Wat is die JEDP-teorie?

Die JEDP-teorie is ‘n poging om oor die outeurskap en ontstaan van die Pentateug te praat.

Daar word ook met ander name na hierdie teorie verwys, soos die “Welhausen-hipotese” (Julius Welhausen was ‘n groot propageerder van die teorie) of die “Dokumentêre hipotese” (omdat die teorie in wese handel oor hoe verskillende oorleweringe tot ‘n eenheid gekom het). Die hipotese is ‘n goeie voorbeeld van bronnekritiek, waar daar gesoek word na die oorspronklike tradisies waaruit ‘n boek ontstaan het.

Die vraag oor outeurskap.

Volgens tradisie is daar geglo dat Moses die outeur van die Pentateug (eerste 5 boeke van die Bybel) is.

Hoewel daar ‘n goeie kans is dat Moses wel groot gedeeltes van die Pentateug geskryf het, kan mens nie ontken dat daar definitief ook ander hande aan die finale produk gewerk het nie. Selfs ‘n ongeoefende oog kan merkers in die teks sien:

  • Num 12:3 “Moses was ’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde.” (Moses sou baie onwaarskynlik so iets van homself geskryf het!)
  • Gen 36:31 “Daar het al konings oor Edom geregeer nog voor daar konings oor Israel geregeer het. Hier volg hulle name.” (Om hierdie sin te kan skryf, impliseer dat die outeur moes geweet het wanneer Israel die eerste koning gekry het – en dit was baie lank na Moses!)
  • Eks 12:41 “Na vier honderd en dertig jaar, presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek.” (Nog ‘n sin met ‘n ooglopende merker wat wys dat ‘n redakteur die teks na Moses beet gehad het)

Daar is nog etlike ander sulke verse waar selfs ons as leke duidelik kan agterkom dat Moses nie die enigste persoon was wat die Pentateug geskryf het nie.

Die JEDP-teorie poog dus om te spekuleer wie hierdie ander persone was.

JEDP-teorie in ‘n neutedop

In kort sê die JEDP-teorie dat die Pentateug ‘n samestelling is van verskillende bronne/oorleweringe/tradisies, oor ‘n lang tydperk – selfs so lank as etlike eeue.

Die finale produk soos ons dit min of meer vandag ken, het dalk so laat as 400vC eers die lig gesien. Die finale redakteur kon dalk selfs Esra gewees het.

Waarskynlik het elke tradisie sy eie Skrifgeleerde gehad wat soos ‘n redakteur die verskillende bronne met mekaar begin “trou” het.

Elkeen van die redakteurs het sy eie “vingerafdrukke” op die teks agtergelaat. Dit is mos maar net so dat elkeen van ons ons eie woordeskat het wat ons meer geneig is om te gebruik as iemand anders.

  • Die J-bron is die sogenaamde “Yahwis” omdat hierdie redakteur ‘n voorliefde vir die naam “Yahwe” gehad het.
  • Die E-bron is die sogenaamde “Elohis” omdat hierdie redakteur ‘n voorliefde vir naam “Elohim” toon.
  • Die D-bron is die sogenaamde “Deuteronomis“. Hierdie persoon was dalk op sy eie verantwoordelik vir die totstandkoming van die boek Deuteronomium – moontlik rondom 620vC.
  • Die P-bron is die sogenaamde “Priester” omdat hierdie redakteur ‘n voorliefde het vir die kultiese beskrywings.

Moontlike tydlyn van ontwikkeling.

As ‘n mens na ‘n tydlyn sou kyk hoe die Pentateug volgens die JEDP-teorie moontlik ontwikkel het, sal dit as volg lyk:

Tussen 950 en 850vC word die mondelinge oorgelewerde tradisies wat in die Suidryk geleef het, meer gekonkretiseer.

Rondom 750vC word die mondelinge oorgelewerde tradisies wat in die Noordryk geleef het, meer gekonkretiseer. Hierdie “skool” het ‘n voorliefde vir die naam “Elohim” in die verhale gehad.

Om en by 650vC verwerk ‘n redakteur die materiaal van J en E tot ‘n eenheid. Dit word JE.

Volgens die JEDP-teorie het die hele boek Deuteronomium in die tyd van Josia se hervormings (621vC) die lig gesien. Die hele boek het deur D totstand gekom, behalwe die insetsel aan die einde oor die dood van Moses. Aanvanklik was daardie gedeelte deel van Numeri. Volgens die hipotese het die finale redakteur daardie insetsel van Numeri na Deuteronomium geskuif toe die Pentateug saamgebundel is.

Moontlik het JE tesame met Deuteronomium as ‘n eenheid begin funksioneer rondom 550vC. Daardie bundel/bron kan JED genoem word.

In die ballingskap – of kort na die ballingskap – voeg P ook sy perspektiewe by. Hierdie redakteur het groot affiniteit vir die kultiese inhoud gehad, en daarom word daar vermoed dat hierdie redakteur(s) dalk ‘n groepie priesters was. Volgens die teorie het die grootste gedeelte van Levitikus, sy oorsprong te danke aan P.

Moontlik so laat as 400vC finaliseer ‘n redakteur die Pentateug tot die produk soos ons dit vandag ken. Soos reeds gesê geskied hierdie in die tyd van Esra en kon dit dalk hyself gewees het.

Wie skryf wat?

Geleerdes het nie aldag eenstemmigheid oor watter redakteur het watter gedeelte in die Pentateug neergepen nie. Party gedeeltes is makliker as om te identifiseer as ander.

  • Genesis: Die skeppingsverhaal in Genesis 1 kom volgens die teorie van P af, terwyl die skeppingsverhaal vanaf Genesis 2:4 uit J se pen kom. E en J is by tye moeilik onderskeibaar in Genesis. Die aartsvadergeskiedenis is ‘n poging deur beide J en P.
  • Eksodus: In Eksodus is dit aanvanklik moeilik om tussen J en E te onderskei. Na hoofstuk 3 gebruik die E-bron die eienaam Yahwe vir die Here (iets wat eintlik kenmerkend aan J is). Baie van die materiaal in Eksodus 1-5 kom van J af, maar dit is nou verweef met E s’n. Vir geleerdes is P se aandeel duideliker sigbaar. Dit is die gedeeltes was uitbrei oor Israel se slawerny en die wonderwerke wat met die uittog gepaard gegaan het. Na die uittog vind ons weer J se materiaal waar hy vir ons vertel van die water uit die rots asook manna in die woestyn. Na hierdie vertellings vind ons nie meer J-materiaal tot en met die weergawe van die gee van die wet in Eksodus 34 nie. Gewoonlik is J nie ingestel op die wet nie.
  • Levitikus: Levitikus het amper in sy geheel ontstaan uit die pen van P.
  • Numeri: Die boek Numeri is ‘n boek wat grotendeels materiaal van J bevat, en wat dan deur P geredigeer is.
  • Deuteronomium: Soos reeds gesê het hierdie boek sy ontstaan te danke aan D. Die dood van Moses, soos verhaal aan die einde van Deuteronomium, was waarskynlik eers deel van Numeri en is toe later deur ‘n redakteur na Deuteronomium geskuif.

Na alles moet daar gesê word dat bronnekritiek ‘n hoogs gespesialiseerde veld is en dat dit baie tegnies kan raak. Vir ons doel – om as gewone gelowiges die Bybel te lees – is dit nie regtig van belang om te weet of ‘n spesifieke gedeelte van die Pentateug deur Moses, J, E, D of P geskryf is nie. Vir ons doel maak die outeurskap nie ‘n verskil aan die betekenis of hoe ons die teks vir ons lewe moet interpreteer nie.

Waaroor gaan die JEDP-bohaai dan?

Die JEDP-teorie word dikwels (verkeerdelik) deur skeptici gebruik om te sê dat die Pentateug ongeloofwaardig is. Die argument volg min of meer hierdie logika:

  • Die Pentateug is glad nie so oud as wat ons dink nie.
  • Dit het eers sy ontstaan in 400vC gehad – en dan vanuit 4 verskillende oorde.
  • Dit beteken die verhale is neergeskryf eeue nadat dit veronderstel was om te gebeur.
  • Dink net hoeveel stertjies kon in so ‘n lang verloop van tyd aangelas word deur wie weet hoeveel mense.
  • Dit beteken die bronne se geloofwaardigheid en historisiteit is onder verdenking!
  • Dit help dus nie jy glo aan dit wat in die Pentateug geskryf staan nie.

Skeptici misbruik dus die JEDP-teorie om agterdog oor die teks se geloofwaardigheid te wek. Aan die ander kant vind mens onder behoudende Christene ‘n groot teenkanting teen die JEDP-teorie. Behoudende gelowiges voel dikwels (verkeerdelik), vir die Pentateug om waar te wees, moes dit noodwendig deur Moses geskryf wees. Enige teorie wat dus Moses as outeur diskwalifiseer, moet verwerp word.

Probleme met JEDP-teorie.

Nou, ons moet sê dat die JEDP-teorie nie sonder probleme is nie. Daar is beslis ernstige tekortkominge. Kom ons kyk net na so paar:

  1. Eerstens moet ons sê dat die JEDP-teorie net dit is: ‘n teorie. Daar is nog nooit enige stawende antieke dokument gevind wat die hipotese bewys nie. Daar is ook geen melding van sulke dokumente by antieke teoloë nie. Enige voorstander van die JEDP-teorie moet dus toegee dat die hipotese geneig is om baie spekulatief te raak.
  2. Die JEDP-teorie maak ‘n groot ophef oor die feit dat daar linguïstiese/literêre verskille in die Pentateug te vinde is, en maak daarom die punt dat daar verskillende outeurs aan die woord is. Die vraag sou egter ook gevra kon word of die JEDP-teorie nie dalk te min van die moontlikheid maak dat ‘n enkele outeur ook die vermoë het om verskillende soorte genres te skryf nie. Die woordeskat wat jy gaan gebruik om die offers en die kultiese sisteem van Levitikus te beskryf, gaan noodwendig verskil van die woordeskat wat jy gaan gebruik om die wetlike voorskrifte van Eksodus en Deuteronomium te skryf – en dan gaan dit nog ‘n keer verskil as jy die narratiewe van bv Genesis wil verhaal. Maak die JEDP-teorie dus genoeg om verskillende genres in ag te neem?
  3. ‘n Vraag sou ook gevra kon word of die JEDP-teorie genoeg ruimte laat vir die ontwikkeling van ‘n enkele outeur. As ek na die preke kyk wat ek vandag skryf en ek vergelyk dit met die preke wat ek 10 jaar gelede geskryf het, dan lyk dit soos twee verskillende mense. Op ‘n soortgelyke wys kan ‘n saak gemaak word dat die Pentateug wel deur (hoofsaaklik) ‘n enkele outeur neergepen is (sonder om die hand van ‘n finale redakteur te ontken), maar dat die outeur die Pentateug oor etlike dekades geskryf het. Vandaar die groot verskille in styl en woordeskat.

Wat is my persoonlike opinie?

Die JEDP-teorie is belangrik om van kennis te neem.

Behoudende Christene behoort meer te luister na die lyn van redenering wat die teorie volg, sonder om te voel dat hulle dit dadelik moet afskiet omdat dit kritiese vrae oor outeurskap vra. Die teendeel is net so waar: skeptici misbruik die JEDP-teorie om onnodige agterdog oor die geloofwaardigheid van die Pentateug te wek.

Hulle verloor uit die oog dat al was ‘n outeur nie Moses nie, sou dit steeds iemand geloofwaardig in die geloofsgemeenskap moes wees.

Om te maak asof die betroubaarheid van die teks aangetas word omdat die fisiese neerpen van verhale jare na die tyd eers plaasvind, is om jou onkunde te openbaar oor hoe hoë premie daar geplaas is op die mondelinge oorleweringe. Mondelinge oorleweringe is nie wat dit vandag is nie. Vandag kry stories stertjies.

Stel jouself voor die oudstes van die volk kies jou om tydens vanaand se kring van gelowiges die mondelinge oorgelewerde verhale van julle stam se herkoms oor te vertel. Almal ken die verhale – maar tog sit almal weer en luister. Die oudstes van die volk inkluis. Dit sal vir jou ‘n saak van eer wees om dit presies oor te vertel soos dit aan jou oorvertel is – sonder om iets te vergeet of by te voeg. Anders kan jy ‘n openbare teregwysing van die oudstes verwag! Dit is hoe mondelinge oorlewering van generasie tot generasie oorgedra is sonder om daarvan af te wyk.

So om te maak of die JEDP-teorie – sou dit waar wees – die onakkuraatheid van die Pentateug bewys, is ‘n groot mistasting.

Ek dink die antwoord op die vraag oor outeurskap van die Pentateug lê dus êrens tussen die twee teenpole. Moses het waarskynlik groot gedeeltes neergepen. Maar so ook het ‘n redakteur of ‘n groep redakteurs – wat geloofwaardigheid onder die volk geniet het – die mondelinge oorgelewerde tradisies op ‘n stadium op skrif gestel. En toe het daar op ‘n stadium – dalk heelwat later – weer ‘n redakteur of groep redakteurs die Pentateug se teks geneem en dit afgerond tot ‘n mooi vloeibare eenheid soos ons dit vandag ken.

In net 3 jaar kan jy die volheid van God se Woord sélf ontdek!