Tag Archives: Toewyding

Jeremia 32

Ons vertoef steeds by Jeremia se aankondigings van hoop, in die laaste gedeelte van die boek. Op die oomblik is die stad beleër deur die Babiloniese weermag. Koning Sedekia verkeer onder geweldig baie spanning. Wat meer is, is dat Jeremia tot nou toe net onheil aangekondig het. Dit is nie die boodskap wat Sedekia wou hoor nie. Daarom het hy Jeremia toegesluit.

Maar dit wil lyk of dit tot Sedekia begin deurdring dat Jeremia dalk die waarheid gepraat het. Want die koning kom vra weer vir hom, of daar nie dalk tog goeie nuus is nie. Waarom moet hy altyd onheil oor hom aankondig?

Jeremia noem dan ‘n rits dinge wat mens kan sien dat hy nie net pessimisties is nie. Hy glo regtig dat die Here ook ‘n einde gaan maak aan die volk se swaarkry. Maar nog nie nou al nie.

Een van die dinge wat hy opnoem, is dat daar ‘n tyd sal kom wat die Here ‘n nuwe verbond met hulle sal sluit. Alles wat hulle onder die vorige ou verbond gekort het, sal onder die nuwe verbond aan hulle bemaak word – insluitende toewyding aan die Here.

“Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verjaag het in my gloeiende toorn en in my groot woede. Ek sal hulle hierheen terugbring en hulle sal hier rustig kom woon. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees. Ek sal hulle ’n onverdeelde hart en ’n vaste koers gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle. Ek sal ’n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie. Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in my trou; met alles wat Ek is, sal Ek hulle weer in dié land vestig.” (Jer 32:37-41)

Op ‘n besonderse manier het dit natuurlik gebeur in die persoon van Jesus Christus. Jesus het nie net namens ons gesterf nie, maar ook namens ons kom leef. Die toewyding en gehoorsaamheid waarmee Hy geleef het, is ook vir ons beskore deur die werking van die Heilige Gees.

Ons toewyding aan die Here, is met ander woorde nie ‘n werk uit ons eie nie. Dit is iets wat God ons gee – woordeliks wat Jeremia profeteer.

1 Kronieke 5

“Maar hierdie stamme was ontrou aan die God van hulle voorvaders en het oorgeloop na die gode van die landsbevolking wat ter wille van hulle deur God uitgeroei is. Daarom het die God van Israel vir koning Pul van Assirië, dit is Tiglat-Pileser, aangehits, en dié het hulle as krygsgevangenes weggevoer” 1Kron 5:25-26

Ons lees in vandag se hoofstuk van hoe die stam Ruben, Gad en Manasse Oos van die Jordaan geleef het. Ons lees van een oorlog na die ander, ter wille van oorlewing. Die Here help hulle deur elkeen en beskerm hulle. Hy is die behouer van hulle lewe.

En dan aan die einde van die hoofstuk lees ons dat hulle, ten spyte van alles, gaan staan en oorloop het na ander afgode!?

Dit is nie juis lekker om te lees van al die moord en doodslag nie. Mens sou met reg kon vra “Wat maak ons vandag met al die bloedvergieting in die Bybel?”.

Maar vir nou is dit eintlik belangrik om te sien dat hier ‘n storie agter ‘n storie afspeel. Ons lees indirek van God se volgehoue getrouheid (Hy help hulle deurgaans), en dan sien ons sy dienaars se ontrouheid. God se betroubaarheid en die mens se onbetroubaarheid word dus op ‘n baie prominente manier teenoor mekaar gestel.

Wanneer God uiteindelik sy hand terugtrek, neem die Assiriese koning hulle oor. In die proses verloor hulle hul bestaansreg en identiteit.

Ons is maar net soos die volk. Ons gehoorsaamheid laat veel te wense oor. Eintlik verdien ons ook om ons bestaansreg en identiteit te verloor.

Maar God het in ons tyd iets nuuts gedoen! Hy het sy Seun vir ons gestuur. Sy seun sou nie net namens ons sterf vir ons foute nie, maar ook namens ons lewe. Vandag vind ons ons bestaansreg en identiteit in Jesus! Hy het dit alles namens ons verdien.

Ons is swak, maar Hy is sterk. Maar omdat daar ‘n band tussen ons en Jesus bestaan, maak Hy ons deel van sy sirkel. Hy laat toe dat ons in sy oorwinning deel. Ons pluk die vrugte van dit wat Jesus vir ons bereik het.

Anders as die stamme van Ruben, Gad en Manasse, kan ons God die Vader se volgehoue guns en beskerming geniet, níe omdat ons so toegewyd leef nie, maar omdat Jesus gehoorsaam was tot in die dood.

Esra 10

Vandag se hoofstuk is vir my ‘n pragtige voorbeeld van hoe die mens se toewyding in die korttermyn lyk, teenoor ons onvermoë om God se wet op die langtermyn te onderhou. In ‘n neutedop, vandag se hoofstuk in die Ou Testament toon die dilemma van die mens uit, die noodsaaklikheid vir die koms van die evangelie, en ons behoefte aan genade.

Laat ek verduidelik…

Ons het mos nou alreeds in hoofstuk 7 vir Esra leer ken as iemand wat baie toegewyd was en wat die wet nougeset wou toepas. Ons het gelees: “Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer” (Esra 7:10)

Sy toewyding en begeerte om rég te doen is opsigself baie goed. Die probleem kom in wanneer ons dink ons kan God se wet volkome onderhou.

Dit is ook die dilemma waarvoor Esra te staan gekom het. In die korttermyn het sy begeerte om die wet toe te pas, gelyk na iets wat God sou behaag. Maar teen hoofstuk 10 word hy gekonfronteer met ‘n probleem wat hy nie meer kan hanteer nie, naamlik die ondertrouery van die volk met heidense nasies. Omdat die Wet hierdie ondertrouery verbied, besluit hy om die mense te beveel om van hierdie vrouens te skei en die vrouens en hulle kinders weg te stuur: “Al dié mense was met vreemde vrouens getroud, maar hulle het van die vrouens geskei en hulle kinders saam weggestuur.” (Esra 10:44). Die probleem is net dat die Wet ook egskeiding verbied.

So, in ‘n poging om een deel van die wet te onderhou moet hulle ‘n ander deel onderbreek. Maar as hy een deel van die Wet breek, is dit so goed asof jy die hele Wet breek. Dit is dus ‘n onhoudbare situasie en ‘n onmoontlike taak om aan God se standaard te voldoen…

God se Wet is nooit vir ons gegee om te dien soos trappies wat tot by Hom lei nie. God se Wet is eerder gegee om te dien soos ‘n afgrond waarteen ons onsself te pletter val. Romeine 5:20 stel dit duidelik: “God se wet is gegee sodat alle mense kon sien hoe groot en baie hulle oortredings is.” (Rom 5:20).

God se Wet is met ander woorde gegee om ons aan die einde van onsself te bring. Dit moet ons nie na ‘n plek van geestelike selfvoldaanheid lei nie, maar na geestelike gebrokenheid – ‘n diepe besef dat ek nie uit my eie dit kan regkry om God te behaag nie.

Dit is onmoontlik om God se Wet ten volle uit te voer. Sodra ons onsself ten doel stel om dit te doen (hoe prysenswaardig die begeerte ook mag wees), word ons gekonfronteer met ons eie onvermoë om presies uiting te gee aan God se standaard. Ons het ‘n Verlosser nodig om dit te doen!

Ons – en Esra – het genade nodig. Óns, het dit in Jesus ontvang!

Rigters 10

Daar is iets wat my tot nou toe in die boek Rigters gepla het, wat ek nie heeltemal my vinger op kon plaas nie. Vanoggend weet ek wat dit is…

Die normale patroon wat ons in die Bybel raaklees, verloop as volg: Sonde 》Verlossing 》Dankbaarheid.

In Rigters voel dit vir my ontbreek dankbaarheid nog die hele tyd. Die patroon wat ons hier teëkom is: Sonde 》Verlossing 》Sonde 》Verlossing ens. Dit is asof ons nog die heeltyd diepgaande berou mis, met die gevolg dat ware dankbaarheid ook afwesig is.

Op ‘n baie klein vlak sien ons vandag vir die eerste keer ‘n teken van berou: “Maar die Israeliete het die Here geantwoord: “Ons het gesondig! Doen U met ons wat goed is in u oë, maar red ons tog net vandag!” Hulle het toe die ander gode tussen hulle uit verwyder en hulle het die Here gedien, en Hy het ‘n end gemaak aan hulle swaarkry.” (Rigters 10:15-16)

Moet egter nie te vinnig opgewonde raak nie. Hulle verwydering van die afgodsbeelde is minder van ware bekering en meer oor wat hulle by die Here in die proses kan kry – naamlik oorwinning van die veldslag.

Hulle verhouding met die Here kan op die heel beste beskryf word as “transaksioneel”. Hulle dien Hom nie omdat Hy is wie Hy is nie, maar oor wat hulle uit dit kan kry. Dit is ‘n prentjie van ‘n infantiele verhouding met God.

En myne? Lyk my verhouding met die Here anders? Dien ék Hom omdat Hy is Wie Hy is? Of dien ek Hom omdat ek hoop om in die proses gesondheid, beskerming en voorspoed te kry? Kom ons bid dat die Here volwassenheid in ons verhouding met Hom sal gee.

Rigters 8

Die outeur van die boek Rigters kry dit meesterlik reg om ‘n groot verwagting by ons te skep, net sodat hy ons kan teleurstel. Gideon word aan ons geskets as ‘n menslike leier wat meer en meer potensiaal toon. Hy het pas ‘n reuse oorwinning behaal deur sy gehoorsaamheid aan die Here. Kan Gideon die perfekte leier wees wat Israel so dringend nodig het?

Dit wil so lyk! Hy is immers nie net ‘n goeie soldaat nie, maar ook ‘n getroue navolger van die Here. Toe die mense hom vra om hulle te lei na afloop van sy oorwinning, antwoord hy: ‘Maar hy sê vir hulle: “Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die Here regeer oor julle.” (Rigt 8:23)

Sjoe! ‘n Meer edel antwoord kry mens nie!

Maar in sy volgende sin – sy direk daaroovolgende sin – gaan hy voort om te sê: ‘Gideon het verder vir hulle gesê: “Ek wil julle egter een ding vra: elkeen van julle moet vir my ‘n oorring gee uit die buit wat julle by die Midianiete afgevat het; hulle dra mos goue oorringe.”‘ (Rigt 8:24)

Ja, ons ergste vrese word bewaarheid…“Gideon het ‘n Efodbeeld van goud gemaak en in sy stad Ofra gesit. Die hele Israel het daarheen gekom en op díe wyse ontrou geword aan die Here. Die beeld was vir Gideon en sy mense ‘n valstrik” (Rigters 8:27)

Vandag se gedeelte wys vir ons op die kortstondigheid en wisselvalligheid van ons as mense se toewyding. Gideon val van “hero” na “zero” in minder as 1 sekonde! Die een oomblik is hy die held wat die hele volk red. Die volgende oomblik is hy verantwoordelik vir die hele volk se afvalligheid.

Hierdie leier wat soveel potensiaal getoon het, is toe maar ook net soos al die ander. Maar Gideon is ‘n prentjie van my en jou. Ook ek en jy is wisselvallig in ons toewyding.

Ek word vandag herinner aan Paulus se woorde: “Wie meen dat hy staan, moet pasop dat hy nie val nie”. Of soos die ou gebed lui: “Lord, guard me against myself, my hollowest friend, my deadliest foe…”

Vandag bid ek dat die Here my daarvan sal beskerm dat ek nie my vertroue in aardse leiers sal stel nie. Maar ek bid eerstens dat Hy my teen myself sal beskerm. Mag Hy my diepte, standvastigheid en getrouheid gee.

Rigters 3

In vandag se hoofstuk van Rigters 3 val dit my op dat die volk onmiddelik weer in ontrouheid verval, sodra ‘n leier doodgaan. Beide Otniël en Ehud het tekortkominge as leiers gehad, maar ten minste het hulle leierskap die volk getrou aan die Here gehou. In beide gevalle het die volk egter afvallig geword die oomblik toe die leier tot sterwe gekom het.

Mens kan nie help om te wonder hoe diep die volk se toewyding dan regtig gelê het nie. Was hulle ooit werklik lief vir die Here of was hulle verbintenis aan Hom maar net ‘n eksternalisering van godsdiens?

Net omdat jou kind toe mond kou wanneer jy in die vertrek is, beteken dit nie dat jou kind goeie maniere het nie. Goeie maniere is eers vasgelê – deel van jou kind se mondering – as hy/sy toe mond kou as die ouer níe naby is nie.

Op ‘n soortgelyke wyse was die volk se toewyding oppervlakkig – byna kondisioneel. Net solank die leier daar is om ‘n ogie te hou, bly hulle aan die Here “getrou”. Dit is gedeeltes soos hierdie, wat profesieë soos Esegiël 11 en Esegiël 36 waar daar gepraat word van ‘n “nuwe hart” wat die volk sal ontvang, so betekenisvol maak. Hierdie “nuwe hart” het die eksterne vertoon van godsdiens met ‘n interne gesindheidsverandering verplaas.

Dit bring ons vanoggend by die vraag hoe ons toewyding lyk? Doen ek steeds wat rég is, as niemand daar is om my te sien nie? Het my verhouding met die Here al dieper gevorder as net vel-oppervlak?

Numeri 21

Vanoggend tref die volk se wisselvalligheid in hulle toewyding my opnuut.

In Numeri 21 lees ons hoe die Israeliete die streek “Gorma” oorwin. Dit word net in ‘n sin of twee bespreek, en dit is maklik om te mis dat dit dieselfde plek is waarvan ons in Numeri 14:41 gelees het – toe die volk verslaan is omdat hulle sonder God wou gaan veg. Hierdie keer doen hulle ding reg en maak hulle ‘n gelofte aan die Here.

Kan dit wees dat die volk besig is om te groei in hulle toewyding? Is hierdie nie ‘n goeie teken dat hulle ‘n belangrike les geleer het nie?

Miskien tog – maar moet nie te vinnig opgewonde raak nie. Vanaf vers 4 lees ons weer hoe die volk opstandig raak teen die Here, en hoe hulle Hom en Moses van vooraf weer begin verwyt.

Israel se storie van toewyding,  loop op en af, heen en weer. Dit is op sy beste uiterste wisselvallig. Net as dinge goed lyk, val hulle weer. 

Hulle toewyding, is eintlik maar net ‘n prentjie van my en jou toewyding. Dit help nie ons word “lam” van irritasie met die volk se toewyding nie – ons s’n lyk niks beter nie.

In kontras daarmee, staan Jesus. Sy toewyding aan ons taan nooit nie. Sy liefde vir ons het Hom getrou aan ons gehou tot die dood in die kruis – en selfs daarna. 

So in plaas daarvan om vandag nuwe voornemens oor jou toewyding te maak – net om later weer te misluk – kom ons verlustig ons in Jesus en kom ons verheug oor sý onfeilbaarheid.

Numeri 8

Dit klink dalk vir ons vreemd al die rites waardeur mense moes gaan alvorens hulle geskik was om in diens van die Here te staan. Maar mens moet onthou dat elke aksie ‘n simboliese betekenis gehad het. Al die fisiese handelinge het geestelike boodskappe oorgedra.

Die Leviete het in die tabernakel die volk van God uitgebeeld. Hulle was soos dienswerkers wat in en om die tent van ontmoeting die priesters bygestaan het in verantwoordelikhede, en gehelp het in los werkies. Hulle het die volk verteenwoordig in die heilige drama wat elke dag agter die mure van die tent van ontmoeting afgespeel het.

Omdat hulle die volk uitgebeeld het, moes hulle ook iets van die toewyding uitbeeld wat die Here by sy volk gesoek het. Vandaar die besondere klem op reinheid deur klere te was ens.

Dit bly dus ook vir ons vandag ‘n “prentjie” van toewyding. Vir ons is toewyding vandag ‘n hartsgesindheid. Maar ons sou met reg kon vra of daar nie ook plek is dat ons toewyding met fisiese gebare uitgeleef word nie? Natuurlik is daar altyd die gevaar dat toewyding wat ekstern is sonder ‘n interne hartsgesindheid,  uitloop op skeinheiligheid. Maar is toewyding aan die Here wat ‘n interne hartsgesindheid het, sonder dat mense ooit iets daarvan ekstern sien, nie dalk ewe skeinheilig nie?

Numeri 7

Ons is vandag terug in Numeri. Die hoofstuk vertel vir ons hoe die volk die tabernakel – en veral die altaar – gewy het.

Die hoofstuk bevat ‘n breedvoerige uiteensetting van hoe die volk oor ‘n tydperk van 12 dae die altaar gewy het. Elkeen van die stamme het kans gekry om hulle offers te bring.

Dit word vir ons uiteindelik ‘n prentjie van hoe heelhartig die volk die tabernakel aanvaar het – maar ook hoe toegewyd hul was in hul inwyding daarvan. Ons sien ook dat hul toewyding in konkrete terme uitgedruk word. Hulle offers was sigbaar en tasbaar.

Ek sê maklik “ek is lief vir die Here”. Ek praat maklik van ‘n “commitment vir Jesus” of om “toegewyd” te leef. Hierdie goed is baie meer as net ‘n hartsgerigtheid. Dit moet ook in my lewe op ‘n konkrete manier gestalte kry.

Dalk spel mens vandag toewyding nie meer “o-f-f-e-r-s” nie, maar “o-m-g-e-e”. Dalk spel jy deesdae liefde as “m-o-e-í-t-e”.

Van die os op die jas, die teks bevat ook ‘n interessante opmerking oor God se stem. Moses het God se stem op ‘n hoorbare manier van die verbondsark gehoor kom! (Vers 89)

Eseg 20 (Mei 26)

Sjoe, Esegiel 20 laat my diep dink.

Aanvanklik wonder mens hoekom die Here nie wil toelaat dat die mense Hom raadpleeg nie. Maar soos wat die hoofstuk vorder, kom jy agter dat die mense nie regtig van harte die Here wil raadpleeg nie. In hulle hart wil eintlik maar soos die ander nasies wees wat “hout en klip dien” (vers 32).

So, die volk het een ding met hulle mond gesê en iets anders met hulle hart bedoel.

Ek wonder of ek nie ook dit baie doen nie? Ek sê ek wil Jesus volg en ‘n dissipel van Hom wees. Maar tog wens ek ook heimlik dat ek gewild en suksesvol in die oë van die wêreld sal wees. Dit lyk my die Here soek mense wat Hom met hul hele hart wil dien.

Here, help my om U met my hele hart te dien.