Tag Archives: Sosiale geregtigheid

Amos 5

Ek wonder of die erns van hierdie hoofstuk ons nog tref? Hoofstuk 5 staan bekend as Amos se treurlied oor Israel. Hoor jy dit? Hoe sal jy voel as jy hoor dat God ‘n treurlied oor jou lewe sing?

In wese is dit omdat Israel van kernsake, randsake gemaak het – en van randsake, kernsake: Die beoefening van die kultus naamlik die bring van offers en die nakom van feeste is ‘n randsaak. Heeltemal tereg sê God by monde van Amos dat hulle nooit tydens hulle reis in die woestyn offers moes bring nie (5:25).

Tog het Israel intussen hierdie aspek verhef asof dit die wesenlike is wat God van hulle verwag. Dít, terwyl hulle nalaat om geregtigheid aan armes te laat geskied (vers 11).

Daarom vind daar in vers 4-6 ‘n uiters skerp teenstelling plaas tussen die kultusbeoefening en ware soeke na die wil van die Here. Mens noem hierdie vorm ‘n parallelisme

  • So sê die Here vir Israel:Vra na my wil, dan sal julle lewe!

    • Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan of verbygaan Berseba toe nie.
    • Gilgal sal in ballingskap weggevoer word, en Bet-El sal tot niet gaan.
  • Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe!

Die implikasie hiervan is skokkend! Die georganiseerde beoefening van godsdiens in Amos se tyd het so ver afgedwaal van wat waarlik vir die Here belangrik is, dat die Here Homself van dit distansiëer. Dit is ‘n wekroep vir almal van ons wat vandag nog in die kerk ook is.

Hoofstuk 5:15 verwoord op ‘n treffende wyse wat die essensiële is wat die Here van ons verwag:

15Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.

Amos 4

Mens verstaan hierdie hoofstuk amper beter as jy dit van agter af terug lees…Amos is steeds besig met sy vertoë teen Israel. Dit lyk asof hy nou die rol van Bet-El se priester inneem, want hy nooi almal uit om hulle offers te bring en aan die kultus deel te neem:

“Bring julle offers vroegmôre, julle tiendes op die derde dag. Verbrand die ongesuurde brood as dankoffer, kondig julle vrywillige offers aan, laat die mense dit hoor. So hou julle mos daarvan, Israeliete, sê die Here my God”

Sy uitnodiging is egter sarkasties bedoel. Hy sê immers:

“Kom na Bet-El toe as julle wil sonde doen, na Gilgal toe as julle nog meer sonde wil doen.”

Hy sinspeel met ander woorde daarop dat die volk “skeinheilig” is. Hulle “dien” oënskynlik die Here want hulle kom al die uiterlike gebruike van die kultus na. Maar hulle laat na om reg te geskied aan die armes.

Vandaar die inleiding van die gedeelte wat lui “julle deur wie die swakkes verdruk en die armes mishandel word”

Amos herinner ons dat dit baie maklik vir my en jou is om onsself op die skouer te klop, en te voel ons dien die Here want ons is betrokke by die kerk of ons het een of ander sigbare uitlewing van ons godsdientige oortuiging. Maar as daardie godsdienstige oortuiging nie grondvat in ons etiek nie, dien ons die Here net met ons lippetaal.

Jakobus 1

Vir die volgende 5 dae vertoef ons weer in die Nuwe Testament, en spandeer ons tyd in die boek Jakobus.

Een van Jakobus se mikpunte met die skryf van hierdie brief, is om gelowiges op te roep om hulle geloof te integreer met hulle alledaagse lewe. Jakobus kruis swaarde met die feit dat ons so gefragmenteerd leef, en dit vind uitdrukking in die verskeie temas wat hy in sy brief aanspreek (die beheer van ons tong, die hantering van beprowings en versoekinge, die behandeling van mense ens)

Met dit in gedagte, maak vers 22 baie sin as inleiding tot die boek:

“Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.” (Jak 1:22)

Hierdie vers word eintlik die fondament van die hele boek: Integreer Jesus se boodskap in ons alledaagse lewe.

Christenskap is baie meer as net ‘n persoonlike verhouding met God. Dit vind ook neerslag in ons publieke verhouding met ons medemense.

Deut 2

Ek leer weer uit vandag se gedeelte dat mens nie met ‘n “chip” op die skouer moet leef nie.

Die volk Israel is besig om weg van Egipte, al deur die woestyn te trek op pad na die beloofde land. Toe hulle in die land van die Edomiete kom, sê die Here vir hulle dat die Edomiete vir hulle bang is, maar dat hulle hulself moet “bedwing” (Deut 2:4). Hulle mag nie teen Edom oorlog maak nie. Hulle moet selfs die kos en water wat hulle gebruik terwyl hulle daar is, koop (Deut 2:6).

Die volk kon sekerlik maklik hulleself aangematig het om te dink: “Óns is God se volk. Dit kom my toe. Hierdie mense is buitendien heidene”. Maar die Here verbied hulle om met so ‘n gesindheid te leef. Hy wil hê hulle moet in vrede – en met ‘n sin vir geregtigheid – tussen hulle buurvolke leef.

Hierdie gedeelte inspireer my vanoggend om self ook met so ‘n gesindheid in ons land wat vol diversiteit is, te leef. Leef, en laat leef. Leef beskeie en leef met ‘n sin van regverdigheid.

Lukas 8

Praat van ‘n storie vol paradokse! Die storie oor die besetene wat in die gebied van die Geraseners bevry word, draai glad nie uit soos ons verwag nie.

Die gemeenskap het hierdie besete man uitgestoot uit vrees wat hy aan hulle kan doen. Toe Jesus voet aan wal sit, word Hy deur hierdie man begroet met die woorde om asseblief weg te gaan. 

Jesus genees hierdie man tot so ‘n mate dat hy weer gereed is om in die gemeenskap ingeneem te word. En dit is hier waar alles omvergegooi word…

Die verhaal eindig met die gemeenskap wat pleit dat Jesus moet weggaan en die man – die einste man wat Jesus aanvanklik weggejaag het – smeek nou vir Jesus om te bly.

Jy sou verwag dat die gemeenskap baie bly sou wees dat hierdie man nou genees is en nie meer ‘n gevaar vir homself of vir hulle is nie. Maar die rede waarom die gemeenskap vir Jesus wil weg hê, is omdat Jesus se aanraking van die man ‘n baie negatiewe effek op hulle bates gehad het. Ál hulle varke het weggehardloop! Hulle was bang dat hoe langer Jesus in hulle midde bly, hoe groter skade hulle dalk kan lei. Hulle was sekerlik reg: Jesus keer altyd die establishment om.

Die teks lei my om myself af te vra of ek regtig Jesus by my wil hê? Wat as Jesus vandag uitgeworpenes wil herstel? Wat as dit dalk van my gaan kos? Is my eie materiële en finansiële welstand in lyn met God se koninkryk? 

Dan 4 (23 Jul)

Hierdie hoofstuk bevat ‘n belydenis van koning Nebukadneser. Op ‘n stadium roep hy in herinnering die woorde wat Daniël vir hom gesê het: “Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is.”

Ek sien in my geestesoog hierdie klein Daniëltjie wat voor die groot en magtige koning Nebukadneser te staan kom. Sy broek moes gebewe het – en sowaar daar gaan hy voort en spreek hy die koning aan oor die sondes…

Dit laat my baie dink aan wat die Ou Testamentikus Walter Brueggemann noem: “speaking up to power”. Brueggemann is lief daarvoor om uit te wys hoeveel keer Ou Testamentiese figure teen gesag moes uitvaar. Hy lig uit dat die Farao’s van vandag waarteen Moses moes opstaan – oftewel die Nebukadnesers waarteen vandag se Daniëls moet opstaan – enige vorm van onderdrukking en uitbuiting is (wat byna altyd gepaardgaan met die misbruik van ‘n magsposisie).

Mag ons dieselfde dapperheid vertoon om op te staan waar mense van outoriteit hulle mag misbruik.

Esegiël 5 (16 Maart)

Ek vra verskoning dat vandag se refleksievraag nou eers by jou uitkom. Ek is verkoue en was lekker pap vandag!

As ek myself afvra wat het die volk gedoen om die Here so te ontstel dat Hy gedryf word om hulle op hierdie verskriklike manier te straf, dan sien ek gee die Here 2 redes:

  • 5:6 Daar was sosiale onreg.
  • 5:11 Hulle het afgode aanbid.

Die Here het nie verander nie. Dieselfde dinge wat Hom destyds gebelg het, belg Hom vandag nog. Daarom kan ons onsself gerus afvra hoe lyk ons gewete met betrekking tot ons sosiale geregtigheid en die afgode in ons lewe. Bid gerus daaroor en praat met die Here daaroor.

Terloops, dit is vir my interessant dat in Esegiël se simboliese optrede, hy die een is wat die straf uitvoer – en ook die een is wat gestraf word. Dit is natuurlik ook so met die Here. Hy was die een wat gestraf het, maar deurdat sy volk verneder is, het ook sy naam daaronder gely. My goeie en slegte optrede, raak altyd die eer van die Here op ‘n positiewe of negatiewe manier.