Tag Archives: Skrifinterpretasie

Sagaria 3

Vandag se hoofstuk is hiendervleismooi, né?

Sagaria sien ‘n gesig waar die hoëpriester van daardie tyd, Jesua, voor die Engel van die Here staan (Die term “engel van die Here” verwys in hierdie geval na die Here self).

Die gedeelte meld dat Jesua soos ‘n stuk brandhout uit die vuur gered is. Dit is ook so. Sy Oupa, Seraja, is in Babel doodgemaak. Sy Pa, Josadak, is as balling na Babel weggevoer. Dat Jesua met sy lewe weggekom het, is ‘n wonder!

In die gesig staan die Satan aan die regterkant van die Here – die tipiese plek wat die aanklaer in ‘n troonsaal van die koning sou inneem. Jesua die hoëpriester word as sondig en onrein beskou, maar die teks sê nie hoekom nie.

Die wonder van genade speel af toe die Here vir sy engele opdrag gee om Jesua te reinig en nuwe klere vir hom aan te trek. Dit is genade, want dit is nie deur Jesua se toedoen nie.

Dieselfde lot kom ons natuurlik ook oor. Sonder dat ons dit verdien, kom reinig die Here óns deur sy seun, Jesus Christus. Jesus vervul eintlik hierdie profesie op ‘n baie besonderse manier.

Die Here het byvoorbeeld vir Jesua gesê:

“Daarna het die engel van die Here vir Jesua belowe: “So sê die Here die Almagtige: As jy lewe soos Ek dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy die gesag hê oor my huis, die verantwoordelikheid dra vir my heiligdom. Jy sal toegang tot My hê, net soos hierdie engele.” (Sag 3:6-7)

Jesua sou natuurlik nie volledig aan hierdie voorskrifte kon voldoen nie. Hy was maar net ‘n mens. Hy kan onmoontlik al die voorskrifte onberispelik onderhou. Maar Jesus het wel gelewe soos God wil. Gevolglik het Jesus die “gesag oor God se huis verkry”. Hy is nou die kop van die liggaam, die hoof van die Kerk. Jesus het ook vrymoedige toegang tot die Vader. Hy het, om die waarheid te sê, die Satan uitgewerk en nou sy plek aan die regterhand van die Vader ingeneem.

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat die Een wat nóú aan die regterhand van die Vader sit, geen aanklag teen ons inbring nie! Inteendeel, die vrymoedige toegang wat Hy by die Vader geniet, deel Hy ook aan ons uit.

Voorwaar ‘n wonderlike vervulling van hierdie profesie!

1 Kronieke 5

“Maar hierdie stamme was ontrou aan die God van hulle voorvaders en het oorgeloop na die gode van die landsbevolking wat ter wille van hulle deur God uitgeroei is. Daarom het die God van Israel vir koning Pul van Assirië, dit is Tiglat-Pileser, aangehits, en dié het hulle as krygsgevangenes weggevoer” 1Kron 5:25-26

Ons lees in vandag se hoofstuk van hoe die stam Ruben, Gad en Manasse Oos van die Jordaan geleef het. Ons lees van een oorlog na die ander, ter wille van oorlewing. Die Here help hulle deur elkeen en beskerm hulle. Hy is die behouer van hulle lewe.

En dan aan die einde van die hoofstuk lees ons dat hulle, ten spyte van alles, gaan staan en oorloop het na ander afgode!?

Dit is nie juis lekker om te lees van al die moord en doodslag nie. Mens sou met reg kon vra “Wat maak ons vandag met al die bloedvergieting in die Bybel?”.

Maar vir nou is dit eintlik belangrik om te sien dat hier ‘n storie agter ‘n storie afspeel. Ons lees indirek van God se volgehoue getrouheid (Hy help hulle deurgaans), en dan sien ons sy dienaars se ontrouheid. God se betroubaarheid en die mens se onbetroubaarheid word dus op ‘n baie prominente manier teenoor mekaar gestel.

Wanneer God uiteindelik sy hand terugtrek, neem die Assiriese koning hulle oor. In die proses verloor hulle hul bestaansreg en identiteit.

Ons is maar net soos die volk. Ons gehoorsaamheid laat veel te wense oor. Eintlik verdien ons ook om ons bestaansreg en identiteit te verloor.

Maar God het in ons tyd iets nuuts gedoen! Hy het sy Seun vir ons gestuur. Sy seun sou nie net namens ons sterf vir ons foute nie, maar ook namens ons lewe. Vandag vind ons ons bestaansreg en identiteit in Jesus! Hy het dit alles namens ons verdien.

Ons is swak, maar Hy is sterk. Maar omdat daar ‘n band tussen ons en Jesus bestaan, maak Hy ons deel van sy sirkel. Hy laat toe dat ons in sy oorwinning deel. Ons pluk die vrugte van dit wat Jesus vir ons bereik het.

Anders as die stamme van Ruben, Gad en Manasse, kan ons God die Vader se volgehoue guns en beskerming geniet, níe omdat ons so toegewyd leef nie, maar omdat Jesus gehoorsaam was tot in die dood.

Sefanja

Hierdie is seker een van my gunsteling gedeeltes in die Bybel. Ek vermoed dit maak emosie in my los omdat ‘n onderwyser dit jare gelede vir my in ‘n kaartjie geskryf het toe ek nog op hoërskool was:

“Die Here jou God is by jou,
Hy, die krygsman wat red.
Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou:”

Hoofstuk 3 van Sefanja staan in skrille kontras met die res van die boek. Die res van die boek is ‘n aankondiging van oordeel. Maar omdat die Here nou sy volk gereinig het van hulle sonde, is daar vrede.

Vir ons kry dit natuurlik nuwe betekenis. Daar was ook vir ons ‘n oordeelsdag – en dit was op die kruis. Ons is ook nou gereinig. En daarom sê die Here ook vir ons: “Ek is stil-tevrede oor jou”.

Wat ‘n wonderlike voorreg om te leef met die wete dat ek in vrede voor God se aangesig kan lewe!

Jesaja 11

“‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie.” (Jes 11:1-3 en verder)

Dit moeilik om níe te dink aan hoe Jesus hierdie profesie vervul het nie.

Maar as ons reg aan die teks wil laat geskied, moet ons sê dat hierdie profesie nie in die eerste plek gehandel het oor Jesus nie. Dit het in die eerste plek gehandel oor die klein deeltjie van die volk wat oorgebly het na die ballingksap.

Die oorblywende deel van die volk was soos ‘n droeë verbrande stuk stomp. Op die oog af was dit dood. Dit was verby met hulle. Maar die Here beloof by monde van die profeet Jesaja dat Hy vanuit hulle geledere weer nuwe lewe sal laat skiet – en selfs nuwe leiers wat die Here se wil sal doen.

Dit is die verskil tussen ‘n voorspelling en ‘n profesie. ‘n Voorspelling – soos bv ‘n weervoorspelling – is net geldig vir een spesifieke tyd. ‘n Profesie daarteenoor het meer as een vlak en tyd van waarheid. 

Hierdie profesie het eerstens gehandel oor die volk aan wie dit gerig is. Dit is toe verder vervul deur die Messias wat sou kom. En dit is derdens van toepassing op ons generasie vandag.

Ook in ons tyd kan die Here lewe bring uit dit wat skynbaar dood is. God se volk is vandag die Kerk. Die Here kan in ‘n era wat die Kerk baie swaarkry,  nuwe lewe laat vloei en leiers oprig wat waarlik sy wil soek en doen. Dit is waarvoor ek die Here vandag vertrou: Nuwe lewe!