Tag Archives: Vertroue

Esra 7

“Esra het uit Babel gekom en was ’n geleerde man. Hy het baie goeie kennis gehad van die gebooie van Moses wat die Here, die God van Israel, vir hom gegee het. Die koning het alles wat hy wou hê vir hom gegee, want die hand van die Here sy God was op hom.” (Esra 7:6)

En so gebeur dit dat koning Artasasta alles vir Esra gee wat hy benodig om die volk weer op die been te bring. In vers 25-28 sien ons dat die koning vir Esra werklik vertrou het.

Hierdie vertroue het nie oornag gekom nie. Esra het die vertroue van die koning deur jare en jare se diens gewen. Dikwels moes Esra aan projekte gewerk het wat nie vir hom lekker was of hom besonder geïnteresseer het nie. Maar omdat hy ál sy werk so knap gedoen het, het die koning geweet hy kan Esra vertrou.

Dit sê vir my ook iets van hoe ons in óns werksplekke moet omgaan. Ons etiek skep of ondermyn die vertroue van ons base en kollegas. Mag die Here ons help om só onberispelik te leef, dat ons ook die vertoue van mense kan geniet.

Habakuk 3

Die boek Habakuk sluit af met ‘n absolute hoogtepunt van ongekwalifiseerde vertrouensuitspraak teenoor die Here…

Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe
aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee
in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.

Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié
van ’n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (Hab 3:17–19)

Habakuk dien nie die Here omdat hy iets daaruit kry nie. Hy dien die Here omdat die Here dit waardig is. Habakuk is nie ‘n “mooi-weers-gelowige” nie. Selfs al hou dit vir Habakuk niks in om die Here te bly glo en te vertrou nie, sal hy aanhou om dit te doen.

Rigters 7

Jy sal onthou dat Gideon met baie huiwering ingestem het om die Midianiete te gaan verslaan. Hy het eers ‘n reeks eksperimente gedoen (tekens gevra) met wol en dou, voordat daar genoeg geloof in sy hart gewek was om God te vertrou.

Noudat hy optrek, om die Midianiete met 32 000 man die slag te gaan aansê, is dit asof die Here sý terme en voorwaardes neerlê: dit moes op sy manier geskied. As Gideon die Midianiete met soveel mense by hom verslaan, sou hy dink dit is vanweë sy groot leër dat hy die oorwinning behaal. Daarom moet Gideon net 300 manskappe oorhou.

Die Here is besig om met Gideon te werk. Dít waarop Gideon vetrou, vat Hy weg. Soos ‘n ui wat lagie vir lagie geskil word, word daar van Gideon weggeneem dít wat onbruikbaar of in die pad is. Sy geloof word gelouter.

Ek vind ook sekuriteit in ‘n miljuisend en tien dingetjies anders as die Here: my werk, my posisie, my huwelik, my gesondheid…hoe sou ek lyk as al daardie dinge van my weggeneem word? Wat sou van my vertroue in die Here oorbly as ek niks van bogenoemde meer het nie? Daar is nou vir my ‘n gedagte om aan te kou.

Jesaja 18

Ons is steeds by die oordeel oor die nasies. Die mense van Etiopië het angstig by God se volk kom aanklop vir hulp teen die Assiriërs. Hul het gehoop om ‘n bondgenootskap te smee.

Dieselfde vrees wat die Etiopiërs gedryf het, kon natuurlik ook die gelowiges oorweldig om uit “beangsheid” ‘n besluit te maak. Maar dit wat mense beangs maak, maak nie God beangs nie. Die prentjie wat van God voorgehou word is een wat rustig en kalm as’t ware op die stoep sit en tuur oor die horison:

Jesaja 18:4 “So het die Here vir my gesê: Ek sal rustig uit my woonplek ondertoe kyk, ongestoord soos die hittegolwe op ‘n warm dag, soos ‘n miswolk in die somerhitte“.

Mag ek ook dit onthou. Die dinge waaroor ek bang is, veroorsaak vir my God geen paniek nie!

Jesaja 17

Jesaja 17 wys vir my hoe maklik dit is om “misplaaste” hoop te hê.

God se oordeel oor die nasies vervolg in vandag se stuk. Nou trek ons by Damaskus – hoewel die onderskeid tussen Damaskus en Israel moeilik herkenbaar is omdat hulle noue bondgenote was.

Damaskus se probleem is dat hulle hul hoop op alles behalwe God geplaas het. Daar word 3 voorbeelde opeen gestapel:

Hy sal nie meer sy hoop vestig op die altare, die werk van sy eie hande nie. Hy sal nie hulp verwag van die gewyde pale en die wierookaltare wat hy self gemaak het nie.” (vers 8)

Dit is alles religieuse dinge waarop Damaskus vertrou het. Welliswaar dinge wat hulle met hulle eie hande gebou het, maar dit was deel van die spirituele lewe. Geleidelik het hulle soeke na die geestelike, hulle op ‘n dwaalspoor laat beland.

Loop ek nie ook dieselfde gevaar om ‘n “god” vir myself te skep nie? Dit kan uit edel motiewe gebeur – maar dit bly ‘n afgod. Is ek nie ook soms besig om my vertroue – dalk op die Kerk of op geestelike leiers – te plaas, eerder as op God nie?

Eksodus 23 (Mrt 9)

Ons almal hou van vinnige oplossings. Daarom wens ons so dikwels dat die Here ons gebede gouer antwoord.

Dalk sou die volk ook graag wou hoor dat die Here die ander volke in ‘n japtrap voor hulle gaan uit verdryf. Maar die Here sê:”Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie” (vers 29). Dit lyk my die Here dink ook aan alles! Hy sien die groter prentjie. En om daardie rede bepaal Hy die tempo waarteen die inname/oorwinning moet plaasvind. Hy sê: “Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou uit verdryf totdat jou mense genoeg is om die land in besit te neem.” As die Here ‘n kits-inname bewerk het, het die volk net met ‘n ander probleem gesit.

As iemand wat obsessief daaroor is om in beheer te wees, kry ek moeilik reg wat ek nou gaan aanbeveel: Maar kom ons vertrou die Here dat Hy beter weet. Ons kan steeds net so passievol bid soos altyd. Maar kom ons los die uitkoms in die Here se hand. Hy sien die groter prentjie. Hy neem ander goed in ag wat ek en jy nie eers aan dink nie.

Gebed: Spreek vandag net weer jou vertroue teenoor die Here uit. Sê vir Hom dat jy weet dat jóú tyd nie sý tyd is nie. Maar dat jy nogtans jou vertroue op Hom plaas omdat jy glo dat Hy beter weet.