Tag Archives: Teenwoordigheid van die Here

1 Sam 6 (29 Julie)

Miskien is die hoofding wat my in vandag se stuk opval, dat die ark – sonder enige hulp van die Israeliete se kant – teruggekeer het. Die Filistyne het 2 koeie ingespan en hulle met die ark weggestuur. Die mense van Bet-Semes was nog besig om in die lande te werk, toe hulle opkyk en die ark sien wat op die wa aangery kom.

Die ark is die vergestalting van die Here se teenwoordigheid. En dit was nie nodig vir die mense om te gaan oorlog maak om dit terug te wen nie. Inteendeel, dit was juis vanwee die inmenging van mense en hul selfsugtige ambisies wat die ark in die eerste plek verlore laat raak het. Maar die Here het nie mense nodig om sy teenwoordigheid te laat manifesteer nie. Die betekenis van die stuk is dat die Here outonoom is: Geen Filistyn of Israeliet het oor Hom beheer nie.

Meng my persoonlike agendas nie partykeer ook in, in die teenwoordigheid van die Here in my lewe nie? Veroorsaak my selfsugtige ambisies nie juis dat ek Hom “wegdryf” nie? Besef ek genoeg dat geen inspanning van my kant, die Here kan manipuleer om “meer” in my lewe betrokke te wees nie? Die feit dat Hy nou by my is, is suiwer genade.

Dan 3 (22 Jul)

Ons lees vandag die gedeelte waar Daniël se drie vriende in die brandende oond ingegooi word. Die volgende sin is vir my so treffend: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie” (vers 17-18).

Ek dink terug aan my kollega Gerrie se woorde oor ‘n tyd in sy lewe toe sy vrou met kanker gediagnoseer is. Hy sê hy het geweet dat omdat Jesus “Immanuel” oftewel “God-met-ons” is, kan ‘n wonderwerk op enige oomblik plaasvind. Maar aan die ander kant omdat Jesus “Immanuel” of “God-met-ons” is, hoef ‘n wonderwerk nie noodwendig plaas te vind nie, want ek is veilig in sy teenwoordigheid.

Met nog groter selfvertroue as Daniël se 3 vriende kan ons vir ons krisisse sê: “Selfs as die Here nie uitkoms gee nie, buig ek nie die knie voor enige ander God nie“.

Eseg 11 (28 April)

Mens kan nie die grootsheid van vers 16 genoeg benadruk nie.

Die tempel was die uitdrukking van God se teenwoordigheid. Maar as jou tempel verwoes word en jy in ballingskap weggevoer word, dan kan dit nie veel slegter met jou gaan nie. Die volk het geglo dat hulle verwyderd van God is. Buite die bereik van sy teenwoordigheid, sorg en beskerming.

En dan kom God se woord deur Esegiël: “Ek het hulle ver weg gevat na ander nasies toe en hulle oor ander lande verstrooi, maar in dié tyd het Ek self vir hulle ’n heiligdom gebly in die lande waarheen hulle is.” (Eseg 11:16)

Miskien is ons al so gewoond aan die teenwoordigheid van die Here dat ons nie meer die grootsheid van hierdie vers hoor nie. Die volk hoor dat ten spyte daarvan dat hulle nie in die beloofde land is nie en nie meer by die tempel kan uitkom nie, God nogsteeds by hulle teenwoordig is!

Dit moes ‘n wonderlike vertroosting wees. Daardie verstroosting het ons ook – en kom ons dink veral daaraan in hierdie tyd van die jaar wat ons die uitstorting van die Heilige Gees herdenk.

Josua 1 (20 April)

Hmmm…Josua bly een van my gunsteling karakters. Daar is so baie te put uit hierdie gedeelte. Vandag tref dit my net dat die bemoedigingswoorde: “Wees sterk, wees vasberade” ‘n opdrag is wat gehoorsaam moes word.

In die eng sin van die woord is dit nie ‘n belofte dat die Here vir Josua sterk en vasberade maak nie. Die Here belowe dat Hy by Josua sal wees. Maar Josua moet egter die besluit maak om sterk en vasberade te wees.

Te veel keer wag ek vir ‘n gevoel van dapperheid om oor my te kom voor ek “sterk en vasberade” kan optree. Dit word my fokus. Terwyl wat eintlik van my verwag word is om met geloof te reageer op die belofte dat die Here by my is. Daaruit vloei die “sterkte en vasberadenheid”.

Kom ons neem ‘n oomblik en fokus daarop dat die Here ook in hierdie oomblik by ons is.

Eksodus 33 (11 April)

In hierdie hoofstuk 33 van Eksodus is daar so baie pitkos om mee te werk. Het jy gesien dat Moses die tent van ontmoeting nie in die middel nie maar “ver buite” die kamp gaan opslaan het na die goue kalf episode? Dit dui natuurlik daarop dat die Here heilig is en nie met sonde kan heel nie.

Het jy gesien wat Josua gedoen het nadat Moses uit die tent van ontmoeting gegaan het? (ver 12). Die outeur begin Josua vir ons skets as een van Moses se handlangers. Iemand in wie se lewe Moses as mentor optree. Op die regte tyd sou Moses uittree en sou Josua ryp wees om die leier te wees. Deur hierdie klein opmerkings nou al oor Josua te noem, berei die outeur die leser voor om ontvanklik te wees vir die nuwe leier wanneer hy wel op die toneel kom. En Josua is werklik ‘n voorbeeld. Hy verlaat nie die tent van ontmoeting nie. Lank nadat Moses uit is, bly Josua nog agter omdat hy smag na die teenwoordigheid van die Here.

Wat sou gebeur as ek my eie lewe met die van Josua sou vergelyk? Het ek dieselfde begeerte om die teenwoordigheid van die Here te beleef?

Gebed: Kom ons praat vandag met die Here oor die feit dat ons harte na Hom smag.