Tag Archives: Soewereiniteit

Jeremia 33

Om die treffendheid van Jeremia 33 te hoor, moet mens miskien net weer jouself aan die konteks herinner.

Die mense van Jerusalem se lewens hang aan ‘n draadjie. Die Babiloniërs het teen hulle opgetrek. Die huise buite die stad is reeds verwoes en die mense doodgemaak. Nou beleër hulle die stad en honger hulle die inwoners uit, voordat hulle die stad gaan binneval en die mense óf doodmaak óf wegvoer…

Dit is met ander woorde nie “mooiweerspraatjies” nie. Dit is kookwatertye. Die volk is ontnugter. Hulle sekuriteit is onder hulle uitgeruk.

Dan begin Jeremia se profetiese uitspraak met die volgende…

So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is (Jeremia 33:2)

Dit is baie veelseggend dag Hy met die belydenis begin dat die Here geskep het – en nogal tot so ‘n mate geskep het, dat die aarde nie kantel en alles in duie stort nie. Dit is veelseggend, want as die Here een maal geskep het, kan Hy ook herskep. En dit is wat Hy gaan doen. Jeremia gaan dan voort om onder andere te sê…

“So sê die Here die Almagtige: In hierdie plek wat so verwoes is dat geen mens of dier oorgebly het nie, en by al sy stede sal weer weiveld vir kuddes wees, lêplek vir kleinvee.” (Jeremia 33:12)

Die Here belowe herskepping. Maar hierdie woorde kom in ‘n tyd wat dit onmoontlik lyk of klink. Dit wil vir die volk voorkom of daar geen uitkoms is nie. Tog, omdat die Here almagtig is en kan herskep, kan Hy selfs die grootste katastrofe omdraai en in seën verander. Dit is nogal iets wat ons in gedagte moet hou.

1 Kronieke 4

“Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.”
Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.”
God het laat gebeur wat hy gevra het.”

Die afgelope paar dae spandeer ons tyd in die geslagsregisters. Ek weet dit kan partykeer vervelig voel. Dit het immers nie dieselfde prioriteit in óns kultuur, as in die kultuur van die mens in die Ou Nabye Ooste nie.

Maar telkens verras die geslagsregisters my tog. Dan vind mens ‘n juweel wat alles die moeite werd maak. Vandag sien ons die gedeelte oor Jabes wat so tussen alles weggesteek lê.

Jabes het eintlik net 3 dinge van die Here gevra:

  • Dat die Here sy seën oor hom sal uitstort.
  • Die die Here sy grondgebied sal vergroot.
  • Dat die Here hom sal beskerm.

Jabes se gebed is eenvoudig en ongekompliseerd. Die Here het gedoen wat hy gevra het.

Ek is dikwels ietwat versigtig vir Jabes se gebed. Sy gebed maak my ongemaklik omdat dit vir my voel ons hoor die “American dream” daarin: ‘n gróót lewe met baie geld en min weerstand en probleme. Wie wil nie so ‘n lewe hê nie?

Maar werk ek vir God of werk Hy vir my? Ons dink te maklik dat God tot ons diens is. Ek dink nie dat Jabes se gebed in sy tyd bedoel het, wat ons vandag in ons selfgerigte kultuur daarmee hoor nie.

Maar nogtans beteken sy gebed vir ons baie. Die feit dat sy Ma hom met smart in die wêreld gebring het en dit in sy naam verewig het, was ‘n geweldige klad op sy identiteit. Hy moes dit soos ‘n lelike ettiket om sy nek die res van sy lewe saamdra. Dit was eintlik roekeloos en liefdeloos van sy eie Ma.

Maar die Here het daardie wond van verwerping genees en sy lewe op ‘n ander koers geplaas. Die leed wat ander ons aandoen, het nie die laaste sê oor ons uiteinde nie. Die Here hoor ons gebede.

En om daardie rede is Jabes se gebed uiters kosbaar vir ons: As ek my lewe aan die Here toevertrou, het Hý die laaste sê oor die uitkoms daarvan.

Rigters 4

In Rigters 4 lees ons van iets uitsonderlik vir die antieke tyd: ‘n vroulike gemeenskapsleier! In ‘n samelewing wat deur mans gedomineer was, was dít iets totaal ongewoon. Tog lees ons dat mense van regoor Israel na Debora gekom het sodat sy hulle geskille kon oplos (vers 5).

Die militêre leier, Barak, het ook leiding by haar gaan vra. Haar raad aan hom was voort te gaan met die aanval op Sisera, die hoof van hulle vyamde se leër. Barak was egter huiwerig. Hy wou nie dadelik daarop reageer nie en het eers met die Here probeer onderhandel. Hy het voorgestel dat Debora saamkom. Was dit dalk sy toets om te sien of sy werklik seker is dat haar insig van die Here kom? Ons weet nie dit nie. Ons weet net dat sy “onderhandeling” op voorwaardelike gehoorsaamheid neergekom het – iets wat hom duur te staan sou kom.

Hoewel Debora ingestem het om saam met hom te gaan, het sy bygevoeg dat die “eer” van die oorwinning nie meer na hóm toe sal gaan nie, maar na ‘n vrou. Hoor dit weer: Die uitkoms wat die Here sou bring, sou uit ‘n hoogs onwaarskynlike oord kom. En dit het ook so gebeur…

Toe Sisera op die vlug slaan, het hy by die tent van Jael aangekom. Daar het hy aan die slaap geraak. Jael het toe Sisera se lewe met ‘n hamer en ‘n tentpen geneem. Nie net het die uitkoms gekom uit ‘n oord wat niemand verwag het nie (Jael was nie eers ‘n Israeliet nie), maar hy is doodgemaak met iets wat nie eers tradisioneel as ‘n wapen beskou is nie. Dit was ‘n skandelike dood vir Sisera.

Tog leer ons ook iets oor die Here se eer: Hy het werklik nie mý nódig om sy raadsplan te laat geskied nie. As ek (soos Barak) nie met gehoorsaamheid reageer nie, dan werk die Here rondom my om sy plan tot uitvoer te bring. Hy kan sy wil laat geskied deur die mees onwaarskynlike figure en instrumente te gebruik.

Hierdie wete plaas ons eie belangrikheid in ‘n nuwe lig. Niemand is onontbeerlik vir die Here nie. As jy nie aan die Here wil gehoorsaam wees nie, “snoeker” jy nie sy plan nie. Jy mis gewoon uit op die voorreg om deur die Here gebruik te word, want Hy gebruik net iemand anders wat wél gewillig is.

Kom ons verklaar ons eie klein nietigheid voor die Here en bid vandag vir ‘n diep gehoorsaamheid aan Hom.

Openbaring 9

Sjoe, vandag se beskrywing van die sprinkane klink soos iets uit ‘n Hollywood Zombie-film!

Die gesig moes vreesaanjaend gewees het: sprinkane so groot soos perde, met gesige van mense, lang hare soos díe van vrouens, tande soos díe van leeus, borskaste soos ysterharnasse en vlerke wat dreun soos strydwaens! 

Sprinkane was in die Bybel ‘n simbool van onheil en boosheid. Hulle het landbouers se lewensmiddele opgevreet. Daarom funksioneer sprinkane oor hier as metafoor vir die bose.

Die interessante is egter in vers 5: “Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar wel om hulle vyf maande lank te pynig”

Ten spyte van die sprinkane se indrukwekkende mag en krag, was hulle beperk. Wie beperk hulle? God natuurlik.

Dit voel dikwels vir ons ook of “die duiwel los is” en of sy trawante “vrye teuels” het om vernietiging te saai. In hoe verre die Bose in ons lewens aktief is, bly ‘n ope vraag waarvan ons nog nie antwoord heeltemal ken nie. Maar ons kan vertroosting in die feit vind dat die finale gesag by God lê. Hy het die laaste Woord en Hy het dit op Golgota gespreek. Daarom kan niks wat die Bose ons aandoen, van die liefde van die Here skei nie.

1 Konings 17

Die weduwee se kruik wat nie opraak nie, is ‘n lekker uitdagende storie…

Uit die staanspoor aanvaar ons dat die verhaal oor die Here se voorsiening handel, daar waar Hy gedien en gehoorsaam word. Maar met ‘n nadere kyk van die teks sien ons dat die gebied waar die weduwee haarself bevind het, Sarfat was (vers 10). Sarfat was ‘n streek waar Baäl gedien was. Die veronderstelling is dus dat die weduwee eintlik ‘n heiden was.

Dit laat mens nogal met ander oë na die teks kyk, en ook ander vrae aan die teks vra. Soos hoe vêr strek die allesbeskikking van die Here? Want híer beheer Hy duidelik die denke en gedrag van selfs ‘n heidense vrou. Hy gebruik háár om vir sy dienaar te sorg.

Dit herinner my aan wat Martin Luther gesê het. Hy het gesê dat selfs die Bose nie in staat is om iets te doen, as die Here dit nie beskik nie. Satan is vir God soos ‘n klein skoothondjie. Dit is verder as wat ek persoonlik sou gaan as ons praat oor allesbeskikking, maar die feit bly staan dat niks vir God buite beheer of selfs buite bereik is nie. Selfs nie Sarfat nie.

Jesaja 13

Die gevoel wat ek kry as ek Jesaja 13 lees, is dat God beheer oor die dinge het wat buite my beheer is.

Dink jou dit in: Israel beleef die opkoms van Assirië en die dreigende onheil. Uiteindelik word hulle oorval en weggevoer in 722vC. Maar die rampe hou nie op nie. In 597vC kom Babel en verower hulle Jerusalem. Babel sou voortaan altyd die verpersoonliking van boosheid wees, omdat hulle God se tempel verwoes het.

Al hierdie politieke skommelinge was veel groter as wat een persoon kan keer of beheer. Tog is dit nie buite die beheer van God nie.

In hoofstuk 13 word Babel se straf aangekondig. Daar wag ‘n verskriklike dag op hulle: Die dag van die Here. Dit is die dag van afrekening. En Hy gaan die mediërs gebruik om met Babel af te reken.

Drie wêreldmoondhede van die tyd word dus geïmpliseer: Assirië, Babilonië en die Mediërs – en al drie is God se skoothondjies!!!

Dikwels voel dit vir my of Suid Afrika se probleme ook te groot is vir my om te keer of te beheer. Dan word ek herinner deur gedeeltes soos Jesaja 13, dat dit nie buite beheer vir God is nie.

Josua 10 (5 Mei)

Hoofstuk 10 volg bykans dieselfde patroon as hoofstuk 8. Hoofstuk 8 handel mos oor hoe die Here Israel se sonde gebruik om juis vir hulle oorwinning te gee. Wel, hoofstuk 10 sluit op soortgelyke wyse aan by hoofstuk 9. Vanweë Israel se onverantwoordelike besluitneming in hoofstuk 9, moet hulle teen wil en dank die Gibeoniete in hoofstuk 10 help. En wat in hoofstuk 10 aanvanklik lyk as ‘n onmoontlike taak – naamlik om 5 konings gelyk te oorwin – word op die ou einde die reuse deurslaggewende oorwinning vir Israel.

Het jy al voor ‘n groot bedreiging gestaan wat God toe juis in jou guns gedraai het? Hy kan dit ook met jou huidige probleme doen!

Hoofstuk 10 is dus die pragtige verhaal van hoe die Here ons verleenthede omdraai in sy geleenthede.

 

Josua 8 (3 Mei)

Josua 8 is die pragtige verhaal van hoe die Here die nederlaag van hoofstuk 7, gebruik om ‘n oorwinning te behaal.

As jy mooi gaan lees hoe die gevegsplan lyk, dan sal jy sien hulle gebruik presies dieselfde patroon as in hoofstuk 7. Hulle onttrek op dieselfde oomblik en dit wek die indruk dat hulle weer verslaan is soos in hoofstuk 7. Maar dit is presies hoe die mense van Ai hulself misgis en die Here gee die stad oor in die Israeliete se mag.

Josua 8 is met ander woorde die pragtige uitbeelding van Romeine 8:28 wat lui dat die Here alles ten goede kan laat meewerk – ja, selfs ons sonde!!

Eksodus 23 (Mrt 9)

Ons almal hou van vinnige oplossings. Daarom wens ons so dikwels dat die Here ons gebede gouer antwoord.

Dalk sou die volk ook graag wou hoor dat die Here die ander volke in ‘n japtrap voor hulle gaan uit verdryf. Maar die Here sê:”Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie” (vers 29). Dit lyk my die Here dink ook aan alles! Hy sien die groter prentjie. En om daardie rede bepaal Hy die tempo waarteen die inname/oorwinning moet plaasvind. Hy sê: “Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou uit verdryf totdat jou mense genoeg is om die land in besit te neem.” As die Here ‘n kits-inname bewerk het, het die volk net met ‘n ander probleem gesit.

As iemand wat obsessief daaroor is om in beheer te wees, kry ek moeilik reg wat ek nou gaan aanbeveel: Maar kom ons vertrou die Here dat Hy beter weet. Ons kan steeds net so passievol bid soos altyd. Maar kom ons los die uitkoms in die Here se hand. Hy sien die groter prentjie. Hy neem ander goed in ag wat ek en jy nie eers aan dink nie.

Gebed: Spreek vandag net weer jou vertroue teenoor die Here uit. Sê vir Hom dat jy weet dat jóú tyd nie sý tyd is nie. Maar dat jy nogtans jou vertroue op Hom plaas omdat jy glo dat Hy beter weet.