Tag Archives: Straf

Jeremia 34

Hier is nou vir jou ‘n baie treffende gedeelte in vandag se hoofstuk op die tema van God se straf.

Net gou die konteks: Soos ons gesê het word die stad beleër deur die Babiloniërs. In hierdie tyd kondig koning Sedekia aan dat die volk hulle Hebreeuse slawe moet vrylaat.

Daar is verskeie moontlikhede hiervoor. Miskien was dit ‘n strategiese skuif, sodat as die Babiloniërs die stad binneval, dat hulle nie die mense van hoër status – die voormalige slawe-eienaars – slegter behandel as die res van die volk nie.

Of miskien het die volk gehoop dat hulle die Here van plan kon laat verander en die dreigende inval van die Babeloniërs kon afweer, as hulle hul slawe laat gaan. Dit is immers iets wat God se wet bepaal het (Eks 21:2-6).

Wat die rede ook al was, dit was van korte duur. Kort nadat hulle die slawe vrygelaat het, het hulle weer die mense gaan aankeer en van hulle slawe gemaak. Miskien is dit – toe die beleg van Jerusalem nie dadelik na die vrylating van die slawe ophou nie – dat hulle begin spyt kry het oor hulle “daad van bekering”.

Ons lees egter ook in hoofstuk 37:5-10, dat ‘n gerug die volk bereik het dat Egipte hulle gaan kom help. Miskien het hulle begin dink dat die beleg gou iets van die verlede gaan wees, en dat hulle nie dan sonder slawe wil sit nie.

Wat hulle oorweging ook al was vir hierdie vinnige terugkeer na hulle sonde maak nie regtig saak nie. Wat saak maak is dat die Here dit nie goedgekeur het nie. Dit was die finale strooi.

Die Here gaan nou voort en kondig die inval van Jerusalem by monde van Jeremia aan. Wat egter treffend van hierdie aankondiging van straf is, is dat die Here se straf nie ‘n aktiewe proses is nie. Dit is nie Hý wat aktief hulle straf nie. Dit is meer passief, in die sin dat Hy hulle nie meer gaan beskerm nie. Die Here sê:

“Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik.” (Jer 34:17)

Hy laat hulle onder sy sorg vry. Hulle beweeg uit onder die sambreel van sy beskerming. Dit is hoe dit vandag nog gebeur. Ons sonde het gevolge. Ons sonde stel ons bloot aan seerkry. Dit is nie die Here wat “aktief” ons kasty nie. Dit is onsself wat onder sy beskerming uitbeweeg het.

Die groter vraag is seker hoe lyk ons bekering? Is ons bekering net so opppervlakkig soos die volk s’n? Toe hulle nie met hulle bekering vermag wat hulle wou nie, toe verander hulle van plan. Hulle bekering was met ander woorde nie vanweë waarlike berou oor sonde nie. Dit was net ‘n manier om iets af te wend of te kry wat hulle wou.

Word my bekering geken aan ware berou oor sonde?

1 Konings 18

Sjoe, vandag se stuk laat ‘n mens se tone krul van lekkerkry. Die kragtige manier waarop die Here die Baälprofete verneder het, het geen twyfel in mense se gemoed gelos of die Here ernstig geneem moet word nie.

Partykeer wens mens dat die Here vandag weer so klinkklaar sal afreken met almal wat Hom bespot. Oms wil dan ook soos Elia vuur vanuit die hemel uit afroep.

Maar dan word ons herinner aan die geleentheid toe Jesus se dissipels vuur uit die hemel op die Samaritane wou afroep. Jesus het egter nie met dit akkoord gegaan nie. Ky net wat het gebeur:

Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ’n ander dorp vertrek. (Luk 9:55-56)

Sou ons kon sê dat die manier waarop God sy grootheid in Ou Testament aan mense bewys, verskil van die manier waarop Hy dit in die Nuwe Testament doen? In die Ou Testament was dit met kragdadige wonders. Maar in die Nuwe Testament bewys die Here sy grootheid deur sy liefde. 

As ons dus vir die wêreld wil wys dat ons God “eg” is (soos Elia gedoen het), dan moet ons nie vuur afroep soos die dissipels nie, maar die Here se liefde aan mense openbaar.

Jesaja 15 & 16

Wat my vandag tref is die geskeurdheid waarmee God die oordeel voltrek.

Die aankondiging van straf beweeg nou na Moab. Moab wat ook Israel se vyande. Dalk sou jy verwag dat die Bybel God beskryf asof Hy Hom daarin verlekker terwyl Hy hierdie heidense volk straf.

Maar ons sien presies die teenoorgestelde:

  • My hart brand oor Moab. Sy mense het gevlug tot by Soar (vers 5)
  • Ek huil saam met Jaser oor die wingerde van Sibma, my trane vloei oor julle, Gesbon en Elale… (Vers 9)
  • Dit kerm in My oor Moab, dit kerm soos ’n lier, my binneste kerm oor Kir-Geres (Vers 11)

Is die beeld van God wat ek in my gedagtes het, een van ‘n bloeddorstige, wraaklustige God? Want die Here is dit beslis nie.

Hierdie hoofstuk wys vir ons hoe God se liefde en sy regverdigheid Hom verskeurd laat. Hy moet straf – maar Hy wil nie. Op die kruis van Golgota sien ons hoe daar ‘n ewige oplossing kom vir die vereiste wat God se heiligheid stel, en sy begeerte om genadig te wees.

Esegiël 7 (18Mrt)

Hierdie is ‘n dramatiese hoofstuk wat die rede vir die ballingskap uitspel. Neem byvoorbeeld:
▪ Vers 10 “Soos mag toegeneem het, het eiegeregtigheid toegeneem”. Dit laat my dink aan die gesegde “Power corrupts. Absolute power corrupts absolutely”. Misbruik ek soms die mag tot my beskikking?
▪ Vers 19-20 Dit wat hulle nagejaag het en as waardevol in die lewe beskou het, het juis hulle ondergang beteken. Watter koers slaan my lewe in? Is daar ambisies of begeertes in my lewe wat dreig om afgode te word en wat my van God se wil kan weglei?

Vandag se gedeelte beklemtoon God se straf en die hooplose situasie wat daaruit vloei. Vers 26 meld byvoorbeeld dat wanneer God sy rug op die volk gekeer het, kan hulle nêrens meer leiding/raad ontvang van waar hulle in die verlede dit gekry het nie. Onthou dat die straf nie “redelose woede” is nie. Die Here draai sy rug op die volk omdat hulle hul rug op Hom gedraai het. Ek kan ook nie verwag dat God soos ‘n hondjie agter my sal aanloop terwyl ek maak en breek soos ek luskry nie. Ek is afhanklik van Hóm, nie Hy van my nie. Sê dit sommer vir die Here.

Die aankondiging van straf benadruk die erns van sonde. Dit moes verskriklike nuus vir die volk gewees het. Vandag dank ek opnuut die Here dat my straf volledig in Jesus gedra is.

Esegiël 5 (16 Maart)

Ek vra verskoning dat vandag se refleksievraag nou eers by jou uitkom. Ek is verkoue en was lekker pap vandag!

As ek myself afvra wat het die volk gedoen om die Here so te ontstel dat Hy gedryf word om hulle op hierdie verskriklike manier te straf, dan sien ek gee die Here 2 redes:

  • 5:6 Daar was sosiale onreg.
  • 5:11 Hulle het afgode aanbid.

Die Here het nie verander nie. Dieselfde dinge wat Hom destyds gebelg het, belg Hom vandag nog. Daarom kan ons onsself gerus afvra hoe lyk ons gewete met betrekking tot ons sosiale geregtigheid en die afgode in ons lewe. Bid gerus daaroor en praat met die Here daaroor.

Terloops, dit is vir my interessant dat in Esegiël se simboliese optrede, hy die een is wat die straf uitvoer – en ook die een is wat gestraf word. Dit is natuurlik ook so met die Here. Hy was die een wat gestraf het, maar deurdat sy volk verneder is, het ook sy naam daaronder gely. My goeie en slegte optrede, raak altyd die eer van die Here op ‘n positiewe of negatiewe manier.