Hoe werk “rein” & “onrein” – en wat is die betekenis daarvan vir vandag?

Hoe is daar bepaal of iets “rein” of “onrein” in die Bybelse tyd is? Waarom was daar hierdie kategorieë gebruik? Wat was die konsekwensies hiervan? En dalk nog belangriker: Wat beteken dit vir ons vandag?

Die kategorieë “rein” en “onrein” was waardesisteme waarmee mense in die Bybelse tyd hulle leefwêreld mee georienteer het. Hulle het hierdeur gesorg dat alles in plek is en dat daar plek is vir alles…

Kriteria wat bepaal of iets rein of onrein is.

  1. Pas dit binne die grense?

Een van die héél belangrikste maatstawwe om te weet of iets rein of onrein was, was om te kyk of dit binne die grense pas wat God daarvoor beskik het.

  • Dink byvoorbeeld aan iets soos grond. Buitekant is grond deel van die aarde wat God vir jou gegee het om te bewoon en te bewerk – dit is dus heilig. Maar as jy grond binne jou huis sou kry, dan is dit uit sy plek en gevolglik is dit onrein.
  • Neem ook byvoorbeeld iets soos bloed. In die offerkultus bewerk bloed versoening – dit is dus heilig. Menstruasie daarenteen is bloed wat bínne die liggaam van die vrou hoort, wat nou buite die grens van haar liggaam aangetref word – en daarom is dit onrein.

In baie gevalle is iets dus nie per sé “rein” of “onrein” nie – maar eerder neutraal. Die reinheidstatus word bepaal deur te kyk of dit in die gepaste grens is.

Grense is gevaarsones en moes deur reinheidswette beskerm word.

  • Dink aan die grense van die liggaam (en gevolglik is daar wette oor ontlasting, semen, maandstondes, velsiektes ens),
  • Dink aan die grense van ‘n volk – en daarom mag die volk nie huweliksmaats “oor grense heen” (van ander volke) geneem het nie. Wanneer dit gebeur het, moes die volk weer gereinig word (Esra 10).
  • As die grens van lewe na die dood oorgesteek is, moes daar versigtig opgetree word met die lyk. Die lewendes het niks by die dooies verloor nie. (Num 5:2)
  1. Pas dit binne die skeppingsorde?

Nog ‘n groot maatstaf waarmee bepaal is of iets – en spesifiek diere – “rein”  of “onrein” was, was die skeppingsorde. Die Here het diere vir die vasteland gemaak, voëls vir die lug en visse vir die water.

‘n Vis wat die stereotipiese prentjie van ‘n vis gepas het, was rein. Die probleem het ingekom by iets soos ‘n krap – dit het nie skubbe soos vis nie, dit swem nie maar dit loop, en hoewel dit ‘n waterdier is, bevind hy hom op land. Duidelik is dit iets wat nie in die skeppingsorde pas nie en daarom is dit onrein.

Of neem byvoorbeeld voëls. Vir ‘n voëlsoort om rein te wees moes dit kon vlieg. Daarom is volstruise wat hul op die grond bevind, onrein. Vir ‘n voël om rein te wees, moes dit verder die dieet van voëls volg, naamlik saad eet. Daarom is alle roofvoëls wat vleis eet, onrein.

Soogdiere is geskep vir die vasteland. ‘n Vark wat dus die heeltyd in die modder wil gaan rol, moet nie verbaas wees as dit onrein verklaar word nie.

  1. Pas dit in by wat “normaal” is?

Daar was sekere prentjies was as normaal beskou is. As iets daarvan afwyk, was dit as “onrein” verklaar.

Neem vir oomblik weer diere as byvoorbeeld. Vir ‘n soogdier om “normaal” (rein) te wees, moes dit herkou en gesplete kloue hê (Levitikus 11:3-4). Diere soos beeste en skape pas met ander woorde die tipiese profiel van wat as “normaal” beskou was. As ‘n dier egter van hierdie “prentjie” sou afwyk, was dit onrein. ‘n Kameel kan byvoorbeeld herkou, maar dit het nie volledig gesplete kloue nie. Vark het weer gesplete kloue, maar herkou nie.

In aansluiting met die vraag of iets inpas by die skeppingsorde, moes daar dus gevra word of dit inpas met wat as normaal beskou word.

‘n Insek is byvoorbeeld geskep om óf te loop óf te vlieg. Maar as ‘n insek beide pote en vlerke het, dan was dit as onrein beskou omdat dit nie in die “prentjie” van Genesis 1 gepas het nie (Lev 11:20). Dáár het God immers diere geskep wat in kategrorieë val en nie kruisings is nie.

God het ook perfek geskep. Mense het twee hande en twee voete. As jy dus iemand sou teëkom met ‘n fisiese geremdheid – soos ‘n af been of ‘n skewe hand – dan was die persoon as onrein beskou. Die fisiese gelaatstrekke van die persoon pas nie in by wat “normaal” is nie.

Dit is om dieselfde rede waarom jy slegs ‘n lam sonder liggaamsgebrek as ‘n offer vir die Here sou bring: ‘n Lam met ‘n liggaamsgebrek het afgewyk van “normaal” en was dus onrein.

Jy kan agterkom dat hierdie drie vrae dus ook redelik gereeld mekaar oorvleuel het. ‘n Krap hou nie by die grense van water en vasteland nie, en pas gevolglik ook nie in by die skeppingsorde nie. Melaatsheid pas nie in by wat normaal is nie, en die afskeiding oorskry ook die grense van die liggaam…

Wat wil “rein” en “onrein” bereik?

1.) Gehoorsaamheid van die volk

Eerstens moet ons sê dat die Rabbi’s van ouds van mening was dat die reinheidswette primêr daar was om gehoorsaam te word. Dit was nie jou prerogatief om te bepaal of dit billik of onbillik was nie. Dit was nie vir jou gegee sodat jy moes besluit of dit sinvol is of nie – dit was vir jou gegee om te gehoorsaam.

2.) Gesondheid van die volk

Dít gesê, kan ‘n mens wel sien dat daar ‘n rasionaal agter sommige van die reinheidswette is. Een van die eerstes wat in mens se kop opkom is dat dit gegee is ter wille van die gesondheid van die volk.

Reinheidswette wat bepaal het hoe en waar ‘n mens mag ontlas (Deut 23:9-14), het uiteraard die higiëne en die gesondheid van die volk op die hart gedra. So ook het reinheidswette wat gehandel het oor velsiektes (Lev 13:1-14:57), bloot probeer om die uitbreek van ‘n pandemie te voorkom. Mense het naby aan mekaar geleef en mediese kennis was beperk. Die groep se voortbestaan moes verseker word. Om dieselfde rede was die aanraking van lyke streng gereguleer (Num 5:2), omdat dit ook met baie siektes kon gepaardgaan.

3.) Sekuriteit van die volk

Ander volkere was as onrein beskou, sodat die volk hulle afstand van die vreemdelinge sou hou. Vreemdelinge was altyd met groot suspisie bejeën. Vreemdelinge kon spioene wees wat die sekuriteit van die volk kon bedreig. ‘n Ewe groot gevaar was om in ‘n huwelik te treë met ‘n lid van ‘n ander volk – oftewel met ‘n “onrein persoon”. Nie net was die gevaar daar dat sy soos Delila ‘n spioen vir die Filistyne was nie (Rigters 16), maar sy kon haar man verlei om die onrein afgode van haar land te begin aanbid. In ieder geval het hierdie “oorsteek van grense” ‘n sekuriteitsrisiko vir die voortbestaan van die volk ingehou.

4.) Kontrastering met ander nasies

Verder het reinheidswette gehelp om die volk van God te kontrasteer met die heidennasies van die omgewing. In die Kanaänitiese godsdienste was tempelprostitusie algemeen. Die fertiliteitsgodsdienste het veroorsaak dat die seksuele sinoniem geword het met die aanbidding van hulle gode by die tempel.

Om daardie rede lê die wette van Israel groot klem op die reinheid van geslagsdele. As jy ‘n saadstorting gehad het, gemenstrueer het of enige ander soort afskyding gehad het, was jy onrein en gediskwalifiseer van deelname by die tempel. Dit moes vir almal duidelik wees dat daar geen seksuele konnotasie was met die aanbidding van Yahwe in sý tempel nie.

Wat was die konsekwensie van onreinheid?

Hoewel die bedoeling agter die reinheidswette dus edel was, het dit ongetwyfeld ook tekortkominge gehad. Wanneer jy blindelings reëls neerlê en dit toepas, sal daar altyd individue wees wat nadelig deur dit geraak word.

In baie gevalle kon jy na ‘n wagtyd en ‘n gepaste handeling (hetsy om gebad te word, jou klere te brand of ‘n offer te bring), weer rein verklaar word en opgeneem word in die groep. Maar daar was altyd mense wat ‘n “onrein”-status hulle hele lewe lank moes saamdra.

Vir die melaatse persoon wat uit die kamp/dorp verban word, het ‘n gewisse doodsvonnis gewag. Maar so ook vir die vrou wat aan bloedvloeing gelei het. Die konstante skande en vernedering wat haar opgelê is, het verhoed dat sy kon deelhê aan die groep – soos byvoorbeeld die aanbidding by die tempel.

Vir ‘n groepsgeorienteerde samelewing was ‘n sosiale doodsvonnis nie minder erg as ‘n letterlike doodsvonnis nie.

Dit is dan ook veelseggend dat Jesus sy bediening op hierdie mense toespits. Hy genees melaatses, kreupeles en ‘n klomp individue – soos die vrou wat aan bloedvloeing gely het – wat as gevolg van reinheidswette gediskwalifiseer en uitgesluit is.

Dit is nie net Jesus wat tot hierdie mense se redding gekom het nie, maar ook sy volgelinge. Neem byvoorbeeld Filippus se gebaar van aanvaarding (doop) teenoor die ontmande Etiopiër. Die feit dat hy ontman was (sy fisiese gebrek het nie ingepas in wat “normaal” is nie), het hom verhoed om in die tempel te mag aanbid. Sy vraag “Wat verhinder my om gedoop te word?”, verklap dat hy ook van Filippus verwerping verwag. Waarop Filippus die teenoorgestelde doen!

Wat is die betekenis vir ons vandag?

Met bogenoemde in gedagte, kom ons kyk watter betekenis ons vir ons vandag uit teksgedeeltes kan haal wat handel oor “rein” en “onrein”:

  1. Verantwoordelikheid teenoor ander:

Bepalings oor hoe velsiektes jou onrein maak of beskrywings hoe jy buite die kamp jou ontlasting moet begrawe, het ten doel gehad om die groep te beskerm. Dit het higiëne bevorder en aansteekbare siektes bekamp. Die beginsel wat ons hieruit kan haal is om altyd te onthou dat my optrede ‘n rimpeleffek op ander het en dat ek daarom ‘n verantwoordelikheid teenoor die groep het. In ‘n tyd waar ons die Bybel te individualisties lees, is dit ‘n tydige boodskap.

  1. Oproep tot selfbeheersing:

Onthou, in ‘n antieke samelewing was dit baie maklik om alles behalwe beskaafd op te tree. Daarom het etlike van die stipulasies oor reinheid het ten doel gehad om die verwildering van die volk teë te werk, en eerder mense op te roep tot hoër etiese en morele waardes:

  • As hulle die vleis van diere sou eet wat in die veld verskeur is, sou die volk niks beter as rondloperhonde en aasdiere wees nie (Eks 22:31); Dit pas nie by God se volk nie!
  • Om ‘n boklam in die melk van sy ma te kook, is ‘n wrede banale daad (Eks 23:19; 24:26; Deut 14:21).
  • Om die lyk van ‘n man oornag aan ‘n boom te laat hang, is barbaars (Deut 21:23).

Waar die volk se konteks dus aanleiding sou kon gee tot onbeskaafdheid, roep die Ou Testament mense op om selfbeheersing toe te pas en hoë morele standaarde te handhaaf. Ons leef ook vandag in ‘n tyd wat wet en orde afgetakel word en waar dit maklik sou wees om jou net oor te gee aan dit wat jy dink reg is of waarvoor jy lus is. Die oproep tot selfbeheersing is dus baie tydig.

  1. Grafiese prentjie dat almal tekortskiet:

Die eindelose bepalings in die Ou Testament oor wanneer iets jou “onrein” sou maak, het beteken dat álmal een of ander tyd in sy/haar lewe skuldig voor God se Wet sou staan. Hoewel skeinheiliges dit later begin doen het, was dit eintlik onmoontlik om meerderwaardig op ander mense neer te kyk, jouself te verontskuldig en te dink dat jy beter as hulle is. Die stipulasies oor “rein” en “onrein” was ‘n grafiese prentjie dat elkeen – al doen jy jou bes – op ‘n stadium tekortskiet. Selde indien ooit praat ons vandag oor ons skuld voor God. Ons sou kon baat daarby om – voordat ons praat oor hoe genade ons insluit – eers te praat oor hoe die Wet ons skuldig verklaar.

  1. Die belang van afgrensing:

Gedeeltes soos Levitikus 19:19 beklemtoon die beginsel van afgrensing: Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of ’n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie”. Die gedagte was dat die volk hul Skepper moes naboots. Die Here het onderskei tussen dag en nag, tussen vasteland en see, tussen diere en die mens – en daarom moes die volk ook onderskei tussen “eendersheid” en “andersheid”. Deurdat die volk wette oor afgrensing moes nakom, is dit by die volk vasgelê en ingeskerp dat hulleself ook afgesonder van ander nasies moes leef. Die definisie van “heiligheid” is immers om “afgesonder” of “eenkant” te wees. Vandag onderhou ons nie die letter van die wet nie: ons meng saad, kruis diere en dra klere van verskillende soorte materiaal. Maar die gesindheid van die wet vra dat ons lewens vandag steeds afgegrens sal wees van die mense rondom ons. Ons sou kon doen met die vraag of ons lewens anders lyk as die wêreld rondom ons?

  1. Die omgewing het ‘n invloed op ons

Die reinheidswette het aan elke Israeliet verkondig dat jou omgewing ‘n invloed op jou het. As jy nie pasop het nie, het dit wat jy eet, of dit waaraan jy raak, of daar waar jy loop, of die persoon met wie jy trou, jou besoedel.

Dit is opmerklik dat gelowiges vandag aan ons verhouding met die Here dink asof ons in ‘n vakuum leef – asof niks van ons omgewing ‘n effek op dit kan hê nie. Ons sou goed doen as ons onsself weer afvra of die boeke wat ek lees, die films wat ek kyk, die vriende met wie ek uithang, en die kultuur waarin ek grootword nie tog ‘n vormende effek op my het nie? Wat kan ek doen om nie hierdeur besoedel te word nie?

  1. Die kontras met Jesus se bediening

Partykeer is die reinheidswette so vêr van ons leefwêreld verwyder, dat ons moeilik enige betekenis uit dit kan haal – anders as om dankbaar te wees dat Jesus dit alles verander het.

In Ou Testamentiese tye moes iemand wat onrein was, hom-/haarself vir die priester gaan wys alvorens die persoon weer rein verklaar en in die samelewing opgeneem kon word. In die Nuwe Testament vertolk Jesus die rol van die priester – in díe sin dat Hy die “onreines” genees en sodoende rein verklaar.

Waar die Wet mense uitgesluit het, het Genade (Jesus) gekom en mense ingesluit. Waar jysélf onder die ou verbond jou offer moes bring om rein verklaar te word, het Jesus dit namens jou in die nuwe verbond kom doen! Waar jou offer onder die ou verbond jou net tydelik kon reinig, het Jesus se offer ons eens en vir altyd gereinig!

In net 3 jaar kan jy die volheid van God se Woord sélf ontdek!