Tag Archives: Sondebesef

Obadja

Ons lees vandag die korste boek in die hele Bybel, Obadja. Dit is slegs ‘n paar verse lank, maar dit slaan diep. Kyk na die volgende video om gou die agtergrond van die boek beter te verstaan…

Daar is twee dinge wat my opval in hierdie boek:

1.) My terminale kondisie

Edom was die nasate van Esua. Die Israeliete was die nasate van Jakob. Hulle was dus familie. Maar soos die 2 broers ‘n baie gespanne verhouding met mekaar gehad het, so het dit ook oorgespoel na die twee volke wat uit hulle ontstaan het.

Met die val van Jerusalem, is die Israeliete na Babel weggevoer. Die Edomiete het in hierdie tyd van die vlugtinge doodgemaak en die oorblyfsels van die stad sommer nog verder geplunder.

Edom se sonde word egter ‘n prentjie van die mensdom s’n. Geskrewe Hebreeus word nie gevokaliseer nie. As daar dus van Edom gepraat word in Obadja, staan daar net EDM. Maar later in die boek verander die tema van EDM na ADM – Adam, oftewel die mensdom, die nasies, alle mense, myself ingesluit.

Yip, dit is altyd makliker om ander se sonde raak te sien, eerder as jou eie. Ons klik ons tonge vir Edom, maar ons doen dieselfde as hulle. Ons kondisie is net so terminaal soos hulle s’n. Ek is net so sondig… Inderdaad, die grootste struikelblok in ons verhouding met die Here, is dikwels nie die “lae dink” wat ons van onsself het nie, maar eerder ons “grootheidswaan” – die gedagte dat ons eintlik goed is.

Die boek Obadja noop ons om onsself in Edom te sien. Edom word die spieël waarin ons kyk.

2.) Die Genade van die Here

Aan die ander kant is dit ook die genade van die Here wat my vanoggend weer sprakeloos laat. Nooit ooit vind ons in die Ou Testament dat die Here by monde van sy profete straf en oordeel aankondig, sonder ‘n gepaardgaande gedeelte wat handel oor vergifnis, versoening, nuut begin of hoop nie.

Ook in Obadja vind ons dit. Vanaf vers 17 sien ons dat die Here vir Hom ‘n oorblyfsel uit die mensdom sal neem en nuut begin. Dit word natuurlik in Christus op ‘n spesiale manier vervul, omdat ons nou God se volk is. Dit is loutere genade…

Job 35

Elihu het ‘n baie interessante beskouing van sonde. Van ál Job se vriende voel dit vir my het hý meeste sin gepraat. Alles wat hy gesê het is natuurlik nie goeie raad gewees nie, maar baie van dit was.

In hoofstuk 35 lewer Elihu repliek op Job se mismoedigheid. Job sê aan die een kant dat sy saak voor God skoon is en dat hy dat hy verwag om geregtigheid van God te ontvang. Maar in dieselfde asem vra Job of dit regtig die moeite werd is om nie te sondig nie (vers 2 en 3). Daarop sê Elihu vir hom:

“Kyk op, kyk na die hemel,
kyk na die wolke hoog bokant jou:
as jy sondig, wat doen dit aan God,
as jy baie keer oortree,
hoe raak dit Hom,
as jy sonder sonde is,
wat baat dit Hom,
wat kry Hy van jou?
Jou sonde raak jou medemens
en jou onskuld raak jou medemens.” (Job 35:5-8)

Dit is ‘n baie goeie waarneming van Elihu. Party mense dink mos hulle kan God “terugkry” as hulle sonde doen. Hulle is om een of ander rede kwaad vir die Here, en nou wil hulle hul oorgee aan sonde om Hom as’t ware seer te maak. Job het byna-byna in hierdie kategorie beland.

Maar daardie sonde wat ons doen, maak niks aan God nie. Dit verwoes wel die mense rondom ons. Dit vernietig op die ou einde onsself. Maar dit maak niks aan God nie.

Dit is belangrik om dit te onthou in ons eie lewe ook. My sonde doen afbreek aan die feit dat ek na die beeld van God geskep is. As ek sonde doen, is ek nie ‘n getroue weerspieeling van hoe God regtig is nie. Die Here neem daardie wanvoorstelling van Hom nie ligtelik op nie. Maar die uiteinde is dat dit die mense rondom my en ekself is, wat vernietig word deur sonde.

Genesis 7

Ons het gister gewaarsku dat mens nie te vinnig by genade moet uitkom nie. Dit is soms goed om met ons sonde gekonfronteer te word en dit in die oë te kyk.

Vandag staan ons egter stil by genade.

Ons sien hoewel die Here straf, bewerk die Here ook uitkoms. Sy heiligheid vereis dat Hy nie sonde net kan laat begaan nie. Daarom móét Hy straf, en stuur Hy in Genesis 7 se geval, die sondvloed.

Maar sy hart is eintlik om te red. Daarom bewerk Hy ‘n plan sodat Noag en sy familie gered sou kon word. Hy gee opdrag dat daar ‘n ark gebou moet word.

In die Nuwe Testament herhaal hierdie tema homself weer. Ons sonde word gestraf – maar dit word gestraf in Jesus.

Net soos wat mense beskerming binne die ark gevind het, net so vind ons wat “in Christus” ons heenkome soek, ‘n veilige vesting. In Jesus is ons veilig.

Genesis 6

“Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.”

Hierdie is ernstige woorde. Die Here is as’t ware spyt dat Hy die mens gemaak het. Dit is amper so erg soos om te sê dat my eie kind wat ek verwek het, vir my soveel hartseer besorg, dat ek wens dat ek hom/haar nooit gekry het nie.

Vir meeste van ons klink dit onmoontlik om so oor jou eie kind te voel – selfs al stel hulle ons soms teleur. Maar daar ís mense wie se kinders vir hulle soveel herhaaldelike pyn veroorsaak, dat hulle al so gevoel het.

Voel die Here soms so oor my?

Ek wil keer dat ons vanoggend te vinnig by genade uitkom. Mens kan te vinnig oor hierdie vraag beweeg en ‘n antwoord uit jou kop gee “Jesus maak my darem aanvaarbaar vir die Here”, sonder dat die vraag ons hart gepenetreer het.

Dit is goed om vir ‘n oomblik langer op die vraag te vertoef: “Maak dit my hartseer, dat ek soms my Vader hartseer maak?”. Want as dit my nie meer raak nie, dan neem ek sy onvoorwaardelike liefde as vanselfsprekend aan. Dan het ek gewoond geraak aan genade. Dan toon ek psigopatiese neigings. Net ‘n Psigopaat kan willens en wetens iemand in doen en te na kom sonder om eers daaroor sleg te voel. Só wil ek tog nie wees teenoor die Here nie.

So, die evangelie het definitief ‘n boodskap van aanvaarding aan my. Maar vanoggend beklemtoon hierdie stuk aan my die erns van sonde en selfs die emosie wat my sonde by God opwek. Mag dit in my hart ‘n begeerte skep om nie langer my Vader meer te bedroef nie.

Eseg 9 (26 April)

Esegiël 9 is nogal ‘n onstellend, ne?

Dit handel oor ‘n visioen waar talle mense op God se bevel gedood word, omdat hulle nie ‘n merk op die voorkop het nie. Die merk op die voorkop kon verkry word as jy ook gesug en gekla het oor die sonde in die land.

Dit bring my eintlik by die vraag of ek nog ontsteld raak oor sonde? As ek selfondersoekend na myself kyk en sien dat sonde my nie meer pla nie, dan beteken dit smeer my omgewing op my af en nie ek op my omgewing nie.

Gebed: Kom ons bid dat die Here ons opnuut attent sal maak op wat vir Hom belangrik is.

Esegiël 6 (17 Maart)

Eseg 6:2 Die profeet moet draai in die rigting van die berge in Israel, en dan die profesie lewe. Onthou, die volk sit reeds in ballingskap wanneer Esegiël hierdie boodskap bring. Hulle het gehoop dat die ballingskap van korte duur gaan wees, en dat hulle vinnig weer sal kan terugkeer na hulle land toe. Nou hoor hulle dat die saak ernstiger is as wat hulle gedink het. Die ballingskap gaan nie gou-gou oor en verby wees nie. Dit is ‘n wesenlike straf op hulle godsdienstige verval.

Dit laat my so baie aan onsself dink. Ons soek ook kitsoplossings. Ons wil ‘n vinnige salfie aan ‘n terminale toestand smeer en dan dink ons alles sal regkom. Dit is asof ons as mense nooit besef hoe diep ons wond van sonde is nie.

Die troos is gelukkig dat hierdie katastrofe nie ten doel het om Israel te vernietig nie. Dit wil Israel oproep tot diepe besinning en inkeer.

Gebed: Ek het ‘n behoefte om vandag vir die Here te vra om my te help dat ek nie “bolangs” of te “vlugtig” oor my oortredings teenoor Hom sal dink nie – maar eerder dat ek ‘n groter besef van die diepte van my sonde sal besef. Hoe meer ek immers die diepte van my sonde besef, hoe groter word die versoeningswerk van Jesus in my verstaan.