Tag Archives: Sekularisasie

Levitikus 18

Vandag se hoofstuk handel oor verskillende soorte seksuele verhoudings waarvan die Israeliete hulself van moet weerhou.

Miskien is die eerste beginsel wat ons uit hierdie hoofstuk kan haal, dat ons seksuele lewe nie losgemaak kan word van ons verhouding met God nie. Vanuit die Woord sien ons dat die Here Hom die reg toe-eien, om eise aan ons te stel rakende die uitlewing van ons seksualiteit.

Die tweede ding wat ons moet raaksien, is dat die Israeliete opgeroep word om seksuele lewens te handhaaf wat baie anders lyk as die nasies rondom hulle. Vers 3 sê dat hulle lewe baie anders moes lyk as die Egiptenaars en die Kanaäniete wat hulle buurvolke was. Ons sou kon sê dit was die norme – of die kultuur – waarmee hulle baie goed bekend was.

As ons dit wil kontekstualiseer vir onsself, dan gaan ons moet sê dat, níe net het die Here ‘n appél op die seksuele lewens van sy volgelinge nie, maar die effek daarvan gaan waarskynlik wees dat ons lewens – ook op ‘n seksuele vlak – baie anders gaan moet lyk as die lewens van ander mense wat hulle in die dominante kultuur bevind.

Psalm 66 & 67

Ek lees vandag se 2 Psalms en ek kan nie help om te dink aan wat die teoloog N.T. Wright in sy kommentaar oor die Psalms skryf nie.

Hy sê daar is in wese net 2 wêreldbeelde. Die eerste een is die van die Psalms. Hiervolgens is God – die monotheïstiese Skepper – intens betrokke by sy skepping, al verstaan ons nie aldag waarmee of tot in hoe ‘n mate nie.

Daarteenoor staan die wêreldbeeld van Epicurus – wat populêr gemaak is deur die Romeinse digter Lucretius. Hiervolgens is die wêreld nie geskep deur god/gode nie – en indien wel, staan hulle nou veraf en onbetrokke van die skepping.

Hierdie wêreldbeeld het tydelike verligting gebring van die alewige vrees vir straf wat mense gehad het. Maar dit het niks gedoen om hoop vir mense te gee en om sinvolheid aan hul bestaan te gee nie.

Epicureanisme beleef ‘n groot oplewing in vandag se sekulêre wêreld. Ons dink dit is hiper-modern om so te dink. Maar eintlik is hierdie wêreldbeeld so oud soos die berge.

Die Psalms – en veral vandag s’n – bring ons voor ‘n keuse te staan: Glo ek dat God inderdaad betrokke is en met ons lewens êrens heen oppad is?

Dan 1 (20 Jul)

Daar is druk op Daniël en sy vriende om te konformeer. Die druk kom van die koning af en hy wil hê hulle moet “inpas”. Hierdie tipe druk klink bekend. Van oraloor is daar druk op gelowiges om nie so “volksvreemd” in vandag se tyd te wees nie – selfs om kernwaardes te laat gaan – en dit word oor die boeg van “verdraagsaamheid” gegooi.

Wat ek by Daniël sien is sy rotsvaste beginsels. Maar ook sy beleefde manier van praat met Aspenas – wat vir alle praktiese doeleindes die vergestalting van die onderdrukking is.

Mag die Here ons ook volgelinge maak met rotsvaste beginsels – maar ons die wysheid gee hoe om hierdie beginsels met die grootste respek te kommunikeer aan mense wat anders dink as ons.