Tag Archives: Siklus van sonde

Rigters 9

Eendag het ‘n man het sy vrou met ‘n ander vrou verneuk, en toe met háár getrou. Hulle huwelik was egter van korte duur omdat die man sy (toe nuwe) vrou, ook met ‘n minnares verneuk het. Sy het huilend haar geskoktheid uitgespreek: “hoe kon hy my met ‘n ander vrou verneuk?” Maar sy vergeet dat sy sélf ‘n rukkie terug die “ander” vrou was waarmee hy sy vrou verneuk het. Wat het sy gedink? Dat hierdie man so iets net een keer sal doen?

Ek het onlangs van iemand gehoor wat nie bereid was om namens sy baas vir ander kliënte te lieg nie. Sy baas was woedend, maar hy het sy baas geantwoord: “As ek namens jou kan lieg, kan ook vír jou lieg”

Sonde se strik lê dikwels daarin dat ons vir die leuen val dat dit net een keer sal wees. Ons glo dat dit net hierdie een duistere transaksie sal wees en daarna gaan ons altyd eerlik wees. Of ons glo dat dit net een leuen of net een omkoopgeskenk gaan kos om ons uit die moeilikheid uit te kry, en dan gaan ons daarna vir altyd eerlik leef.

Maar dit werk nooit so nie. Sonde het ‘n manier om karakteriserend van jou te word. En dit is wat hier in Rigters 9 gebeur. Abimelek probeer ‘n koninkryk aan mekaar sit met geweld en rugstekery. Het hy regtig gedink dit sal daarna stop?

Jesus sou later selfs sê: “Wie leef met die swaard, sal sterf met die swaard”. Abimelek het ander ondergrawe en sy koningskap sou gekenmerk word aan agteraf pogings om hóm te onttroon. Hy moes telkens – soos die storie oor Gaäl ons wys – geweld gebruik om opstande te onderduk. Sou Jesus nie later ook sê dat ‘n koninkryk wat in homself verdeel is, nooit kan bly staan nie? Wel, dit is wat met Abimelek uiteindelik gebeur het. Hy het op ‘n veragtelike manier koning geword, en hy sou op ‘n smaadvolle manier sterf.

Laat ons nooit Sonde se “leuen van eenmaligheid” glo nie. So gou soos nóú word daardie sonde karakteriserend van ons.

2 Konings 25

Ons het gister gesê dat 2 Konings 24 en 25 sekerlik een van die laagste, laagtepunte in die Ou Testament is. Dit skets aan ons hoe die uiteinde lyk van volhardende sonde. Dit is ‘n tragiese prentjie. Daar is niks om oor positief te wees in daardie twee hoofstukke nie.

Wel, amper niks nie.

Die boek sluit af met die nuwe koning van Babel, Ewil-Merodak, wat koning Jojagin uit die tronk bevry en aan sy tafel laat sit. Vir die res van Jojagin se lewe leef hy van die koning se genade.

Sou dit ‘n hoopvolle voorteken kon wees van dít wat sou kom? Verklap hierdie slotverse nie dalk die versugting van die Ou Testament, dat die Here ‘n genade ‘n genadetydperk weer sou laat aanbreek nie?

Die Here hou sy beloftes in stand. Die Dawidstroon sal vir altyd bly staan. En hierdie beloftes vind volkome vervulling in Jesus Christus.

2 Konings 24

Ek wil jou gou herinner en aanmoedig om vandag en more se hoofstuk in ons leesrooster te lees.

Naas die sondeval van Genesis, sou dit baie maklik as die laagtepunt van die Ou Testament bestempel kon word. Ja, dit handel oor die wegvoer na die Babiloniese ballingskap…

Soos jy weet is die Noordryk op hierdie stadium reeds weggevoer. Nou is dit die Suidryk se beurt – Jerusalem, die koningstad, Dawidstad, stam van Juda. Dit was die finale einde van die Dawidiese ryk.

Dit moes baie gevat het van die volk, om die Here tot op hierdie punt te bring. Hy het immers aan sy dienaar Dawid beloof dat daar altyd iemand uit sy nageslag op die troon sou sit.

Maar Dawid se nageslag was so goddeloos dat die Here nie anders kon as om ‘n einde aan daardie roemryke era te maak nie.

Ek moet jou waarsku: Daar is niks mooi aan vandag en more se hoofstuk nie. Dit is wreed en voel so futiel.

Dit is amper asof mens hoop daar kom nog uitkoms van erens – of dalk is daar nog ‘n omdraaikans. Maar na jare se goddelose leefstyl, sien ons in hierdie hoofstuk die laaste garingdraadjies uitrafel. Hulle sonde het so ver gevorder, dat daar nou nie meer salf te smeer is aan hierdie situasie nie.

Dit opsigself is dalk die enigste les wat ons vir onsself kan wegneem: Wanneer ons afdwaal van die Here, moet daar by ons ‘n dringendheid wees om na Hom terug te keer. Mag ons nooit toelaat dat ons toewyding tot so ‘n mate “verword” dat daar geen meer hoop is nie.

Ek heg vir jou ‘n tydlyn aan sodat jy kan sien waar vandag en more se hoofstuk in die geskiedenis inpas. Vandag se hoofstuk (2 Konings 24) speel in 597vC af en more s’n (2 Konings 25) rondom 586vC.

Klik gerus op hierdie skakel.

Eksodus 2

Sjoe vandag se hoofstuk het baie diamante. 

Dit vertel die verhaal van hoe Moses ‘n Egiptenaar doodslaan, dit eers probeer stilhou en dan daarna moet vlug.

Dit word eintlik ‘n wonderlike verhaal om te illustreer hoe sonde sneeubal – hoe een sonde na die volgende sonde lei. Dit werk vandag nog so met ons ook. Die verhaal beeld ook vir ons uit oor sonde floreer op die leuen van geheimhouding. Ons glo altyd niemand sal weet nie, of niemand mag uitvind nie. En dit is presies hier waar die kake van die sonde op die sterkste is. Die verhaal dien egter ook as ‘n voorbeeldverhaal van hoe die Here jou einste foute tot sy eer kan gebruik. Dit was juis Moses se weersin in die slawerny van sy volk, wat uiteindelik hom ‘n roeping van die Here besorg het.