Nehemia 6
Mens leer in hierdie hoofstuk so baie van hoe kritiek werk en hoe leiers dit moet hanteer.
Sanballat en Tobija’hulle probeer om Nehemia bang te maak met ‘n sogenaamde gerug wat kwansuis die rondte doen. Gelukkig val Nehemia nie daarvoor nie. Hy hou hom by sy werk.
Toe daardie strategie nie werk nie, loots hulle ‘n aanval van binne. Hulle koop vir Semaja om, om ‘n valse profetiese uitspraak te lewer. Nehemia sien ook deur hierdie truuk.
Aan die einde van die hoofstuk is daar iets interessant aan die gebeur. Die muur is voltooi, maar in plaas daarvan dat hierdie hooggeplaastes bly is – hulle baat immers daarby – ontstaan daar ‘n oor en weer briewe geskrywery. Die kat is behoorlik in die hoenderhok.
Dit is duidelik waaroor dit hier gaan. Hulle is afgunstig op Nehemia. Hulle was ook in die stad, maar hulle het nie die muur herbou nie. Toe kom Nehemia op die toneel en skielik gebeur dinge. In plaas daarvan om sy sukses te vier, kies hulle om hulle verleentheid te verdoesel.
Hulle was posisionele leiers. Nehemia was die regte leier. Hulle strategie was vrees, kritiek, onmin en verdeeldheid.
Nehemia se kuur vir hierdie gif, was bloot om die regte ding te bly doen. Hulle het alles probeer om hom van die bouperseel af weg te lok en die werk te laat stilstaan. Maar Nehemia het nie energie spandeer om die skindertonge stil te maak nie. Hy het net aangehou werk. Selfs toe sy binnekring (Semaja) teen hom draai, het hy die durf aan die dag gelê en nie skuiling in die tempel gaan soek nie.
Leierskap is ‘n alleenpad. Leierskap ken die frustrasie van kritiek en die pyn van verraad. Goeie leiers benodig antennas om waarheid te meet – soos briewe wat nie geseël is nie en profetiese uitsprake wat nie water hou nie. Goeie leiers het ‘n groter deursettingsvermoë om aan te hou en deur te druk met die visie, terwyl ander al sou moed opgee.