Tag Archives: Wettisisme

Handelinge 13

As ek so vinnig uitwerk het ek so 11/12 jaar gelede vir die eerste keer “genade” gesnap. Tot op daardie stadium was ek beslis “onder die wet” soos ons sal sê. Ek was ‘n Christen. Ek was selfs al ‘n predikant. Maar my boodskappe het meer gehandel oor wat ons moes doen as oor wat Jesus gedoen het. 

Ek was maar net ‘n “sedebewaarder”. Ja, ek het geglo Jesus het vir my sondes gesterf en dat ek vergifnis daarvoor  ontvang het. Maar as jy na my boodskappe sou luister sou jy dink dat ek geglo het dat my volgehoue vergisfnis in die weegskaal was en dat ek verantwoordelik was om verder vorentoe my verlossing “in stand te hou”, deur ‘n lang lys moets en moenies na te kom.

En toe “drop die pennie” soos ons sal sê. Ek snap toe eendag genade. Dit was seker nog ‘n goeie tyd van 2 jaar voor ek die konsekwensies van genade alles kon insien en my eie maak. Maar iets dramaties het in my gebeur. Ek wat eens wetties was, was nou in genade. Ek sal nooit vergeet hoe “soet” die water van die Woord vir my geproe het nie. Ek het net gesmag na nóg. Seker omdat dit so ánders was as die boodskap van selfverdienste waaraan ek tot op daardie stadium gewoond was.

En daarom glimlag ek vanoggend. Ek sien die apostels verkondig die boodskap van genade in Handelinge 13. En nadat hulle dit in die sinagoge gedoen het en die byeenkoms verdaag het, kom die mense na hulle toe. Die woord sê: “Díe het met hulle (Paulus en Barnabas) gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou” (vers 43)

Jy sien in hierdie opmerking hoe soet, hoe vars, hoe anders die boodskap van genade vir die mense was. Jy sien hoe hulle daarna gesmag het. 

Jy sien ook hoe diep dit in mense resoneer. Die volgende Sabbat was die hele stad in die sinagoge. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, dit het die genade gedoen. Die wet het dit nie reggekry om mense meer toegewyd te kry nie. Die genade het. Dit is die boodskap van genade wat mense se harte transformeer.

Jy sien ook hoe wet en genade in die daaropvolgende gebeure nog meer teen mekaar afgespeel word. Die Jode se jaloesie en hoe hulle invloedryke mense opmaak teen die apostels.

Maar ek sien ook in die opmerking van vers 43, die aanmaning om nie van hierdie boodskap afvallig te word nie. Dit is baie maklik om weer wetties te raak. Ek het selfs al gesien dat jy wetties oor genade kan raak! Dit is ons harte se “default setting”. As ons nie pasop nie, word die saad – soos in die gelykenis van die saaier – uit ons harte opgepik. Om daardie rede moet mens aktief daarteen waak om nie die boodskap van genade te verloor nie.

Handelinge 11

Petrus het in gister se hoofstuk met “onrein” mense kontak gehad en selfs met hulle geëet! Hy het so gedoen omdat hy geglo het dat die Here vir hom sê om so te doen. Die uiteinde was dat hulle almal met die Heilige Gees vervul is.

Maar nie almal is ewe gelukkig hieroor nie. In vandag se hoofstuk sien ons Petrus word opgeroep om homself aan ‘n groep gelowiges te kom verduidelik.

Ek lees dit en dit is asof ek die stryd tussen Wet en Genade hier sien afspeel. As jy genade aan mense bewys, sal daar altyd ander mense wees wat voel dat jy “sag raak” op dit wat reg en verkeerd is. Baie gelowiges dink dat jy jou toewyding aan die Here bewys deur “wetties” te wees. Vandag se stuk wys eerder vir my dat jy jou toewyding aan Jesus wys deur genade en liefde aan ander mense te bewys.

Lukas 5

Mysterium tremendum et fascinans“. Dit was die slagspreuk van Rudolf Otto. Hiermee het hy iets probeer verwoord van die manier waarop die mens, God ervaar. Ons Godsbelewenisse is dikwels ‘n”mysterium” (misterieuse) ervaring van gelyktydige “tremendum” (angs) en “fascinans” (verwondering).

Otto se navorsing was gebaseer op hedendaagse voorbeelde. Maar die verskynsels in die Bybel volg dieselfde patroon. Neem bv Petrus se ervaring:

Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.” (LUKAS 5:8)

Na die visvangs beleef Petrus verwondering (oor Jesus se grootheid) en angs (oor sy eie kleinheid en sondigheid).

Die reaksie van die mense wat die genesing van die verlamde man gesien het, eggo Petrus s’n:

Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.” (LUKAS 5:26)

Die enigste mense in hoofstuk 5 wat nie “oop” was om Jesus te sien vir wie Hy is nie, was die Skrifgeleerdes en Fariseërs. Hulle wettiese juistheid het die indruk geskep dat hulle vír God is. Maar inderwaarheid was hulle nie bereid om ‘n God te leer ken wat buite hul boksie opereer nie.

(Dit is dan ook Jesus se punt in vers 36-39)

Mag my vooropgestelde idees van hóé God móét wees, my nie van die geleentheid ontneem om vars ontmoetings met Hom te beleef nie. Mag ek altyd “oop” wees om deur Jesus verras te word.