Tag Archives: Stem van die Here

Jesaja 50

“Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie. Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.” (Jes 50:4-6)

Die eerste persoonsvertelling wat hier aan die praat is, verteenwoordig die stem van die deel van die volk wat in die ballingskapstyd getrou gebly het aan die Here. In moeilike tye luister hulle steeds na sy stem en doen hulle die regte ding.

Jy sou verwag dat dit lafenis sou bring vir die mense rondom hulle, en dat hulle daarom gewaardeer word. Maar die teendeel gebeur. Hulle regte optrede word begroet met lyding en vervolging. Tog kry mens nie die idee dat dit die getroue dienaars afskrik nie. Lewe, vir húlle, is om die wil van die Here te doen.

Mag die Here ook in my lewe die dapperheid gee om die régte ding in moeilike tye aanhou te bly doen.

1 Konings 19

‘n Mens se hart gaan regtig uit na Elia as jy hierdie gedeelte lees.

Waar hy in die vorige hoofstuk ‘n reuse oorwinning oor die profete van Baäl behaal het, bevind hy hom in hierdie hoofstuk onder die besembos. Hy is bang vir Isebel en mens kry nogal die indruk dat Elia moeg is. Hy is geestelik gedreineer.

Dit is opvallend om te sien dat hy twee keer by die Here protesteer:

Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” (vers 10 en vers 14)

Die Here was nie onsimpatiek teenoor Elia nie. Die Here hoor hom, want die Here verkwik hom met kos, skuilplek en ‘n vars teofanie (Godsverskyning). Toe Elia egter daarna nóg protesteer, antwoord die Here deur te sê:

“Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe…” en toe kom Elia se nuwe opdrag.

Wat leer ek uit hierdie gedeelte oor geestelike leierskap? Wel, eerstens dat uitbranding ‘n realiteit is. Tweedens dat die Here nie onsimpatiek teenoor dit staan nie. Maar derdens sien ek ook dat die beste manier om weer op die been te kom, is om weer jou opdrag gehoorsaam uit te voer.

Glo my, ek was al daar. Dit is goed om ‘n blaaskans te vat soos Elia onder die besembos. Maar dit is ‘n ander storie om in die woestyn aan te bly. Hoe langer jy “in die woestyn” agterbly, hoe moeiliker raak dit om weer terug te keer.

Numeri 9

Daar word in hierdie hoofstuk ‘n woordprentjie aan ons geskilder van ‘n volk wat nie ‘n voet versit het as die Here nie so beveel het nie.

Of hulle verder getrek het en of hulle bly kamp het, het alles van die wolk afgehang wat God op die tabernakel laat neerdaal het. As die wolk begin beweeg het, het hulle kamp opgeslaan. As dit gaan staan het, het hulle uitgespan.

Dit moes wonderlik gewees het om op so ‘n klinkklare manier God se leiding te ervaar. Ek vra myself af op watter manier God vandag my lei? Definitief nie deur ‘n wolk nie. Maar wel deur sy Woord, deur medegelowiges, deur vrede/onrustigheid ens.

Die vraag is seker of ek ewe gehoorsaam reageer op sy leiding? Sien ek sy leiding raak – en as dit sien, gee ek gehoor of steur ek my nie daaraan nie?

Mag ek ‘n lewe kweek wat spreek van sensitiwiteit vir God se Gees – en gehoorsaamheid aan sy leiding.

Numeri 7

Ons is vandag terug in Numeri. Die hoofstuk vertel vir ons hoe die volk die tabernakel – en veral die altaar – gewy het.

Die hoofstuk bevat ‘n breedvoerige uiteensetting van hoe die volk oor ‘n tydperk van 12 dae die altaar gewy het. Elkeen van die stamme het kans gekry om hulle offers te bring.

Dit word vir ons uiteindelik ‘n prentjie van hoe heelhartig die volk die tabernakel aanvaar het – maar ook hoe toegewyd hul was in hul inwyding daarvan. Ons sien ook dat hul toewyding in konkrete terme uitgedruk word. Hulle offers was sigbaar en tasbaar.

Ek sê maklik “ek is lief vir die Here”. Ek praat maklik van ‘n “commitment vir Jesus” of om “toegewyd” te leef. Hierdie goed is baie meer as net ‘n hartsgerigtheid. Dit moet ook in my lewe op ‘n konkrete manier gestalte kry.

Dalk spel mens vandag toewyding nie meer “o-f-f-e-r-s” nie, maar “o-m-g-e-e”. Dalk spel jy deesdae liefde as “m-o-e-í-t-e”.

Van die os op die jas, die teks bevat ook ‘n interessante opmerking oor God se stem. Moses het God se stem op ‘n hoorbare manier van die verbondsark gehoor kom! (Vers 89)

1 Konings 13

Sjoe, vandag lees ons weer ‘n teks wat nogal moeilik sit in jou gemoed. Wat met die jong profeet gebeur voel so onregverdig…

Sien, hy moes na koning Jerobeam toe gaan om God se misnoë aan te kondig oor die afgode wat aanbid word. Oppad terug na Juda, kom daar ‘n ou profeet van die gebied en nooi hom om eers by hom te kom eet. Die jong profeet wys die uitnodiging van die hand en sê dat die Here uitdruklik vir Hom gesê het om nie in hierdie gebied eers iets te eet of te drink nie.

Maar dan doen die ou profeet ‘n gemene, geslepe ding…

Die óú profeet sê toe vir hom: “Ek is ook ‘n profeet net soos jy, en ‘n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!” Maar die óú profeet het vir hom gelieg. (1 Kon 13:18)

Die jong profeet “val” vir die liegstorie van die ou profeet en dit kos hom uiteindelik sy lewe.

Mens se eerste reaksie is om die jonger profeet jammer te kry. Jou simpatie lê by hom omdat hy bedrieg is. En was dit nou regtig só erg om iets te eet en drink by ‘n mede-profeet? Is daar nie ‘n klomp ander dinge wat erger sondes is nie? Is dit nie bietjie onbillik van die Here om dan te beskik dat die profeet tot sterwe moet kom nie? Dit is inderdaad my eerste reaksie.

Maar ek word herinner aan die woorde van Tim Keller – en ek parafraseer nou – “As die God wat jy aanbid nooit jou lewensuitkyk uitdaag of selfs jou aanstoot gee nie, dan is die kans goed dat die God wat jy aanbid net die produk van jou eie verbeelding is”. As ons immers ‘n God aanbid wat eg is, dan moet Hy tog sekerlik op sekere punte van ons verskil.

En dit lyk my hier verskil God van my. Dit lyk my God plaas ‘n hoër premie op gehoorsaamheid as wat ek gedink het Hy hoef. 

En nou is die vraag waar los dit my? Dink ek maar net Hy is “kleinlik en onbillik” om soveel gehoorsaamheid te vereis, en daarom hou ek aan om my eie kop te volg oor wat ék dink reg en billik is? Ék sal besluit wat reg en verkeerd is, wat sonde is en wat nie! Of laat ek toe dat die teks my verander? Hoor ek dat die Here waarlik nougesette gehoorsaamheid van my verwag?

Dit plaas die indrukke in ons lewe, wat ons ervaar as die Here se stem, in ‘n totaal ander lig. Dit noop my om absoluut getrou te bly aan dit wat ek glo die Here vir my gesê het.