dat hy nie betrokke raak in twisgesprekke nie.
  • Ons sien raak hoe belangrik dit vir die eerste gemeentes was om ‘n goeie beeld na die gemeenskap uit te stuur
  • Ons leer by Paulus hoe meesterlik hy raakpunte by die dwaalleringe soek, daarby aanhak en dit teen hulle gebruik. (Sien bv Paulus se verwysing na Jannes & Jambres; asook die gebruik van mediese taal). Dit dien as voorbeeld vir ons hoe ons die samelewing van ons tyd kan benader en die evangelie kan kontekstualiseer.
  • Wanneer ons nadink oor die dilemma van vroulike leierskap in 1 & 2 Timoteus, en raaksien dat Paulus vir Christene vra om terug te staan en afstand te doen van voorregte net sodat die verspreiding van die evangelie onverhinderd kan voortgaan, dan spoor dit ons aan om ook ons eie ego’s en agendas af te sterf ter wille van die evangelie.