Daniel
Gebruik die volgende informasie om die boek Daniël beter te verstaan…
1.) WATTER SOORT GENRE IS DIE BOEK?
1.1) HOE PAS DIE BOEK DANIËL IN DIE RES VAN DIE BYBEL IN?
- In die TANAKH (die Joodse Ou Testament) word die boek direk na Ester, by die bundel Geskrifte gevind. Dit is onduidelik waarom die rabbi’s nie die boek Daniël by die profete gegroepeer het nie.
- Die plasing soos dit ons dit in ons Bybel het, is word die eerste keer in die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament) gevind, en toe later ook in die Vulgaat (die Latynse vertaling van die Ou Testament).
- In ons Bybel word dit geplaas net na Esegiël, en staan dit bekend as een van die 5 groot profete (hoewel daar inderwaarheid net 3 groot – of lang – profete is. Dit is ooglopend dat Daniël eintlik tot ‘n ander genre as suiwer profesie hoort. Dit staan beter bekend as apokaliptiek.
1.2) HOE WORD HIERDIE BOEK GEKLASSIFISEER?
- Die boek staan as “apokaliptiek” bekend. Die woord is van ‘n Griekse woord afkomstig wat “openbaring” beteken.
- Apokaliptiek het ‘n paar tipiese kenmerke:
- Die ontstaansgeskiedenis van ‘n apokaliptiese geskrif is gewoonlik in die konteks van erge vervolging en onderdrukking.
- Die boek het ten doel om God se perspektief aangaande die leser se omstandighed te “openbaar”.
- Die geskrif maak baie van kode- of sluiertaal gebruik. Diere, getalle en kleure kry simboliese betekenisse. Verskillende metale en diere stel verskillende koninkryke of konings voor. Die wêreldgeskiedenis word in verskillende tydvakke verdeel, waartydens vervolging telkens eskaleer.
- Die huidige wêreld word geskets as een wat in die mag van sonde is. Daar is ‘n stryd tussen goed en kwaad, en dit alles stuur op ‘n groot veldslag af waar die goeie finaal met die kwade sal afreken.
- Die onderdrukkers word gewoonlik as monsters of drake voorgestel.
- Die skrywer ontvang gewoonlik die “openbaring” deur drome, visioene, of engele.
- Die skrywer ontvang van God die opdrag om die “openbaring” te verseël of om dit geheim te hou totdat God die tyd daarvoor sal bepaal (vgl Dan 8:26, 12:9 & Openb 10:4, 22:10.
- Die effek van die apokaliptiese geskrif is altyd dat dit troos en bemoediging inhou vir die verdruktes, want die boodskap wat dit bevat is dat God hulle swaarkry raaksien en dat Hy ‘n einde daaraan sal maak op sy tyd. Hulle moet volhard en die geloof intussen behou.
1.3) HOE BEÏNVLOED DIE TEKS SE GENRE, ONS LEES DAARVAN?
- Van al die genres in die Bybel is apokaliptiek sekerlik die een wat die meeste misbruik word om te sê wat dit nie sê nie. Sensasie, waninformasie en wanpersepsies gedy as dit by apokaliptiek kom.
- Ons moet dus ekstra verantwoordelikheid aan die dag lê met Skrifuitleg, wanneer ons apokaliptiek lees.
- Jou eerste ding om te onthou wanneer jy apokaliptiek lees, is dat die boek nie primêr vir jou geskryf is nie.
- Dit beteken enige poging om drake, monsters of ander onheilspellende katarsisse in die teks, te verbind met wêreldmagte of krisisse van jou eie tyd, onmiddelik nie meer reg aan die boek laat geskied nie.
- Apokaliptiek is gee vir gelowiges van ‘n baie spesifieke tyd, om hulle te bemoedig terwyl hulle ondraaglik vervolg en onderdruk word. Uit respek vir die wesenlike pyn van hierdie medegelowiges, mag ons nie goedsmoeds die teks op ons van toepassing wil maak nie.
- Ons mag wel die beginsels wat uit die teks kom, vir onsself neem.
- Byvoorbeeld, as ‘n apokaliptiese teks van ‘n draak praat wat uit die see kom, chaos voorbring en toe wel op die ou einde deur die Here verslaan word, dan moet ons uit respek vir ons medegelowiges eers die oorspronklike lesers se omstandighede verdiskonteer. Daarna mag ons sê dat die doel van die teks is om gelowiges wat moedeloos voel, aan die feit te herinner dat wêreldgebeure nie vir God buite beheer is nie. Hy sit stewig in die regeerstoel – al voel dit nie altyd vir ons so nie.
2.) WIE IS DIE OUTEUR?
2.1 Wat is die biografiese inligting waaroor ons beskik?
- As mens die boek Daniël lees, kan jy nie help om te wonder of die naam “Daniël” na die een verwys wat die boek geskryf het, of na die een waaroor die boek handel nie.
- Dit is omdat die boek twee duidelike dele bevat wat altwee moontlikhede weergee:
2.2) Wat beteken die outeur se naam?
- Die naam Daniël beteken “Elohim is my regter“. Dit word verander na “Beltsasar” wat beteken “Mag Bel sy lewe beskerm“. Bel was een van die Babiloniese afgode.
- Die naamsverandering was die Babiloniërs se manier om hulle mag oor hierdie seuns uit te beeld, en ook om die jong ballinge te indoktrineer met Babiloniese waardes.
- Soveel meer is dit van belang dat Daniël getrou gebly het aan sy gewete – want Hy het geweet God is sy regter.
2.3) Wat is die outeursvraagstuk?
- ‘n Interessante verskynsel in die teks van die boek Daniël, is dat ‘n reuse gedeelte in Aramees geskryf is.
- Aramees is vanaf 1100vC onder die Arameërs gepraat. Teen die 8ste eeu voor Christus is dit deur die Assiriërs as ‘n tweede taal aangeneem. Vanweë die groot hoeveelheid mense wat die Assiriërs in ballingskap regoor die ou bekende wêreld weggevoer het, het Aramees wyd versprei. Babiloniese handelaars het ook Aramees gepraat, en geleidelik het Aramees in die 7e en 6e eeu voor Christus, die “lingua franca” van die Midde Ooste geword, en dit het die amptelike voertaal van die Persiese koninkryk geword tot 330vC. Met die opkoms van Aleksander die Grote het Grieks die nuwe wêreldtaal geword.
- Geleerdes krap nog kop waarom die outeur sou kies om ‘n groot gedeelte van die boek in Aramees te skryf. Verskeie verduidelikings is al gegee, maar daar kan nog nie met sekerheid gesê word wat die besliste rede hiervoor is nie:
- Moontlikheid #1: Miskien kom die boek totstand deur 2 paralelle-gelyktydige outeurs, een Hebreeus en een Aramees. Hierdie verduideliking sou meer sin maak as daar ‘n skoon breuk tussen die Hebreeuse en Aramese gedeeltes was. Maar die oorgang van een taal na ‘n ander vloei natuurlik binne die groter verhaal
- Moontlikheid #2: Miskien het ‘n enkele outeur gekies om tussen die 2 tale te spring, en die verhale wat in Babilonië afgespeel het, in die taal weer te gee wat daar gepraat was in die tyd.
- Moontlikheid #3: Miskien is die oorspronklike boek in Aramees geskryf en is die Hebreeuse gedeeltes later bygevoeg of oorvertaal om dit meer ontvanklik te maak vir die Joodse gehoor wat in ballingskap sit. Hulle Hebreeuse moedertaal sou aan die boek ‘n bepaalde konnotasie van outoriteit verskaf.
- Moontlikheid #4: Miskien kleef daar simboliese betekenis aan die afwisseling tussen die tale. Soos dat die gedeeltes in Aramees ‘n boodskap aan die nasies bevat (Aramees was die wêreldtaal van die tyd) en die Hebreeuse gedeeltes ten doel gehad het om spesifiek die Jode te bemoedig.
2.4) Wat is die maksimale benadering mbt outeurskap?
- Die maksimale benadering sal huldig dat Daniël – wat ‘n jong Joodse seun was toe hy in ballingskap weggevoer is – die boek geskryf het.
- Datum van totstandkoming sal dan wees vanaf die wegvoering in 606vC, tot die val van die Babiloniese ryk onder die Perse in 539vC.
2.5) Waarom verwerp sommige die maksimale benadering?
- Daar is hoofsaaklik 3 redes waarom sommige die maksimale benadering verwerp:
- Derdepersoonsvertelling: Die eerste helfte van die boek is in die derde persoon geskryf. Dit maak ook nie daarop aanspraak dat dit deur Daniël geskryf is nie – slegs dat dit oor Daniël handel. Ons weet dus vir ‘n feit dat daar ‘n finale redakteur moes gewees het wat die verhale gekompileer en afgerond het.
- Foutiewe inligting: Indien die boek deur iemand geskryf is wat die wegvoering deurgemaak het, is dit vreemd dat die persoon historiese foute sou begaan. So sê Dan 1:1 byvoorbeeld dat die volk in die derde regeringsjaar van koning Jojakin weggevoer is, terwyl hulle eintlik onder Jojagin (Jojakim se opvolger) weggevoer is (2 Kon 24:8-12). Historiese foute laat mens gee mens die idee dat die persoon wat dit geskryf het nie goed bekend was met die werklike geskiedenis nie.
- Nie akkuraat genoeg: Die boek beskryf Daniël se diens aan die hof van verskillende konings. Hoewel die chronologie van die konings korrek is, is daar groot tydgapings tussen die vermelde konings. Die boek maak nie melding van die ander konings tussenin nie. Dit wek weereens die indruk dat die outeur nie bekend was met die geskiedenis nie.
- Te akkuraat: Die visioene wat die boek bevat vertel aan die hand van simboliek, in detail van die verskillende koninkryke en hoe elkeen sal tot ‘n einde sal kom. Sommige mense voel die “toekoms” is soveel detail uitgelê word, dat dit eintlik “te akkuraat” is. Volgens hulle is dit meer waarskynlik dat die boek in retrospek geskryf word: Geskiedenis word aan die hand van visioene oorvertel om te lyk asof dit die toekoms bevat.
2.6) Wat is die minimale benadering mbt outeurskap?
- Volgens die minimale benadering is Daniël ‘n fiktiewe figuur – of moontlik ‘n figuur afkomstig uit Kanaänitiese legendes.
- In Eseg 14:14 word daar byvoorbeeld na ‘n “Daniël” in ‘n lys van regverdiges verwys. Eseg 28:3 noem dat die wysheid van die koning van Tirus die wysheid van selfs hierdie Daniël oortref het.
- Sommige meen dat die Daniël in die tekste van Esegiël, verbind kan word met ‘n Daniël-figuur in die Kanaänitiese legendeverhaal “Die verhaal van Aqhat” wat uit die veertiende eeu voor Christus dateer.
- Volgens die minimale benadering is hierdie figuur “geskep” en aan die Jode voorgehou as ‘n Jood wat ‘n voorbeeld van wysheid en getrouheid was.
- ‘n Outeur/s het in die tyd van felle vervolging van Antiogus Epifanus (tussen 175 en 168vC), die geskiedenis van die verskillende koninkryke in die vorm van visioene wat oor die toekoms handel, aan die volk aangebied om hulle te bemoedig en op te roep tot getrouheid.
2.7) Waarom verwerp sommige die minimale benadering?
Die minimale benadering kom weer onder skoot om die volgende redes:
- Eerstepersoonsvertelling: Hoofstuk 7-12 wat in die eerste persoon geskryf word, is ‘n goeie merker van outeurskap. Hoewel dit nie ‘n onteenseglike “bewys” is nie – pseudografie was ‘n algemene verskynsel – bly dit ‘n belangrike merker in die teks om te verreken.
- Akkuraat genoeg: Die aantuiging dat die outeur gapings gelos het tussen konings en nie van al die Babiloniese konings tussenin vertel nie – en dit dan as ‘n bewys te neem dat die outeur nie die geskiedenis geken het nie, hou nie water nie. Ons weet vandag baie meer van hoe byvoorbeeld geslagsregisters gebruik is. Dit was algemeen om sekere name uit te los en slegs die te noem wat jy wil benadruk.
- Historiese “foute” verklaarbaar: “Foute” van historiese gegewens kan verklaar word deur te onderskei tussen tye van beleg, inname en wegvoer. Hoewel die fisiese wegvoer eers onder Jojagin plaasgevind het, het die opbou van die spanning en selfs die beleg waarskynlik in fases geskied en kon dit ook reeds onder Jojakin plaasvind.
- Boek te kompleks vir so kort totstandkomingstydperk: Die minimale benadering voer aan dat die boek geskryf is in Antiogus Epifanus IV se bewind – dus vanaf 175vC. Tog is daar geen aanduiding in die teks dat die outeur kennis dra van die suksesvolle weerstandbeweging van die Makabeërs, of die herinwyding van die tempel nie. Volgens hierdie benadering moes die boek met ander woorde gefinaliseer word voor hierdie gebeure – met ander woorde voor 168vC. Tog is die boek van ‘n baie hoë literêre gehalte. Die kompleksiteit van die samestelling van die boek wil te kenne gee dat dit oor ‘n langer tyd gevorm en deur redakteur(s) gefinaliseer is, as wat die minimale benadering toelaat.
- Taal verklap vroeër datering: Die feit dat so groot gedeelte van die boek in Aramees geskryf is, bly ‘n kopseer. Aramees hoort meer tuis in ‘n vroeër datering, as wat dit in die Griekse helleniseringstyd van Antiogus Epifanus IV tuishoort.
- Akkuraatheid as bewys van inspirasie: Die minimale benadering voer aan dat die boek die toekoms “te akkuraat voorspel” het, en dat dit daarom meer waarskynlik is dat dit in retrospek geskryf is. Dit is ironies dat akkuraatheid “teen” die outeur gehou word. In die verlede was akkuraatheid juis ‘n teken dat die profeet ‘n ware profeet was en deur God geïnspireer is.
- Minimale benadering verklaar steeds nie akkuraathede nie: In ‘n poging om ‘n akkurate voorspelling van die toekoms te verklaar, dateer die minimale benadering die boek so laat as moontlik (168vC). Maar selfs as die boek so laat dateer word, is daar steeds gebeure wat in die boek “voorspel” word wat na 168vC uitspeel – soos die totstandkoming van die Romeinse ryk en selfs die koms van Jesus (Dan 9:26)
2.8) Wat is ‘n gebalanseerde benadering mbt outeurskap?
- ‘n Gebalanseerde benadering sou wees om toe te gee dat nie alles in die boek Daniël deur Daniël geskryf is nie.
- Ooglopend is die derdepersoonsvertellings deur iemand anders neergepen.
- Ons sou kon sê dat die eerstepersoonsvertellings (7-12) waarskynlik regtig deur Daniël “gesien” en neergeskryf is, en waarskynlik die ouer deel van die boek is.
- Waarskynlik het die verhale oor Daniël (6-12) eers mondeling bestaan en is dit later – selfs veel later – ten boek geskryf.
- Uiteindelik het ‘n redakteur(s) die verskillende bronne in ‘n boek gekompileer, gerangskik en tot ‘n mooi geheelprent afgerond. Dit is nie onmoontlik dat hierdie finale produk eers heelwat later die lig gesien het nie – maar omdat ons ‘n baie hoë agting vir die orale tradisie het, ontneem dit niks van die Daniëlfiguur se historisiteit nie.