Tag Archives: Wederkoms

1 Tessalonisense 1

Vandag se gedeelte laat my nogal diep nadink oor wat die kern van ons geloof is. Dit is eintlik ‘n pragtige gedeelte.

Paulus skryf aan die gemeente van Tessalonika dat hulle ‘n reuse evangelisasierol in die gebied speel. Hy sê onder andere dat die mense tot so ‘n mate oor die gelowiges van Tessalonika praat, dat dit nie vir Paulus nodig is om iets verder oor die evangelie te sê nie…

“Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie.” (1 Tess 1:8)

Maar Paulus gaan dan voort om te noem wat presies die mense oor die Tessalonisensers se geloof te sê het…

“Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.” (1 Tess 1:9)

Dink mooi hieroor. Hierdie was die dinge wat ongelowiges opgeval het van die lewe van gelowiges. En verder was dit tot so ‘n mate voldoende, dat Paulus dit nie nodig geag het om daarop uit te brei nie.

Die kernelemente wat ek raaksien is:

  • Gesindheid van inklusiwiteit: Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het
  • Bekering weg van die sonde: en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het
  • Geloof dat die Here nie een van vele opsies is nie, maar die enigste: en nou die lewende en ware God dien
  • Geloof in die opgestane Christus: en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het,
  • Geloof in die wederkoms of die terugkeer van God: uit die hemel verwag, Jesus deur
  • Geloof in ‘n oordeel wat kom: wie ons gered word van die oordeel wat kom.”

Watter van hierdie kernelemente waarin die eerste Christene geglo en gedoen het, onderspeel jy in jou lewe?

Openbaring 10

Vandag se stuk stop my weer in my spore. Mens raak so gejaagd met alles wat dringend is, dat mens vergeet van die belangrike.

Die Engel wat in hierdie hoofstuk verskyn staan met die een voet op land en die ander op die see. Sy woorde is dus vir die hele kontinent bedoel, en nie net sommige mense nie. Hierdie Engel word gestuur om die finale oordeel aan te kondig. En hoe klink sy woorde? Dit lui: “Daar is geen tyd meer oor nie“. (Vers 6)

Dit tref my dat hóé noodsaaklik ons werk vir die onmiddelike ook al mag wees, daar is ‘n “ewige” is wat hierna kom wat selfs nog belangriker as die teenswoordige is. En daar kom ‘n besliste dag vir ons almal wat die tyd om vir hierdie dag voor te berei, verby is. Die sand in die uurglas het dan uitgeloop. Dan is dit te laat om veranderinge aan ons lewe te maak. 

Vir my persoonlik is dit belangrik om hierdie te hoor. Ek is geneig om weg te skram van ‘n “pie in the sky”-teologie. Ek wil hê dinge moet vir mense hier en nou verander. Daar was te veel mense wie se lewens op aarde hel was, en dan het ons met hulle net gepraat oor die hiernamaals. 

Maar die anderkant is ewe gevaarlik. Ek kan so opgeslurp raak in die hier en nou, dat mens vergeet van die ewige. Laat ons nie uitstel om ons lewe met die Here reg te kry nie. Waarom wag tot dit te laat is?