Amos

Gebruik die volgende informasie om die boek beter te verstaan:

1.) WATTER SOORT GENRE IS DIE BOEK?

1.1) Waar kom die naam vandaan en wat beteken dit?

  • Die naam “Amos” is heenwysend na die profeet wat die visioene ontvang en neergeskryf het.
  • Amos se boodskap van oordeel was ‘n swaar boodskap wat baie teenkanting uitgelok het. Die naam Amos beteken dan ook “die een wat ‘n las dra”, en moontlik was die naam Amos dus eintlik ‘n bynaam wat die profeet mettertyd ontvang het na aanleiding van die swaar boodskap wat hy telkens moes bring. Die deurslaggewende moment in Amos se lewe wat hom die dapperheid gegee het om teenkanting te verduur, was sy roeping (7:15).

1.2) Hoe word die boek geklassifiseer?

  • Die boek Amos is een van die latere oftewel “Skrifprofete” van die Bybel. Van die Skrifprofete behoort hy tot die voor-ballingskapsprofete – en spesifiek tot die “voor-assiriese ballingskapsgroep”. Verder behoort Amos tot die groep kleinprofete.

1.3) Hoe pas die boek in die groter prentjie van die Bybel in?

  • Die Joodse Bybel (ons Ou Testament) staan bekend as die Tanakh. Die woord “Tanakh” is ‘n akroniem. Die Hebreeuse letters “TNK” is elk die eerste letters van die 3 bundels waaruit die Tanakh bestaan:
    • die Wet oftewel die “Torah”
    • Die profete oftewel die “Nevi’im”
    • en die geskiedskrywing of “Ketuvim”
  • Geskrifte wat rondom 150vC uit dateer, wys vir ons dat die “Nevi’im” altyd saam gebundel was en as ‘n eenheid gelees is. Daar 17 verskillende profeteboeke identifiseerbaar.
  • Sommige denkskole onderskei tussen 5 groot profete en 12 klein profete, terwyl ander slegs 3 groot profete erken en 12 klein profete. Die boek Daniël word dan as apokaliptiek (soos Openbaring) beskou en die Klaagliedere van Jeremia word gesorteer saam met feesbundels (Rut, Esther, Hooglied)
  • Soos reeds gesê maak Amos deel uit van die “Nevi’im” of profete.
  • Die 12 kleinprofete verwys na die lengte (of eerder die kortheid) van die boek.
  • Amos word soms die eerste “skrifprofeet” of die “skrywende profeet” genoem. Die profete wat voor hom opgetree het, het nie hulle profetiese aankondigings op skrif opgeteken en in boeke saamgestel nie.
  • Rakende die volgorde van die profeteboeke is daar 3 moontlike maniere waarop die boeke gegroepeer is:
    • Daar word gesê dat die eerste 6 klein profete oorwegend die probleem van ongeregtigheid beskryf het, terwyl die laaste 6 klein profete oorwegend die oplossing aanbied.
    • Die tweede moontlike rangskikkingsmetode het te make met chronologie. Die klein profete is rofweg chronologies gerangskik. Eerstens kry mens die voor-assiriese-ballingskapsprofete, daarna die voor-babiloniese-ballingskapsprofete en dan die na-ballingskapsprofete. (Hier en daar is daar wel ‘n boek wat nie chronologies inpas nie)
    • Die derde rangskikkingsmetode kon verbandhou met hoe kenmerkende “slagspreuke” of “slagfrases” die boeke met mekaar kon verbind. Ons weet dat die boeke in die Torah/Pentateug so met mekaar verbind is (Sien bv Eks 40:34-35 en Levitikus 1:1). Joël en Amos word ook op so manier met mekaar verbind (sien Joël 3:16 en Amos 1:2). Op ‘n soortgelyke wyse vind Miga 7:18 aansluiting by Nahum 1:3, asook Sefanja 3:19 en Hag 1:2.

Die mees waarskynlike verduideliking vir die volgorde van die klein profete is dat dit nie slegs een van bogenoemde kriteria was nie, maar ‘n kombinasie van al 3 en al dat die bundel as’t ware ‘n kunswerk van chronologie, tema en inhoud is

1.4) Hoe beïnvloed die genre van hierdie boek ons lees daarvan?

  • Die profetiese genre word aan gekenmerk aan ryk simbole en metafore. Dit beteken mens moet weet dat dit wat jy lees kan jy nie “letterlik” verstaan nie. Maar net omdat ‘n mens iets nie letterlik neem nie, beteken dit nie mens neem dit nie ernstig nie. Die hele doel van beeldryke taal is immers om die punt van ‘n belangrike boodskap tuis te bring.

1.5) Watter ander Bybelboek hou met hierdie boek verband?

  • Die geskiedenis tussen 1 Kon 12 en 2 Kon 14 is ter sprake.
  • Die regeringstyd van Jerobeam II word spesifiek vertel 2 Kon 14:23-29
  • 2 Kon 17-18 Vertel verder Assirië se aanval op Israel.
  • Amos 5:25-27 word in Handelinge 7:42-43 aangehaal.
  • Hosea het skaars 10 jaar na Amos as profeet teen Israel opgetree. Hoewel die twee profete baie in gemeen het, is die kontras tussen hulle ewe opvallend:

2.) WIE IS DIE OUTEUR?

2.1) Wat is die biografiese inligting waaroor ons beskik?

  • Al wat ons van Amos weet is dit wat die teks vir ons van hom sê. Hy het in Tekoa geboer, ‘n dorpie sowat 10km suid van Bethlehem, net wes van die Judese woestyn. Hy was dus nie ‘n beroepsprofeet nie en het nie uit ‘n profeteskool gekom nie.
  • Daar moet daarop gelet word dat Amos nie ‘n skaapwagter was nie, maar wel ‘n “veeboer” en ‘n kweker van wildevye. Dit beteken hy was vir sy tyd ‘n vermoënde man. Die feit dat die Here juis hom roep om ‘n oordeelsboodskap aan welvarende mense te bring, wys vir ons dat dit nie geld is wat die probleem is nie, maar ‘n dieper kwaad.
  • Die outeur vertoon verder ‘n besonderse digterlike vermoë, wat vir ons aandui dat dit ‘n gesofistikeerde, gekultiveerde persoon was.

2.2) Wat is die outeursvraagstuk?

  • Soos in elke teks is daar ook outeursvraagstukke. In Amos wonder ons oor die volgende:
    • Die vyf gesigte wat Amos gesien het, word in die eerste persoonsverteller weergegee (7:1; 7:4; 7:7; 8:1; 9:1). Dit beteken dat Amos dit waarskynlik self neergepen het (vandaar sy naam as die eerste Skrifprofeet).
    • Ander gedeeltes in die boek is egter in die derde persoonsverteller geskryf (soos bv 1:1).

2.3) Wat is die maksimale benadering mbt outeurskap?

  • Die maksimale benadering sal handhaaf dat een outeur, naamlik die oorspronklike profeet Amos, die alleenskrywer van die boek is.

2.4) Waarom verwerp sommige die maksimale benadering?

  • Die gedeeltes in die boek wat in die derdepersoon geskryf is, verklap waarskynlik meerdere outeurs. Moontlik was dit deur leerlinge of navolgers van Amos opgeteken. Dit is selfs moontlik dat die eerste persoonsvertellergedeeltes aanvanklik ‘n aparte “boekie” gevorm het en later deur ‘n redakteur met die ander gedeeltes saamgevoeg is.

2.5) Wat is die minimale benadering mbt outeurskap?

  • Die minimale benadering sal die moontlikheid voorhou dat die boek eintlik eers in die ballingskap ontstaan het en slegs voorgee dat die visioene toekomsgerig is, terwyl dit eintlik retrospektief geskryf is.
  • Gedeeltes soos 9:11 en 9:15 skep die indruk dat die volk ten tye van hierdie aankondiging, reeds weggevoer is – terwyl Amos inderwaarheid voor die ballingskap opgetree het.

2.6) Waarom verwerp sommige die minimale benadering?

  • Die visioene wat geskryf is in die eerste persoon, is kenmerkend van outentikiteit.

2.7) Wat is ‘n gebalanseerde benadering mbt outeurskap?

  • Ons mag aanneem dat daar inderdaad ‘n historiese figuur genaamd “Amos” was wat in die Suidryk geboer, en in die Noordryk voor die ballingskap as profeet opgetree het.
  • Die gedeeltes in die boek wat in die eerste persoon geskryf is, is deur hom geskryf.
  • Soos dit egter die gebruik was, het navolgers of “dissipels” rondom ‘n profetiese figuur begin versamel. Moontlik het een of meer van hierdie navolgers Amos se geskrifte gerangskik en as redakteur opgetree.
%d bloggers like this: